|
‘n Grootskaalse poging word aangewend om die SA Vlaamperdras se genebron uit te brei en die gehalte van die ras te verbeter. Hierin speel doelgerigte teling en die benutting van geskikte teelmateriaal “van buite” ‘n wesenlike rol.
Hoewel hierdie ‘n inheemse tipe perd is wat reeds langer as ‘n eeu in die land bestaan, is ‘n telersgenootskap eers 25 jaar gelede in die lewe geroep. Die aantekening van perde word derhalwe oor ‘n relatief kort tydperk toegepas.
Prof Frans van der Merwe, een van die land se bekendste perde-ghoeroes, het in der waarheid in ‘n artikel sy spyt uitgespreek oor die feit dat daar nie dekades gelede al begin is om perde van hierdie mooi ras en hul stambome te dokumenteer nie.
Die ras se genebron is dus nog baie klein en daar kan nie genoegsaam in die vraag na teelmateriaal voorsien word nie.
‘n Genootskap wat groei
Die voorsitter van die betrokke rasgenootskap, Marius Kemp, sê gelukkig word dit amptelik nog as ‘n ontwikkelende ras erken wat in ‘n groeistadium verkeer – een waarin nuwe aktiewe toetreders tot die genootskap verwelkom word en waarin enige perd in die eerste fase van die hulpstamboek aanvaar word, maar waarvan die dier aan die minimum rasstandaard voldoen.
Hierdie ras is reeds deur die SA Stamboekvereniging as ‘n volwaardige ras erken en sedert die rasstandaarde hersien en afrigtingsmetodes in die algemeen verbeter is, sluit nuwe lede gereeld by die rasgenootskap aan.
Die SA Vlaamperdkuddeboek bestaan uit ‘n hulpstamboek-afdeling en ‘n afdeling vir ten volle geregistreerde diere. Diere in die hulpstamboek kan mettertyd tot volwaardige, ten volle geregistreerde diere opgegradeer word.
Daar is ‘n verskil!
Baie oningeligtes glo dat “die Fries en SA Vlaam tog maar eintlik dieselfde ras is” en Kemp hoop dat hierdie persepsie so gou moontlik uit die weg geruim sal word. Die oorsprong van die Fries is tog in Europa en dié van die SA Vlaam op hierdie kontinent, sê hy.
Kemp beklemtoon dit dat die genootskap spesifiek na ‘n ligter-geboude en fyner tipe perd as die Fries streef. Boonop moet hy ook skoner en fyner van been wees. Die SA Vlaam beskik ook oor ‘n fyner kop as die Fries en sy agterkwart-aanhegting is ook beter.
In die algemeen het die SA Vlaam ‘n flinker manier van beweeg en beskik dit oor ‘n hoër aksie as die Fries. Op die skoubaan word perde van hierdie ras ook skoongeskeer en sonder maanhare vertoon. Die SA Vlaam is veral bekend as ‘n kar- en waperd in die tuig en met hulle bekende grasieuse styl en hoë aksie, is hulle die lieflinge van menige skoubaan.
Ook ‘n ryperd
Sedert sy eerste ontwikkelingsjare is hierdie uiters mak perd as uiters geskikte ryperd vir onder meer plaaswerkdoeleindes gebruik. Om hieraan gestalte te gee, word daar reeds vir etlike jare op sy nasionale kampioenskappe, wat jaarliks op Moorreesburg gehou word, om ‘n grootkampioenskap vir ryperde meegeding.
Volgens Kemp is die mark vir goeie ryperde van dié ras egter onderbenut. Daarom probeer die genootskap om die ryvermoëns van die perde al hoe meer te propageer en lede aan te moedig om van hulle as sulks aan te wend.
Uiteraard kan daar in teling en seleksie egter nog nie gespesialiseer word vir óf tuig- óf ryperde nie, sê Kemp. Dalk kan van hulle ook nog in die dresseersport uitmunt, glo hy: “Die doel is egter om ‘n veeldoelige perd te teel.
“Weens hul mooi geaardheid kan hierdie perde so te sê deur die bank vir ‘n eerste keer net opgesaal en dan sonder veel inspanning gery word. Van die perde is net drie keer opgesaal en dan is daar só met hulle geskou.”
Sedert sy ontwikkelingsloop in die 19de eeu uit die gesogte Hantamperd en ander plaaslike merries, het hierdie swart perde reeds deel van ons land se perde-erfenis geword. Daarom is dit verblydend dat ‘n relatief klein groepie perdeliefhebbers hierdie ras help handhaaf en steeds as ‘n ontwikkelende ras uitbou.
|