|
In die vorige paar uitgawes van SA Horseman het ons allerlei probleemgedrag wat perde openbaar, bespreek. Ons gaan nou verder kyk na gedragsafwykings wat onder saal en tydens werk voorkom. Baie hiervan kan 'n ruiter erg ontsenu en kan ook baie gevaarlik wees. Ongelukkig kan baie van hierdie gedrag, tensy dit 'n fisiologiese oorsaak het, toegeskryf word aan wrede, onsimpatieke, verkeerde en somtyds brutale inbreek- en afrigtingsmetodes.
Steier
Van alle gedragsprobleme, is steier moontlik die vreesaanjaendste én is gevaarlik vir beide perd en ruiter. Steier behels 'n totale weiering om vorentoe te beweeg op die ruiter se bevele en so 'n perd is gewoonlik heeltemal agter of bo die stang.
'n Perd kan nie steier terwyl hy vorentoe beweeg nie. Om te kan steier, moet die perd stop, agteruit tree en dan op sy agterpote staan. 'n Perd leer vinnig dat, by die eerste tekens dat hy wil steier, die ruiter sy selfvertroue verloor. Hy mag dit begin gebruik om die ruiter te intimideer of te ontsenu en só werk te ontduik.
Indien 'n perd dreig om te steier, ry hom aktief en positief vorentoe. Maak seker dat hy stilstaan in die halt, aangesien 'n rondtrappery in die halt dikwels tot steier kan lei. Ander perde steier om van 'n té sterk stang of van harde en ongevoelige hande weg te kom (pynontvlugting) en mag weens 'n vorige eienaar of afrigter bang wees. In so ‘n geval, wees doelbewus sag op die perd se bek, en maak seker dat jy hom nooit in die bek pluk nie, maar ry hom steeds vasberade vorentoe.
Sit stewig
Indien 'n perd wel met jou steier, hou jou bene ferm teen sy sye. Indien moontlik, probeer om hom vorentoe te skop met jou hakke of spore. Moet nooit 'n lat of peits gebruik nie, veral nie op die kop of tussen die ore nie.
Soos die perd opgaan, probeer dat jou bolyf nie agter die vertikale lyn beland nie. Probeer juis om vorentoe, in die perd in te leun – hoe hoër die perd, hoe meer vorentoe die ruiter, aangesien jou gewig die perd se balans affekteer en kan veroorsaak dat hy agteroor val. Jy kan een arm om die perd se nek sit en sy kop kant toe trek met die ander teuel.
Aangesien 'n perd sy balans met sy nek hou, mag dit veroorsaak dat hy sy balans verloor en sy voorvoete neersit om sy balans te herwin. Moet nooit terugtrek aan die teuels of jouself aan die teuels probeer balanseer nie. Indien die perd wel agteroor begin val, skop jou voete uit die stiebeuels en probeer kant toe van sy rug afgly.
Daar is diegene wat aanbeveel dat, wanneer die perd op die grond is nadat hy agteroorgeslaan het, jy hom 'n paar harde houe met die lat moet gee – straf, direk na sy onaanvaarbare en gevaarlike gedrag. Maar dit moet dadelik gebeur, want as hy reeds opgestaan het, is dit te laat.
Herskool
Omdat steier so vreesaanjaend kan wees, word ruiters gou deur so 'n perd geïntimideer en ontsenu, en is hulle bang om enigiets van die perd te vra – om hom vorentoe te ry; 'n kontak op die teuels te vat en soms om weer op te klim. Veral 'n slim perd leer vinnig om dit tot sy voordeel te gebruik om werk te ontduik.
Indien 'n perd tekens van steier toon, behoort hy heropgelei te word om vorentoe van die ruiter se been af te beweeg en stangkontak te aanvaar. Wees sag op sy mond, positief en vasberade. Prys hom onmiddellik wanneer hy 'n bevel gehoorsaam. Indien die ruiter te bang en onervare is, is dit raadsaam om iemand met die nodige kennis en selfvertroue te kry om die perd te herskool.
Indien die situasie tussen perd en ruiter heeltemal uitmekaar gespat het, is die beste raad om die perd na iemand te laat gaan wat toegerus is om hom te hanteer, en vir jou 'n rustiger perd aan te skaf.
Vermy konfrontasie
Indien die perd geneig is om te steier wanneer hy gelei word, mag dit nodig wees om 'n hingsstang op te sit, of 'n kettinkie oor die neus – moet hom nooit daaraan hard pluk nie, maar laat hom besef dat dit daar is. Wanneer hy nie steier en probeer wegruk nie, is die beste om hom bloot te ignoreer.
Maak seker dat jou leiriem lank genoeg is, sodat dit nie uit jou hand ruk as die perd opgaan nie. Moet nie na hom draai en hom probeer aftrek nie, hy mag dit as 'n uitdaging of konfrontasie beskou of selfs probeer wegkom omdat hy dink dat jy hom nou gaan straf en seermaak.
Vermy direkte oogkontak. Draai jou rug op hom en hou aan loop sonder om te reageer. Dit sal die wind uit sy seile neem en hy mag bedaar. Dit is dikwels die gevolg van vorige, wrede hanteringsmetodes waar 'n perd hard rondgeruk en seergemaak is.
Daar is mense wat vreemde rate aanbeveel teen steier, soos om 'n eier tussen die perd se ore te breek, of hom tussen die ore met 'n plastieksak vol water te slaan. Die gedagte is dat wanneer die eier se binnegoed of water oor sy kop stroom, die perd sal dink dis bloed en dit nie weer sal doen nie.
Ander, meer brutale raad, is om die perd met die agterkant van die peits of selfs met 'n lipstok tussen die ore te slaan. Dit is onaanvaarbaar. Perde is baie sensitief op die skedel tussen die ore en mens kan só lelike en permanente skade aanrig – fisies en emosioneel.
Bokspring
Dit is nodig om onderskeid te tref tussen perde wat bokspring weens te min oefening en te veel kos (te veel energie); weens fisiese redes; as weerstand teen werk.
Uitgevreet
Indien perde te min oefening en te veel kragvoer kry, is bok 'n natuurlike manier om op 'n plofbare wyse van oortollige energie ontslae te raak. As dit vir dae gereën het en perde op stal moes bly sonder dat hulle kragvoer gesny is, sal daardie perde heeltemal uithaak as hulle gery word.
As dit die geval is, kan dit beslis nie as probleemgedrag beskou word nie en is die eienaar eintlik te blameer. Indien so 'n perd gestraf word, sal dit hom negatief maak oor sy werk. Wanneer 'n perd vir 'n tydperk op stal moet staan of sy werkroetine onderbreek word, is dit raadsaam om sy kragvoer te sny. Dit is ook beter vir sy gesondheid.
Met onervare ruiters is dit dikwels die geval dat kos al hoe meer gesny word indien die perd bok, om die perd te probeer kalmeer en hanteerbaar te kry. Soms word dit egter só ver gevoer, dat die perd naderhand brandmaer en uitgeput is. Dit is wreed en onaanvaarbaar, en los nie die probleem op nie.
Fisiese oorsake
Daar kan natuurlik ook fisiologiese oorsake wees vir 'n gebok. Hierdie opsie moet eers uitgeskakel word, alvorens dit as 'n gedragsafwyking beskou kan word. Maak seker dat jou saal behoorlik pas en nie die perd druk of knyp nie. Verseker dat jou buikgord nie te styf is nie en dat daar nie ooglopende swelsels of saalsere onder die saal is nie. Ander perde weer, is oorsensitief vir spore en bok vir daardie rede.
Seer en stywe rug- of nekspiere, asook werwelprobleme, kan 'n perd laat bok in 'n poging om van die pyn weg te kom. Voel al langs die perd se nek en ruggraat af en kyk of hy iewers sensitief is. Indien wel, is dit beter om 'n veearts, fisioterapeut of chiropraktisyn te raadpleeg. Dit is veral belangrik om vir 'n fisiese oorsaak te soek as 'n perd wat nooit gebok het nie, skielik begin bok.
Jong perde
Jong perde bokspring soms doodgewoon weens uitbundigheid en spelerigheid, of as mens aanvanklik met galopwerk begin. Wanneer 'n perd galop, is sy rug baie meer rond as wanneer hy draf en indien die perd se spiere nog nie heeltemal sterk genoeg is nie, veral met die gewig van die ruiter, bok hy om die spiere te ontspan vir 'n oomblik se verligting. Dit is normaal en om so 'n perd te straf of sy kop hard op te ruk aan sy bek, is wreed en onsensitief, en sal hom negatief instel teenoor werk. Maak egter seker dat dit nie in ‘n gewoonte ontaard nie.
Jong perde wat die saal nog nie aanvaar het nie, sal moontlik bokspring om van die ding op sy rug ontslae te raak – dit is doodnatuurlik. Raak rustig en laat hom toe om aan die vreemde gevoel gewoond te raak. En onthou – jong, lewenslustige perde en onervare, senuweeagtige ruiters gaan nie saam nie.
Weerstand teen werk
Ander perde gebruik bokspring om werk vry te spring. Hulle wil nie vorentoe van die ruiter se bene af beweeg nie en die oomblik wat die ruiter druk op die perd sit om wel vorentoe te beweeg, bok hy. Dit intimideer baie ruiters en die perd leer sommer gou dat hy dit kan gebruik om die ruiter te ontsenu en werk te ontsnap.
'n Perd het nodig om sy kop af te trek om te kan bok. Maak dus seker dat jy sy kop ophou, want as daardie kop tussen sy voorbene
be-land, is jou doppie geklink. Indien hy wel bok, sit diep terug in jou saal en hou jou hakke af. As jy vorentoe leun, bestaan die moontlikheid dat jy soos 'n missiel oor sy nek gaan skiet! Indien die perd springteuels of 'n nekriem aan het, gryp dit of selfs 'n handvol maanhare vas, en trek jouself letterlik in die saal vas.
Konsentreer dan om sy kop te probeer lig, terwyl jy hom positief vorentoe ry (net soos met steier) – sommige perde steek selfs vas en begin dán bok. Nou moet jy hom veral daadwerklik vorentoe ry. Hy glo dat as hy bok, die vorentoe-druk van die ruiter sal ophou – moet dus nie dat dit gebeur nie.
'n Baie doeltreffende metode om 'n bok te ontlont, is om die perd se kop met een teuel na die kant toe te trek. Die teorie is dat 'n perd nie kan bok as sy stert en ore nie in lyn is nie.
Indien jy die tekens sien, kan 'n vinnige raps met die peits op die skouer (die boud mag hom juis laat bok), 'n opwaartse "half-halt", of net eenvoudig deur met die perd te raas, hom van plan laat verander. Dit help egter nie om 'n perd wat bok te foeter nie, want hy gaan eenvoudig kwaad of paniekbevange word en meer bok om die pyn te ontwyk en as jy weer sien het jy dalk nog boonop 'n perd wat weghardloop ook.
Die wagwoord hier, soos in alles met perde, is geduld. Hy moet eenvoudig sien dat hy jou nie gaan afkry nie en dat jy hom wel vorentoe gaan ry.
Indien 'n ruiter bang, onervare of nie in staat is om met ‘n bokkende perd te werk nie, is dit raadsaam om iemand met ervaring te kry om die perd reg te leer, anders mag dit gou-gou 'n gewoonte word.
|