Ons het in die vorige artikel gesels oor wat my liggaamstaal vir my perd sê. Wanneer ek geleer het wat die perd se liggaamstaal beteken, is dit maklik om te weet wat die perd vir my wil sê. As jy in die veld 'n trop perde dophou, sal jy sien dat hulle duidelike tekens aan mekaar gee. 'n Perd wat sy ore plattrek, het hom vervies, heel waarskynlik vir 'n ander perd. Het jy al gesien hoe 'n perd met platgetrekte ore 'n hond jaag? So 'n hond moet hardloop dat dit klap, anders kry hy sommer 'n byt.
Lees sy gesig
'n Perd se gesig vertel baie van hoe hy op die oomblik voel. 'n Mens kan sien of hy gespanne of op sy gemak is. Wanneer sy onderlip styf onder sy bolip ingetrek is, is hy baie gespanne, maar as sy onderlip so bietjie oophang, is hy ontspanne. Oppas net! Stokou perde kry nie meer hulle onderlip toe nie. Die ontspanne perd se neusgate lyk soos 'n ses (6) en 'n omgekeerde ses.
Wanneer die neusgate op skrefies getrek is, is die perd woedend. Groot oopgerekte neusgate beteken dat die perd vinnig asemhaal, hy is dalk moeg of hy het dalk asemnood. 'n Oog wat rol en waarvan mens die wit gedeelte eerste raaksien, is 'n oopgerekte oog wat daarop dui dat die perd verskrik of bang is. Dit is nie veilig om so 'n perd sommer te ry nie.
'n Ervare perdemeester kan diep in 'n perd se oog kyk en die perd se temperament bepaal. Temperament beteken of die perd kalm en rustig, of gespanne, skrikkerig en angstig is. 'n Angstige perd se hart klop vinnig en baie bloed vloei deur die fyn aartjies in die oog, daarom het die oog 'n rooi skynsel. 'n Perd met 'n goeie temperament wat kalm van geaardheid is, se oog gee 'n koel gevoel en die idee van 'n blou skynsel om die bruin van die oog.
Perde wat baie liefde ontvang en dus baie gelukkig is, se oë word groot, mooi en blink. 'n Perd wat verwaarloos en eensaam is, se oë word kleiner en dowwer.
Kyk na sy ore
Wanneer ons op ons perd ry, weet ons waar ons perd se aandag is, deur na sy ore te kyk. As albei ore spits na voor gerig is, weet ons hy kyk en luister na iets voor hom. Wanneer een oor na agter gerig is en een oor na voor, gee die perd aandag aan sy ruiter, maar ook aan wat voor hom gebeur. 'n Perd wat op sy gemak is en nie veel geïnteresseerd is in wat om hom gebeur nie, se ore hang effens na weerskante – die kwart-oor- nege posisie.
Ons sien soms dat 'n perd kop hoog hou en sy bolip omkrul. Gewoonlik doen hulle dit om beter te ruik maar Le Zar, ons leiermerrie op Mooikrans, doen dit wanneer ons haar neus kielie. Sy het al gesien ons lag daarvoor en nou doen sy dit sommer net om snaaks te wees.
Perde wat hulle tande wys, is bitter gevaarlik en mens moet vinnig uit hulle pad kom. Dit gebeur egter selde en 'n perd moet na uiterstes gedryf word voordat hulle tot aggressie oorgaan. Onthou dat die perd eerder sal vlug as om aan te val.
Die skop-waarskuwing
Perde skop selde na mense. Gewoonlik is die skop bedoel vir 'n ander perd en dan was jy toevallig in die pad. Die eerste teken is gewoonlik dat hy sy boude na die teiken draai as 'n waarskuwing. Die ore sal ook platgetrek wees. Dan kan hy mik-mik om te skop. Die laaste waarskuwing is die stert wat swiep. Daarna volg die skop blitsvinnig.
Dikwels dink mense 'n perd wat met sy een agterbeen op rus staan, maak gereed om te skop. Jy moet na die hele prentjie kyk om te weet wat jou perd se gemoedstoestand is. As sy kop hang, laer as sy kambeen, die ore om die kwart-oor-nege posisie en die een voet op rus, is hy op sy gemak. As die ore platgetrek is, die een been opgetrek en 'n stert wat swiep, kan jy maar weet hier kom 'n skop.
Perde wat met hulle voorpote op die grond kap doen dit soms om vlieë weg te jaag. Wanneer hulle vreet en teen hulle bak kap, is dit maar net 'n oorblyfsel uit die oertyd toe perde bossies met hul pote losgekap het om die wortels te vreet.
Wanneer jy jou perd opsaal moet jy jou voete weghou van daardie voorpote af. So 'n poot kan seer kap! Sommige mense meen dat perde doelbewus na jou voet mik en jou probeer raak trap. Ander sê weer perde sal dit nooit doen nie. Ek sal graag wil hoor wat is jou ervaring en opinie hieroor. Laat weet my deur 'n e-pos te stuur aan elna@mooikrans.co.za.
Leer jou perd om nie te skop nie
Om jou perd af te leer om te skop, word gedoen volgens die beginsel van druk en beloning. Neem 'n lang swepie en druk teen die perd se agterpoot. Indien die perd geneig is om te skop, sal hy daarna skop. Hou egter die swepie steeds in posisie en laat die perd aanhou skop. Sodra hy ophou skop en die swepie teen sy been aanvaar, moet jy dit wegneem.
Deur die sweep teen sy poot te hou, plaas jy druk op die perd. Wanneer hy die gewenste gedrag toon, deur op te hou skop, beloon jy hom deur die druk af te haal. Volgens die druk-en-beloning-beginsel kan jy jou perd ook gewenste gedrag aanleer, selfs iets soos 'n toertjie. Perde leer baie graag iets nuuts en daarom word hulle sommer baie lief vir hulle leermeesters.
Groete, tannie Elna
Lees meer by www.mooikrans.co.za.