Die uithouritperd is uniek onder ons perde-atlete. Langdurige energie en intensiewe hitte-uitgawe oor onegalige terreine is hierdie atlete se voorland. Die uithouritperd se prestasie word direk deur die gehalte van sy voerprogram beïnvloed. Maar goeie gehalte hooi en hawer is nie noodwendig voldoende vir bogemiddelde resultate nie.
Ongeveer 80-90% van voerinname word gebruik om energiebehoeftes te bevredig. Energie word gebruik vir die meeste chemiese prosesse in die liggaam, en veral om spiersametrekking tydens oefening te dryf. Daarom is dit belangrik on genoeg energie in die eetplan te verskaf. En die hoofkoolhidraatbron is afkomstig van bronne soos hooi, weiding, grane en molasse.
Vet in die eetplan
Olies en vette in voer is ideale bronne van energie vir uithouritperde, en bevat 2,25 keer meer energie as 'n gelykstaande porsie graan. Voervette is ook wetenskaplik bewys as voordelig vir langdurige werksverrigting, aangesien die liggaam tydens lang ritte, teen matige intensiteit, meer op vetreserwes staatmaak vir energie.
Die insluiting van vet in die dieet verhoog die liggaam se vermoë om vetreserwes te mobiliseer vir energie, en lei daardeur tot besparing van glikogeen (glukose) reserwes in die spier, wat dan by voorkeur gebruik kan word vir meer intensiewe energieverrigting. Interessant is ook dat die Arabier baie meer doeltreffend is in die mobilisering en gebruik van vet as energiebron as die Volbloedras.
Daar is verskeie vetbronne, waarvan plantolies die algemeenste is. Olies kan tot teen 15% van totale dieet gevoer word, en die tipe olie kan verdere verfyning tot die dieet bring.
Die oorblywende 10-20% van die dieet word gebruik om sellulêre prosesse in die liggaam te dryf, waarvan proteïen die hoofnutriënt is. Vitamiene en minerale speel 'n belangrike rol in metabolisme, maar in baie kleiner hoeveelhede.
Voedingstowwe
'n Gewone dieet van hooi en hawer sal nie in al hierdie elemente voorsien nie, en daarom is 'n kommersiële rantsoen wat teen die voorgeskrewe hoeveelheid gevoer word voordelig, aangesien hierdie rantsoene geformuleer is om die nutriëntprofiel van 'n gebalanseerde dieet aan te vul.
Let egter op dat die voorgeskrewe voerinnames van meeste kommersiële rantsoene te veel energie aan Arabierperde verskaf, wat dan lei tot gewigstoename en oorentoesiastiese, onbeheerbare perde! Perde wat dus minder gevoer word van die kommersiële rantsoen, skiet moontlik tekort aan proteïen, vitamiene en minerale wat deur die hooi as basis aangevul moet word. Eerste keuse is dus 'n dieet met goeie gehalte hooi as basis, en 'n kommersiële voer wat spesiaal vir uithouritperde geformuleer is. 'n Verdere opsie in die plek van 'n kommersiële voer, is om mielies en hawer te voer, aangevul deur 'n proteïen-, mineraal- en vitamienaanvuller. As proteïen genoegsaam in die totale dieet is (en onthou dat 'n uithouritperd verkieslik 10% proteïen in sy dieet moet hê), kan 'n goed-gebalanseerde vitamien- en mineraalaanvuller soos Equisupreme Enduro gevoer word om die tekorte aan te vul.
Aanbevole aanvullings
Uithouritperde se hoewe is blootgestel aan lang ure op die pad, en word dikwels gereeld beslaan. Ander perde is doodgewoon nie gebore met harde, weerstandige hoewe nie. Vir al hierdie gevalle kan 'n goeie hoefaanvulling met biotien, sink, jodium en metionien voordelig wees.
Spiere: Gedurende konstante spiersametrekking word vry radikale (afvalprodukte van suurstofmetabolisme wat selkomponente en spierselle kan beskadig) vrygestel. Spesifieke nutriënte soos vitamien C en E asook selenium, is sleutel antioksidante wat hierdie vry radikale elimineer. Hierdie nutriënte werk saam om spierstyfheid en spierpyn te verminder, en optimum werksprestasie te beding. Magnesium is ook nodig vir senuwee en spierfunksie, en is baie voordelig in 'n hardwerkende uithouritperd rantsoene.
Anti-oksidante is ook belangrik om die immuunstelsel te ondersteun. Harde oefening belas en onderdruk die immuunstelsel. Liggaamselle het spesifieke nutriënte nodig om te verdeel en immuunliggaampies te produseer. Verskillende ensieme in immuniteitsselle benodig spesifieke nutriënte, en kritiese rolle is toegeken aan sink, yster, koper, selenium en vitamiene A, B6, C enE. Uithouritperde het in meeste gevalle 'n aanvuller nodig.
Maagbeskerming: Die uitdagings en roetine van oefening asook stallering meng dikwels in met die natuurlike weipatrone, en gevolglik ook met die natuurlike buffer-aksie van die maagwand. As 'n perd simptome soos afname in prestasie, negatiewe houding, tande kners, gewigsverlies en of afname in aptyt toon, mag die perd las van maagsere hê.
Maksimum weidingstyd is ideaal vir die voorkoming van maagsere en sooibrand (in natuurlike omstandighede wei 'n perd omtrent 16 ure per dag), maar meeste kompetisieperde is blootgestel aan vervoer, stresvolle kompetisie-omstandighede, afwyking van normale voerprogramme, lang stalleringstye en lang kompetisie-deelnametyd met beperkte voerinname. Vir hierdie perde word maagbuffers soos Equisupreme Gastro-Eeze aanbeveel om die simptome en vorming van maagsere te verlig en te verhoed.
Elektroliete is elektries-gelaaide minerale (ione) wat binne en buite liggaamselle voorkom. Elektroliete speel 'n belangrike rol in die handhawing van osmotiese druk, waterbalans en spieraktiwiteit. 'n Perd sweet om van oormatige liggaamshitte wat in die spiere opbou, ontslae te raak. Perdesweet bestaan uit water en 'n hoë konsentrasie elektroliete.
Oefening veroorsaak 'n opbou van liggaamshitte en gevolglik sweet. Die sweetproses veroorsaak weer verlies van essensiële elektroliete soos natrium, kalium en sodium, wat benodig word vir top prestasie.
Ander faktore soos die stres van 'n onbekende omgewing, lang vervoertyd of staan in 'n warm stal kan ook sweet- (elektroliet-) verlies veroorsaak. Sweet met verlies van elektroliete kan tot uitputting, vertraging en verlaging van waterinname en spierswakheid lei. Onder verlengde werkverrigting of stresvolle omstandighede, kan verlore elektroliete nie vervang word deur die daaglikse inname van hooi en graan nie.
Die hoeveelheid sweet in 'n uithouritperd is baie meer as enige ander sportperd, en die werklike volume is moeilik waarneembaar. Gedurende matige oefening word 8-15 liter sweet per uur verloor.
Aangesien elektrolietbalans belangrik is vir maksimale prestasie, is vervanging van elektroliete uiters noodsaaklik. Gedurende uithouritte word kalsium en magnesium ook in groot genoeg hoeveelhede in sweet verloor (sien Tabel 1) en kan lei tot metaboliese kondisies soos verhoogde polse, onegalige hartritmes, spiertrilling, krampe en "thumps".
Spesifieke elektroliete kan gedurende kompetisie gegee word, maar dit mag ook nodig wees om dit in die daaglikse dieet van uithouritperde te voorsien. Hooi is 'n goeie bron van kalium, en daarom beveel ek aan dat uithouritperde daagliks gewone growwe sout teen 30-60 gram per dag eerder as 'n elektrolietaanvuller kry.
Let op dat soutblokke nie voldoende is nie, aangesien daaglikse innames baie wissel en soutaptyt nie genoegsaam is om verliese aan te vul nie.
Kalium in uithouritperde?
Uithouritdeelname kan lei tot aansienlike water- en elektrolietverliese, wat kan lei tot kliniese simptome verwant aan verhoogde senuwee- en spierhiperaktiwiteit soos nie-konstante hartritmes, spierkrampe, bewing en verlaagde dermklanke.
Wanneer plasma (bloedvloeistof) kaliumvlakke verhoog soos gebeur tydens intensiewe oefening, is daar 'n samelopende verhoging in spier- en senuweehiperaktiwiteit. Navorsing het getoon dat plasmakalium verhoog van die begin tot en met die 56-km punt, waarna dit verlaag en van daar beduidend daal tot aan die einde van die rit.
Nog 'n belangrike bevinding was dat plasmakalium beduidend laer was by die 80-km merk en tydens herstel in perde wat kaliumvrye elektroliete pleks van kaliumryke elektroliete gekry het. Let op dat in perde wat kaliumryke elektroliete gekry het, die verhoging in plasmakalium matig was en nie hoog genoeg was om kliniese senuwee- en spiersimptome te veroorsaak nie.
Die Kentucky Equine Research Facility in Lexington, VSA, ondersteun die mening dat lae kaliumelektroliete voor 'n rit gegee moet word om die voorkoms van senuwee- en spiersimptome te verminder, en dat elektroliete met kalsium en magnesium gedurende die rit aangevul moet word.
Vir 'n natuurlike bron van kalsium en kalium, beveel ek lusernhooi wat in water geweek was, by die veeartskontrole punte aan.
Praktiese voorsiening
• Gebruik elektrolietpoeiers wat laag in suiker is en die samestelling van perdesweet naboots. Voer goeie gehalte hooi om genoegsame kalium te voorsien, en voer 30-60 g sout per dag of 15 g growwe sout gemeng met 15 g Equisupreme Endurolytes.
• Voer na 'n rit 140-200 g Equisupreme Endurolytes om elektrolietverliese (ook kalium) op te maak.
• Tydens 'n rit is die goue reël dat 30-60g elektroliete benodig word vir elke uur van oefening. Gedurende 'n dagrit van omtrent vier ure lank, sal 240g elektrolietmengsel benodig word waarvan 'n gedeelte gedurende die rit (30-60 g by elke kontrolepunt) en die res na die rit as poeier in die kos verskaf word binne 'n 24-uur tydperk.
• Wees baie versigtig vir die gevare van elektrolietaanvulling. Gekonsentreerde poeieraanvulling kan lei tot brand van die maagwand en tot dehidrasie.
• Ek beveel aan dat poeiers in appelsap of jogurt gemeng word, en saam met 'n maagteensuurmiddel (10 ml) toegedien word. Alternatiewelik kan Equisupreme se nuutste elektrolietpasta gebruik word, of elektroliet-gel kan gebruik word en by kontrolepunte aangevul word met lusern asook lou drinkwater wat twee teelepels sout per liter water bevat.
Baie belangrik: Wanneer elektroliete aangebied word, is dit noodsaaklik dat die perd genoeg water drink, anders word waardevolle liggaamswater na die dermkanaal getrek wat die perd verder dehidreer. Onthou, soos met alles is balans die sleutel tot sukses.