|
‘n Union Jack en die Transvaalse Vierkleur wapper langs mekaar voor die padstal langs die besige R44 in die Agter-Paarl, terwyl ‘n rooi ster flikker om reisigers nader te roep. Te midde van ‘n motorgedruis ry hier soms ook nog ‘n perd- en muilrytuig met besoekers na die naburige wynplaas.
“Dit alles is ter wille van die herdenking van ‘n perderytuig-erfenis wat in 1873 op Wellington, slegs 10 km hiervandaan, beslag gekry het,” vertel dr Johan van der Merwe wat met sy vrou, Julie, hier hulle Red Star Padstal bedryf.
Sedert diamante by Kimberley en goud later verderaan ontdek is, was hierdie vervoerbesigheid, genaamd Gibson Brothers Red Star Line, van John Alexander Gibson en twee van sy broers, ‘n miernes van bedrywighede. Dit was ‘n uiters professionele onderneming met sowat 2000 aflos-perde en -muile wat passasierskoetse vanaf Wellington na die noorde getrek het – tot 12 voor ‘n rytuig.
Talle perdestalle is elke 8-10 myl oral langs die roete na Kimberley en later ook na die Witwatersrand opgerig, waar vars perde en muile hulle maters vervang het. Daar was by die 500 personeellede aan diens op die soms onheilspellende roete.
Mettertyd is die Red Star Line ook na ander uithoeke van Suidelike Afrika – sover as Barberton, Durban en Port Elizabeth, en veel later ook na die eertydse Salisbury, Bulawayo en Betsjoeanaland – uitgebrei.
Die begin van groot dinge
Dit alles het in 1871 begin, toe die 25-jarige John Alexander Gibson (voorheen verbonde aan ‘n leerhandelsbesigheid in Londen) en sy ouer broer, James K Gibson, ná ‘n 38-dae-lange rit met die passasierskip, Roman, in Tafelbaai aangekom het.
Daarná het ‘n perdekar hulle op ‘n rit van 23 dae geneem na die destydse Colesberg Kopje (eers later Kimberley genoem). Die tekortkominge van die Inland Transport Company was net te veel om ‘n doeltreffende pos- en reisigersvervoerdiens te lewer. ‘n Afstand wat in 12 dae met muilwaens voltooi moes word, het soms 2-3 weke oor die vlaktes na die Diamantvelde geduur.
Die Gibson Brothers Red Star Line is gevolglik in die lewe geroep en in ‘n eerste stap, is perdestalle langs die volle roete opgerig. Daar is met ‘n enkele koets per week begin en weens die goeie diens, moes vier koetse kort daarná weekliks vanaf Wellington vertrek. Van hulle gewildste rytuie was die plaaslik vervaardigde verewa, en die ingevoerde Abbot-Downing en New Hampshire Stage Coaches.
Die Gibsons se ondernemingsgees en professionaliteit het die swanesang van die Inland Transport Company beteken. Johan verduidelik dat die Gibsons, tot in ‘n sekere stadium, ‘n diens kon lewer wat altyd aan die voorpunt van verdere spoorwegontwikkelinge gebly het.
Toe die spoorlyn Kimberley bereik, was hulle reeds aan die gang met ‘n koets-en posdiens na Pretoria.
Nuwe vennote
Ofskoon hulle van meet af talle probleme met die owerhede in die Zuid-Afrikaanse Republiek ondervind het, is dit tog mettertyd te bowe gekom en het hulle nuwe vennootskappe met Henry Nourse, en later ook met Kaptein Dow en George Heys & Co, gesluit. Dit het tussen 1886 en 1892 tot ‘n uiters doeltreffende diens tussen Kimberley en Johannesburg gelei.
Vervoeraktiwiteite het só uitgebrei, dat tot 14 koetse op ‘n weeklikse grondslag tussen die twee gebiede geloop het. Hierdie rytuie kon elk 16-20 passasiers akkommodeer. Die afstand van ongeveer 500 km is in 50 uur afgelê en sowat ‘n duisend perde en muile is vir hierdie taak gebruik.
Toe die spooraktiwiteit vanuit die Kaap tot by Johannesburg in bedryf kom, het die Gibsons ‘n tremdiens tussen Kimberley en Beaconsfield ingestel. Die trems is aanvanklik deur perde en later deur stoomlokomotiewe getrek.
Johan beklemtoon dit dat dit in huidige moderne tye haas onmoontlik is vir ‘n mens om jou in te dink aan al die ontberinge wat perde, muile, personeellede en natuurlik die reisigers op die lang, soms byna onbegaanbare roetes vanaf die Kaap tot in die noorde moes deurstaan. Om onaangenaamhede soos koue en oorstromings te probeer uitskakel, het die Gibsons in ‘n stadium selfs hulle eie pont oor die Oranjerivier gebou.
Ná 1892, toe die broers ‘n poskoetsdiens ingestel het vir die vervoer van belangrike staatsdokumente tussen Johannesburg en Pretoria, is hulle onderneming geleidelik uitgefaseer. Dat hierdie ondernemende broers hulle name in groot letters in die annale van die land se geskiedenis gelaat het, is gewis. Kort voor die Anglo-Boere-oorlog het hulle ook nog oor ‘n beesboerdery net buite Johannesburg beskik.
Van toeka tot nou
Dis nou meer as ‘n eeu later en ‘n besoeker aan die snoesige Red Star Padstal in die Agter-Paarl, kan op ‘n koue wintersdag aan ‘n koppie warm koffie teug, terwyl Johan die Gibson-verhaal opdiep uit ‘n keur van foto’s en ander geskrifte teen een van die padstal se mure.
Om hierdie nostalgiese episode uit ons verlede meer tasbaar te beleef, kan die publiek ook ‘n rit op ‘n rytuig meemaak. Dit word deur muile of perde getrek tussen dié padstal en die nabygeleë Crow’s Nest Wynlandgoed. Ofskoon gereelde ritte van hierdie aard in die nabye toekoms oor naweke beoog word, kan dit vir eers egter slegs met vooraf-bespreking gereël word.
Baie nostalgiese oomblikke uit hierdie tydperk langs die sogenaamde “vergete grootpad” het saam met die verlede verdwyn. Van die grootste onopgeklaarde raaisels is waarom die rooi ster so prominent aan hierdie eens florerende vervoeronderneming verbind is.
Diegene wat dalk lig hierop kan werp, meer besonderhede oor die Gibsons het of inligting oor hierdie besonderse padstal wil bekom, kan gerus vir Julie van der Merwe kontak by 021 869 8500 of 082 378 6926.
|