Te midde van ekonomiese druk en kontantvloeiprobleme, hoop ons dat die Maart-uitgawe van SA Horseman julle darem rede sal gee om vir 'n oomblik van die op en afs van die normale lewe te vergeet, en op te gaan in daardie ding wat ons almal bind – ons perde.
Ons fokus in hierdie uitgawe is op die netelige kwessie van parasiet- en plaagbeheer, en ons het die drie grotes uitgesonder – bosluise, vlieë en wurms.
In 'n spesiale fokus ontmoet ons een van Suid-Afrika se voorste dressuurruiters, Jaco Fourie. Lees oor sy benadering tot afrigting.
En so van afrigting gepraat – een van ons gereelde bydraers gee sy mening oor die ewige debat tussen die aanhangers van klassieke afrigting teenoor die sogenaamde "natural horsemanship"-metodes.
Lees ook hoe die destydse regering van Basoetoeland hulle perde en muile gebruik het om hulle dagtaak te verrig.
Ons geniet ook 'n kykie na die opwindende sport van pensteek, en ondersoek die helende kenmerke van water in die vorm van hidroterapie.
Ons hoop julle vind goeie en interessante leesstof in hierdie uitgawe van SA Horseman.