|
Uithouritperde se belangrikste funksie is om uithouritte suksesvol te voltooi. Hiervoor is energie nodig, wat ingeneem word in die vorm van voer. Perde kan nie voortdurend eet terwyl hulle aan ’n rit deelneem nie, en dus moet hulle gebruik maak van energie wat op een of ander manier in die liggaam gestoor word.
’n Bietjie agtergrond oor die biochemiese prosesse wat in die liggaam plaasvind, is nodig. Elke spier in die liggaam bestaan uit boustene wat selle genoem word. Hierdie selle moet almal saamwerk om só te verseker dat die spier sy funksie verrig.
Die energie wat as deel van die perd se voer ingeneem word, kan nie net so deur die selle gebruik word nie, en moet eers deur die liggaam omskep word in ’n bruikbare vorm. Vir doeleindes van hierdie artikel, sal ons na hierdie bruikbare vorm van energie verwys as “ATP” (adenosien trifosfaat), sonder om julle verder met die res van die biochemie te bemoei.
’n Klein hoeveelheid ATP is deurlopend in elke sel beskikbaar, en dis hierdie energie wat gebruik word om aan die onmiddellike eise wat gestel word, te voldoen. Daarna hang die werksvermoë van die perd af van die spoed waarteen die ATP aangevul kan word. Hierdie kan op twee maniere plaasvind:
• Aërobies, wanneer koolhidrate (insluitend glikogeen), vette (trigliseriede) en proteïene in die teenwoordigheid van suurstof na ATP afgebreek word
• Anaërobies, wanneer glukose of glikogeen na melksuur afgebreek word. Suurstof word nie hiervoor benodig nie.
Perde raak moeg om twee redes. Eerstens, omdat die bron van energie opraak (of omdat die liggaam die beskikbare bronne van energie nie vinnig genoeg in ATP kan omskep nie). Dit gaan gewoonlik gepaard met ander faktore, soos dehidrasie. Tweedens, omdat afbreekprodukte (soos melksuur) wat die werk van die spiere belemmer, in die spierweefsel begin ophoop.
Die invloed van spoed
Natuurlik wil ’n mens graag hê dat die perd so lank as moontlik werk voordat hy moeg word. Die twee belangrikste faktore wat hier ’n rol speel, is die spoed waarteen gery word, en die vlak van voorbereiding van die perd.
Die hoofbronne van energie in die liggaam is:
• Trigliseriede, waarvan ongeveer 5% in die spiere en 95% in vetweefsel gestoor word
• Glikogeen, waarvan ongeveer 95% in die spiere en 5% in die lewer gestoor word.
Die gebruik van energie is direk gekoppel aan die spoed waarteen die spiere moet werk. Tydens matige oefening (stap en draf) is die energievoorsiening aërobies en word van trigliseriede en glikogeen gebruik gemaak as bron van energie. Hoe stadiger die oefening, hoe meer word trigliseriede gebruik. Die melksuurvlakke in spiere styg nie bo die rustende vlak nie, en teoreties kan ’n perd onbeperk hiermee voortgaan.
Met moeilike oefening (draf en galop) word energie deur beide aërobiese en anaërobiese prosesse verskaf. Tydens die aërobiese proses word glikogeen twee keer vinniger as vet na ATP omgeskakel. Wanneer die aanvraag na energie verhoog omdat die perd vinniger hardloop, is die omskakeling van vet eenvoudig net te stadig om in die behoefte te voorsien.
Vir die anaërobiese proses kan vet nie gebruik word nie. Melksuurvlakke styg wel, maar bly min of meer stabiel (m.a.w. die liggaam kan die melksuur vinnig genoeg uitskei en melksuur hoop nie op nie. Hierdie vlak van oefening kan vir lang periodes gehandhaaf word. Met uiterste oefening (jaaggalop) is energievoorsiening anaërobies, want anaërobiese omskakeling van glikogeen na ATP, is heelwat vinniger as aërobiese omskakeling.
Heelwat meer glikogeen word gebruik tydens die anaërobiese proses om dieselfde hoeveelheid energie te lewer. Daar is egter ’n probleem! Wanneer glikogeen aërobies omgeskakel word na ATP, word 12 keer meer ATP gevorm en dus word baie meer glikogeen tydens die anaërobiese proses verbrand om dieselfde hoeveelheid energie te lewer. Daarby kom ook nog die nadeel dat melksuur gevorm word tydens die anaërobiese proses, wat die werking van die spiere belemmer. Die perd word dus vinnig moeg.
Voorbereiding
Om die perd se energieverbruik so doel-treffend moontlik te maak, is voorbereiding van groot belang. Geen uithouritperd kan presteer sonder ’n goeie oefenprogram nie. Oefening verbeter die liggaam se vermoë om van die aërobiese prosesse gebruik te maak, en voorkom dus dat die perd te gou oorskakel na anaërobiese prosesse wat melksuur laat ophoop.
Oefening alleen is egter nie die enigste komponent van die voorbereidingsprogram nie. Dis belangrik om vet in te sluit as deel van die perd se daaglikse rantsoen (tot soveel as 450 ml per dag vir perde wat hard geoefen word). Die deurlopende inname van vet lei tot verhoogde vlakke van vrye vetsure in die bloedstroom, en beter benutting van vet as bron van energie deur die spiere. Dit dra weer daartoe by dat die perd tydens ’n rit langer van vet as bron vir ATP gebruik sal maak, wat later meer glikogeen beskikbaar maak wanneer die eise hoër word.
Die olie-resep
Vet moet geleidelik tot die rantsoen toegevoeg moet word om die perd die geleentheid te gee om daarby aan te pas. Gebruik slegs plantaardige olies (kanola-olie bly die beste produk om te gebruik). Begin met 25 ml olie twee keer per dag, en vermeerder geleidelik met 25 ml per voeding elke vyfde dag totdat jy 225 ml twee keer per dag gee.
Indien die perd nie hard geoefen word nie, moet die olie verminder word om te voorkom dat die perd te veel vet aansit. Indien jy daarna weer begin oefen, moet dit geleidelik vermeerder word.
|