Login / Register You are not logged in.

Featured ads

How can I feature my ad?

Die H-brand vir geHalte
deur Izak Hofmeyr

Hendrik Hancke, beskryf die een geskiedenisboek dit, het met ongeveer 700 merries tussen Bethal en Standerton geboer. Die algemene sentiment in daardie tyd was dat as jy 'n perd met 'n H-brand gery het, dan was jy op 'n goeie perd. Die bekende Fleur van generaal Christiaan de Wet, so word beweer, was ook 'n Hancke-perd.

Vandag is dié geskiedkundige stoet in die hande van die vierde geslag Hanckes. Manie en Mandy Hancke woon steeds op die ou familieplaas in die huis wat Hendrik Hancke in 1912 gebou het. Die stalle is reeds voor die oorlog in 1895 gebou.
Dit is op grond van hierdie geskiedkundige reputasie dat Manie vandag sy oortuiging grond dat die universele perd, soos hy vandag in Boerperdkringe genoem word, in werklikheid die tradisionele perd was en is, en dat wat vandag die tradisionele perd (die hoogtrapper) genoem word, eintlik 'n relatief moderne neiging is.

Oor hoogtrappers
"Ek het my oupa gevra waar die hoogtrappers vandaan gekom het, en hy was oortuig daarvan dat die pogings om die perdestapel weer na die oorlog op te tel, veroorsaak het dat daar baie vreemde rasse ingevoer is, soos onder andere die Vlaamse perd, Hackneys en Friesperde, en dat hierdie hingste wyd gebruik was. Dit is die invloed van hierdie perde wat die smaak vir die hoogtrappers laat ontstaan het."
Na die oorlog in 1903, is weer voortgegaan met die teling van die Hancke-perde op die plaas Sterkfontein, naby Bethal. 'n Klompie perde met die H-brand is bymekaar gemaak waar hulle wild geloop het en die beste beskikbare hingste is gebruik om die telery weer op koers te kry.

"Met die poging om die perdestapel in die land te herstel, het die destydse regering hingsstasies op strategiese plekke tot stand gebring om die boere te help met teling. My oupa het van die hingste op die hingsstasie by Standerton gebruik gemaak. Hulle was hoofsaaklik Engelse Volbloede – mooi perde wat nie net vir die renbaan bestem was nie."

Wenners van formaat
In 1912, tien jaar na die Boere-oorlog, is die eerste skou weer op Ermelo gehou. Manie spog met 'n trofee wat sy oupa Hendrik gewen het vir die beste paar karperde. 'n Medalje vir die beste merrie is ook nog in die Hancke-familie se besit.

Daardie wentradisie is oor die jare voortgesit. Afgesien van verskeie kampioenskappe wat tydens die SA Boerperdkampioenskappe verower is, is die Carel Hancke-stoet ook die enigste SA Boerperd-stoet met verskeie interras-kampioenskappe agter sy naam.

Carel Hancke Geepad was die eerste SA Boerperd wat 'n interras-kampioenskap kon wen. Hy het dit die eerste keer by die Pretoria Skou in 1987 gewen en dié prestasie in 1991 herhaal. In 1997 het Carel Hancke Soldaat in sy vaer se voetspore gevolg en ook die interras-kampioenskap by die Pretoria Skou gewen. Dié is gevolg met die interras-kampioenskap by die Randse Paasskou.
Carel Hancke Singita is aangewys as "Supreme Champion Breed Horse" by die Horse of the Year-skou in Johannesburg, terwyl Carel Hancke Nobel vier jaar na mekaar die top vyf haal in die Horse of the Year-skou se "Supreme Champion Breed Horse".

Kampioene onder die saal
Ook onder die saal is hierdie tradisie voortgesit. Carel Hancke Soldaat het die Gauteng Horse Society se "Novice Dressage Championship" gewen en derde geëindig in die nasionale Sanef dressuurkampioenskappe. Carel Hancke Nobel het ook die "Supreme Champion Show Hunter"-titel op die Horse of the Year-skou verower.

Dan is daar die deelsgeteelde SA Boerperd, Carel Hancke Pamphlet, wat onlangs die Show Riding-kampioenskap tydens die SA Interprovinsiale Kampioenskappe gewen het. Daarbenewens is hy tydens dieselfde kompetisie as Reserwekampioen in die "Show Hunter"-kampioenskap aangewys.
Elke teler, glo Manie, moet binne die eise van sy eie tydvak sy bes doen om 'n dier te teel wat aangepas is by daardie spesifieke omstandighede. Wat hom betref is die eise van die tyd waarbinne hy leef, om 'n perd te teel wat in die ope perdesportwêreld kan meeding. En dis waarop sy telingsprogram toegespits is.

Nie maanskyn en rose nie
Tragedie het die Hancke Stoet in die laat 1990's getref, toe sewe van hulle beste hingste wat saam op stal gestaan het, deur die weerlig geslaan is. Net Soldaat het dit oorleef, maar almal was dit eens dat hy nie sou oorleef nie. Hy was so te sê verlam en blind in albei oë.
Mandy het vyf keer per dag sy oë met jel gesmeer om dit klam te hou, en hom met homeopatiese middels behandel. Na agt maande het Soldaat herstel en sy eerste skou ná die tragedie was die Randse Paasskou.
"Ek kan nie vir jou sê wat dit vir ons beteken het toe hulle oor die luidsprekers afkondig: The Supreme Champion Stallion of the Rand Easter Show is Carel Hancke Soldaat! Praat nou van 'n come-back!"

'n Droë perd
Oor sy teelbeleid is Manie baie duidelik: "My voorouers het die Hancke-perde geteel en gemaak wat hulle is. Ek bou maar net voort op wat hulle my geleer het en selekteer uit dieselfde kudde. My oupa het die woord 'droog' baie gebruik as hulle 'n goeie perd beskryf het – droë kop, droë nek, droë bene.

" 'n Uitgesnyde nek en los gorrel was belangrik. My Pa het altyd gesê 'n kop moet nie lyk asof dit aan die nek geplak is nie – dit moet 'n aaneenlopende lyn vorm. En die Hanckes het nie in swaar bene geglo nie. Droë bene met kort pypbene en lae hakke was baie belangrik."
Verder, sê Manie, moet die perd 'n ordentlike kambeen hê. Sy oupa het vertel dat as hulle 'n berg moes afjaag tydens die oorlog en die saal gly tot op die perd se nek, hulle daar en dan van die perd ontslae geraak het.

"My oupa het geglo in 'n kompakte perd met 'n diep, skuins skouer. Die ou boere het gepraat van goeie blaaie, sodat daar spasie is vir die longe. Hierdie diepte was seker die enkel belangrikste eienskap wat die Hanckes oor jare nagestreef het.
"Hulle het geglo in korrekte beweging. Dit impliseer reguit en lang treë. Die perd moet immers vorentoe gaan.
'n Perd wat dish, was onaanvaarbaar en hy is gediskwalifiseer."
Op die ou end, som Manie op, gaan seleksie oor temperament, die regte konformasie en korrekte beweging: "As dit alles in plek is, is ek oortuig jy kan maar jou dissipline kies – die perd sal dit vir jou doen."
As hy die heel beste perd wat hy nóg geteel het moes kies, vind Manie dit moeilik om vinnig te antwoord: "O, dis moeilik. Tye het so verander. Ou Sieraad, wat vir 14 jaar lank die driegang-kampioenskap gewen het, se invloed in die kudde is baie groot. En dan was daar Geepad wat twee keer interras-kampioen was. En later Soldaat met al sy prestasies, wat ook grootliks onder Mandy se invloed was. Maar as dit oor teelvermoë gaan, dan was Sieraad tops."

Die jongetjies
Dit is belangrik dat die perde wat jou naam in die mark gaan dra, regtig mak is en aan alles gewoond is. Anton Retief is verantwoordelik vir die makmaak en onder-die-saal-sit van die jong perde. Hy, glo Manie-hulle, is die Monty Roberts van Suid-Afrika. Met ongeveer 50 vullens wat jaarliks aankom, is hierdie voorwaar 'n reuse taak, en 'n aspek wat beslis nie afgeskeep kan word nie.

Tans verkoop Manie en Mandy die meeste van die perde uit die hand uit, maar wil toenemend op veilings konsentreer wat hulle jaarliks op die plaas wil aanbied. Voornemende kopers kan hulle skakel by 082 772 5108 of 082 377 4262, of besoek www.carelhancke.co.za

Top of page

Copyright © 1998 - 2010, Horse Junction. All rights reserved.