|
Pensteek of "tentpegging" in Engels, is seker die enigste moderne perdrydissipline wat steeds die adrenalien-gevulde oorlogstormlope van die berede magte van ouds simuleer. Hoewel die presiese oorsprong van die sport nie duidelik is nie, stem die meeste kenners saam dat dit sy oorsprong in Asië het.
Volgens oorlewering gaan die sport terug na Alexander die Grote se inval van Indië in 326 vC. Dis waar Alexander se soldate glo die lans as belangrikste oorlogswapen ingespan het teen die talle olifante wat die vyand in die veldslae gebruik het.
Dit word vertel dat die enigste manier om die olifante uit die stryd te haal, was om hulle toonnaels met skerp spiese van die perd se rug af te deurboor. Om dié oorlogstaktiek te vervolmaak, het die berede soldate met tentpenne wat in die grond geslaan is, geoefen.
'n Tweede teorie is dat die sport ontstaan het deurdat berede soldate die vyandelike kampe teen dagbreek gestorm het en dan die tentpenne met hulle skerp spiese uit die grond gehaal het. Die resultaat was natuurlik totale pandemonium soos die tente op die slapende vyand ineengestort het.
Terug by die hede
In Suid-Afrika was die sport algemeen as gymkhana bekend, maar sedert dit deur die FEI (Federation Equestré Internationale) as 'n perdesport erken is, is die begrip "tentpegging" as die internasionale naam vir die sport aanvaar.
Die lande wat tans by pensteek betrokke is, is Indië, Australië, Israel, Pakistan, Suid-Afrika, die Verenigde Koninkryk, Namibië en die VSA. In 1994 is die International Equestrian Tentpegging Association gestig om die sport internasionaal te administreer en te reguleer.
Die Suid-Afrikaanse senior kampioenskappe vind elke jaar in Oktober plaas en die junior kampioenskappe in Desember. Tydens die kompetisies word die beste ruiters gekies om Suid-Afrika in die daaropvolgende jaar te verteenwoordig. Die senior liggaam kies 'n merietespan en 'n damespan, terwyl daar 'n seuns- en dogterspan uit die junior geledere gekies word.
Suid-Afrika het in 2007 opgetree as gasheer van die senior pensteekwêreldbeker en die tweede agtereenvolgende keer as wêreldkampioene uit die stryd getree.
Daar is ook elke jaar 'n meesterskam-pioenskap wat in Bloemfontein plaasvind, waar alle ruiters oor die ouderdom van 50 jaar deelneem vir moontlike verkiesing tot die meesterspan. Die 2008 Suid-Afrikaanse meesterspan was verlede jaar tydens hulle toets teen Namibië, die eerste Suid-Afrikaanse span in meer as 'n dekade, wat onsuksesvol was in internasionale deelname. Ons span moes na 'n taai stryd die knie buig voor die besoekende Namibiërs.
Ons nasionale damespan het op 9 Augustus (Nasionale Vrouedag) op baie gepaste wyse op Vanderbijlpark teen die Australiese damespan, met 'n skrale ses punte as wenners uit die stryd getree. Dit is vir ons baie duidelik dat waar ons vroeër jare gemaklik met ons teenstanders kon afreken, dit die laaste twee jaar nie meer die geval is nie. Ander lande is nou baie meer mededingend en ons sien dit as geweldig positief vir die groei en ontwikkeling van die sport.
Alhoewel ons juniors nie soveel internasionale blootstelling kry as die seniors nie, word daar elke jaar 'n toets gereël sodat hulle nasionale kleure kan verwerf.
Daar is ook vanjaar tydens die nasionale kampioenskappe met 'n "nuwe divisie"-stelsel begin. Ruiters word gedurende die jaar tydens klub- en provinsiale kompetisies geëvalueer en in 'n A-, B- of C-kategorie geplaas voor die aanvang van die kampioenskap. Die beginsel van krag-teen-krag word uiteraard dan toegepas en ruiters wat op soortgelyke standaard is, ding dan teen mekaar mee om plekke in die spanne.
Die eerste-divisiespanne neem op 7 Maart teen die nasionale meriete- en damespan op Jacobsdal in die eerste interdivisie-kampioen-skappe deel. 'n Voorgeestelsel soortgelyk aan dié in gholf, word gebruik om die divisie-spanne op gelyke voet met die nasionale -spanne te plaas.
'n Unieke ervaring
SAETA (South African Equestrian Tentpegging Association) is angstig om die sport in Suid-Afrika uit te bou en glo dat pensteek die volgende unieke geleenthede bied en daarom aanklank by baie ander perdedissiplines sal vind:
• Geen spesifieke perderas word gebruik nie. Enige perd met 'n kalm temperament, tussen 14 en 15 hand hoog, en met die basiese ryvaardighede, behoort geskik te wees vir die sport. Ons vind egter dat dit ten minste 'n jaar neem om die perd al die vaardighede op die baan te leer. Ons vind ook dat dit nie raadsaam is dat 'n nuwe ruiter met 'n "rou" perd die sport aanleer nie. Nuwe ruiters vorder baie vinniger as 'n "geskoolde pensteekperd" aangekoop word, aangesien die ruiter dan kan fokus op die aanleer van sy eie wapenvaardighede en nie met ‘n ongeskoolde perd hoef te sukkel nie.
• Goed-opgeleide afrigters woon jaarliks afrigtingsklinieke by om seker te maak nuwe en bestaande ruiters – van klub- tot nasionale vlak – afrigting van 'n hoë standaard kry. Ruiter en perd word afgerig, en groei en verbeter volgens elkeen se eie potensiaal. Alle ruiters moet jaarliks by 'n provinsiale liggaam affilieer wat dan weer ruiters by die nasionale liggaam affilieer. Provinsies bestaan uit verskeie klubs.
• Lanse en swaarde word gewoonlik kosteloos aan nuwe ruiters verskaf, totdat ons seker is die ruiter is gemaklik en kan begin deelneem aan kompetisies. Die aankoop van wapens is elke indiwidu se keuse, solank die lans en swaard aan ons neergelegde spesifikasies voldoen.
• Veiligheid van perd en ruiter is vir ons van kardinale belang. Omdat 'n lans en swaard gebruik word, laat ons nie toe dat iemand begin deelneem voordat hy/sy nie die basiese vaardighede en gebruik van die wapens onder die knie het nie.
• Pensteek is 'n gesinsport waaraan almal kan deelneem. Byeenkomste word op provinsiale vlak gereël en gee ruiters gedurende die jaar geleentheid om teen mekaar deel te neem.
• 'n Goed-geskoolde perd kan jou tussen R7 000 en R15 000 kos, terwyl jaarlikse affiliasie jou R600 per jaar, en inskrywingsgeld vir 'n kompetisie jou R100 vir al tien items, uit die sak gaan jaag.
Ruiters neem aan tien items per kompetisie deel, wat wissel van indiwiduele items tot halfseksie (twee ruiters) en seksie (vier ruiters).
Dit is duidelik dat pensteek ‘n adrenaliensport vir ruiters met goeie hand-oogkoördinasie is. Dit is ideaal vir die hele gesin. Nuwelinge sal warm ontvang word en kan persoonlike aandag en afrigting van al ons ervare ruiters en afrigters verwag.
(Annas van Graan dien op die SAETA-raad. Skakel hom gerus by 082 332 2284 of stuur 'n e-pos na annasvangraan@absamail.co.za. Hy sal sorg dat jy in kontak kom met jou naaste klub.)
|