|
Die ontwikkeling van ’n atleet is gebaseer op aanpassing. Dis ’n proses waartydens die perd sy liggaam se vermoëns gebruik om homself te verander, om soortgelyke uitdagings in die toekoms beter te kan hanteer. Hierdie verandering lei tot sterker spiere, groter soepelheid, beter weerstand teen siektes, sterker hoewe, dikker en sterker bene, ’n taaier vel, sterker hart en groter longkapasiteit.
Die liggaam pas makliker aan as die uitdagings gereeld herhaal word en geleidelik groter word. ’n Mens moet die liggaam kans gee om by 'n uitdaging aan te pas voordat jy dit opvolg met ’n nuwe en groter uitdaging.
Belangrik is dat ’n enkele groot uitdaging (as jy jou perd net een keer ’n week oor ’n lang afstand ry) tot niks anders as beserings lei nie en van die perd ’n suurknol maak. Die sleutel tot aanpassing lê in die aantal uitdagings en nie in die omvang van enkel uitdagings nie. Een lang werksessie kan nooit die plek inneem van ’n reeks korter werksessies met geleidelike vermeerdering in werk nie.
Vlakke van uitdaging
Die tyd wat dit neem om aan te pas, hang af van die vlak van uitdaging. Hou mens dit binne aanvaarbare vlakke, volg aanpassing in 2-10 dae. Druk mens tot op die vlak van uitputting, lei dit tot verswakking wat herstel vereis, terwyl ooreising onvermydelik lei tot rus en genesing, wat dalk nooit ten volle plaasvind nie.
Hoekom ontwikkel die verskillende dele van die liggaam nie almal teen dieselfde tempo nie? Dit lyk asof ’n belangrike deel van die antwoord lê in die beskikbaarheid van suurstof en voedingstowwe vir die selle in die liggaam. Binne elke sel is daar ’n klein struktuurtjie (mens noem dit mitochondria) wat energie aan die sel verskaf.
Hoe meer daarvan binne die sel is, hoe meer suurstof kan deur die sel uit die bloed onttrek word. Wanneer selle blootgestel word aan uitdagings, word die mitochondria in die selle groter en vermeerder hulle en kan selle beter funksioneer.
Liggaamsweefsel wat meer selle het, en wat beter bloedvoorsiening het, pas die maklikste aan. Voorbeelde hiervan is spiere, die brein, die lewer en bloed self. ’n Middelmatige hoeveelheid selle kom voor in longe, bloedvate en die vel, en die minste aantal selle kom voor in been, spierpese en ligamente, wat die minste aanpasbaar is.
Die laaste kategorie verloor selle soos hulle ouer word en hul aanpassingsvermoë neem dan af. Belangrik dus dat mens reeds begin bou as die perd nog jonk is.
Die tipe uitdaging bepaal watter weefsel moet aanpas; die tipe weefsel bepaal weer die tempo en graad van aanpassing. Dit vorm die basis van ’n verstandige oefenprogram – om die perd te ontwikkel tot op die vlak wat nodig is vir JOU beplande toekomstige prestasie, maar teen die tempo wat deur SY liggaam bepaal word.
Ander faktore
Natuurlik speel ander faktore ook 'n rol. Die perd waarmee jy begin is ’n uiters belangrike faktor, en daar is ’n groot verskil tussen die “opgepiepte” troetelperd wat op stal grootgeword het en die “vergete” perd wat op die veld grootgeword het. Ouderdom speel ook ’n rol. Ouer perde wat aan meer uitdagings blootgestel was (maar nog nie uithouritte gery het nie), is ook beter gekondisioneer as jong stalperde. Mens kan vinniger werk met veldperde en ouer perde, MAAR KONDISIONERING IS STEEDS NODIG!
Dis onmoontlik om ’n resep vir die kondisionering van perde op te stel. Waarneming deur en ondervinding van baie mense wat intens by uithouritte betrokke is, gee telkens dieselfde antwoord: Dit gaan drie tot vier jaar se bouwerk verg om die perd in ’n mededingende uithouritperd te ontwikkel wat jaar na jaar kan deelneem en presteer.
Jong perde wat te gou te hard gewerk word, presteer dalk aanvanklik goed, maar verdwyn vinnig van die toneel. Lees gerus die artikels oor die ontwikkeling van spierpese en been elders in hierdie uitgawe.
Begin lig
’n Mens moet jong perde liggies begin werk. Kondisioneer die jongeling se fisiese vermoë, maar hou sy beperkinge in gedagte. Die beste is om jou oefenprogram te begin met die klem op lang, stadige werk op relatief harde oppervlaktes. Stap hom vir die eerste paar weke.
Moenie jong perde in ’n ring werk nie, want spiere, ligamente en spierpese kry te maklik seer. Moenie te gou op sy rug klim nie. Lei hom aan ’n halter terwyl jy self op ’n volwasse perd ry. Begin dan met ’n ligte sandsak wat geleidelik swaarder word en huur dan ’n ligte jokkie.
Soos wat hy ouer word, moet die oefenprogram geleidelik in intensiteit toeneem. Voeg groter uitdagings by ten opsigte van spoed, soepelheid, stamina en krag, maar moenie alles op een slag vermeerder nie. Gaan een dag bietjie verder, ’n ander dag bietjie vinniger, ’n ander dag met bietjie meer gewig.
Moenie bang wees om ’n tree of wat terug te gaan as hy nie reageer soos wat jy verwag het nie, en dan weer geleidelik die druk hoër te maak nie. Moenie elke dag hard werk of selfs werk nie. Lees jou perd, want hy gaan nie elke dag dieselfde of beter as die vorige dag wees nie.
As jy werklik wil presteer, is dit beter om met 'n jong perd te begin en hom van jongs af geleidelik en geduldig groot te maak, as om die buurman se agt jaar oue "harde" veldperd te koop wat nog nie gery (en nog nooit 'n uithouritbaan gesien) het nie.
|