Login / Register You are not logged in.

Featured ads

How can I feature my ad?

’n Basis vir goeie interaksie
deur Paul van Dam

Dis 'n vaste geloof by baie dat dit noodsaaklik is om vullens so gou as moontlik na geboorte te hanteer. Baie beroep hulle op die ou Arabiese geskrifte wat meld dat die vul by geboorte in die arms van die merrie se eienaar moet val.

Die sogenaamde tegniek van imprinting is ook op hierdie beginsel geskoei, terwyl ander weer glo dat mens die vul na geboorte moet lei na sy ma se uier om die eerste keer te drink. Maar is dit werklik goed om dit te doen?

Studies is onlangs by die Universiteit van Rennes in Frankryk gedoen om te bepaal wat die uitwerking van vulhantering binne 'n uur na geboorte werklik is. Hulle bevindinge plaas dié onderwerp in 'n totaal nuwe lig.

Wat die vul wil hê

Meeste vullens wat binne 'n uur na geboorte hanteer is, was geneig om daarna nader aan hulle moers te bly. Hulle het mense met meer wantroue benader, het minder belang gestel in hulle omgewing en swakker met ander vullens gesosialiseer, wat daarop dui dat vroeë hantering hulle minder veilig laat voel het.

Daarenteen het vullens wat nie self hanteer was nie, maar gesien het dat mense saggies en oordeelkundig met hulle moers gewerk het, mense makliker aanvaar en vertrou.

Prof Severine Henry, een van die navorsers, sê dat alles wat op 'n baie jong ouderdom met vullens gebeur, permanent in hulle geheue vasgelê word en hulle gedrag vir die res van hul lewe beïnvloed.

"Hou mens perde dop," sê sy, "sal jy gou agterkom dat hulle hul aangetrokkenheid tot mekaar op 'n minder fisiese manier wys. Dit verskil van mense en ander diere, wat meestal aangetrokkenheid deur fisiese kontak probeer versterk."

Daarom is die vashou en hantering van vullens, selfs al word hulle net saggies gestreel, op vroeë ouderdom onnatuurlik en kan dit as negatief deur die vul interpreteer word. Om vullens na die uier te bring en vas te hou terwyl hulle drink, het die sterkste negatiewe gevolge gewys – 'n aanduiding dat die vullens nie daarvan gehou het dat hulle beweging ingeperk word nie.

Henry se aanbeveling is dat mens kontak met die vul moet vermy tot 'n latere stadium, nadat die vul 'n natuurlike band met sy moer gevorm het. Sy sê verder: "Laat die merrie en vul toe om eers op natuurlike wyse 'n band te vorm en gebruik hierdie, saam met jou goeie verhouding met die merrie, as die basis vir latere interaksie met die jong perd."

Voorwaar stof tot nadenke!

Top of page

Copyright © 1998 - 2012, Horse Junction. All rights reserved.