Login / Register You are not logged in.

Featured ads

How can I feature my ad?

Wie nie waag nie …
deur Hennie Basson

Wanneer George Smuts ’n perde-arena betree, weet liefhebbers van hierdie diere reeds dat hy iets spesiaals aan hulle gaan opdis. Sy veelsydigheid met perdevertonings is tog reeds landwyd bekend – of dit nou met ’n enkele perd of dalk met ’n aantal van hierdie diere is.

Ofskoon George hom nie uitgee as ’n spesialis waaghals soos die beroemde Bobby Salkinder wat in die 1950’s mense in hul duisende na van ons grootste skoue gelok het nie, is sy ­aanbiedinge deurspek met veelsydige perdevertonings soos wat weinig in ons land ­gesien word. Dit straal “showmanship”, skouspel­agtigheid, perdevernuf en -kundigheid en ­bowenal ook liefde vir en kennis van die perd uit.

Boonop geniet die publiek dit terdeë en word die alsydigheid en karaktervolheid van die perd op verskillende maniere aan hulle getoon.

Weens sy bedrewenheid met perde, is George ook reeds ’n ou kalant met die ­afrigting van diere vir advertensie-optredes op ­televisie en vir rolprente. Hy was onder meer by die verfilming van King Solomon’s Mines en ­Running Free betrokke.

In die meeste gevalle gaan sy vertonings by spesiale geleenthede ook met ’n mate van waagmoed gepaard en is die risikofaktor ­meestal teenwoordig.

Verlede jaar het hierdie 35-jarige boorling van die Swartland ’n nie-amptelike wêreld-­rekord opgestel, toe hy vanaf ’n perd se rug nog tien ander wat met halters aanmekaar ­gekoppel was (nie met ’n toom nie) in gelid en in ’n sirkelvorm laat draf en galop het. Die enigste werklike beheer wat hy oor hulle ­gehad het, was met sy stemtoon.

Op vanjaar se fees het hy weer die omstanders verras toe hy ’n unieke tandem­vertoning gelewer het. Vanaf die rug van sy Friesperd, Sabbat, het hy sy ander perd, ­Hoffman, aan langleisels gestuur. Hulle is onderskeidelik 22 en 23 jaar oud.

“Dit is ’n item vir die fynproewer,” sê George. “Aanvanklik moet gepoog word om die agterste perd te laat galop, terwyl die ­voorste een draf. Daarná moet beide gelyktydig draf en uiteindelik galop beide met die regte leibeen.” In Nederland word tot vier perde saam in hierdie item vertoon.

Gevaarseine

Oningeligtes meen dalk dat bloot net genoegsame oefening en afrigting nodig is om beide hierdie vertonings van George te laat vlot. Feit is egter dat die gevaar-element ook hier ’n rol speel. “­Indien net een van die perde samewerking weier of gaan staan, kan dit katastrofies wees,” sê hy.

Volgens hierdie inwoner van Herbertsdale in die Suid-Kaap is samewerking tussen beide perd en hanteerder uiters noodsaaklik. Daarom moet respek vir die perd vooropgestel word. “Kommunikasie en geduld met ’n perd is tog só belangrik. Wanneer hy dalk nie in ’n stemming is om op jou bevele te reageer nie, glo dan dat hy dalk die volgende dag wel met jou sal en wil saamwerk.”

George se pa, die legendariese Oom Danie Smuts van Darling, het hom hierdie ingesteldheid teenoor die perd reeds vanaf kleuter­stadium ingeprent en daarvoor is hy nou uiters dankbaar. Ook vir die feit dat sy pa hom goed laat begryp het dat ’n mens in ’n leeftyd nie volleerd met ’n perd kan wees nie.

Hy het altyd gesê: “Die dag wanneer jy begin dink jy weet alles van ’n perd, moet jy in alle beskeidenheid kan erken: Nou weet ek nog niks van hom af nie!”

George was en is steeds in die bevoorregte situasie dat beide sy pa en ma, tannie Pieta, in perde-omgewings grootgeword het. Oom Danie was boonop op sy dae een van die voorste telers van skoumuile in die land en van die Boland se bekendste “muilkonings” van destyds was van sy gereelde kopers.

Hy is eweneens ’n Friesperdkenner by uitstek en gaan haal die Friesperdstorie in die land uit die tweede helfte van die 19de eeu, toe perde van hierdie ras reeds op nie-amptelike wyse deur spekulante na die Kaap ingevoer is. George is nou die vyfde geslag van dié familie wat met hierdie gitswart perde bedrywig is.

Buitelandse ervaring

In sy jeugjare reeds was George ’n ­entoesiastiese deelnemer aan skoue, dresseer-items en gimkanabyeenkomste.

Dit was juis die Friesperd wat aan hom broodnodige ondervinding van die bedryf in die stamland, Nederland, verskaf het. Daar het hy enkele jare gelede by die Koninklijke Vereniging Het Friesch Paarden-Stamboek (KFPS) en die Koninklijke Warmbloed Paarden-Stamboek Nederland (KWPN) gewerk.

Hier was hy betrokke by die afrigting van hingste en merries ter voorbereiding van prestasietoetsing. Dit is onder die saal sowel as in tuig gedoen.

In Nederland het hy onderrig ontvang van of kennis gemaak met internasionaal ­bekendes in verskeie perdedissiplines, soos Piet de Boer, Leo Kraaÿenburg, ­Lammert Haanstra en Lyda Strijk. Hy het selfs die perdespringsport bemeester onder die wakende oog van die ­Olimpiese perdespringruiter, Bert Romp.

George is ’n voorstaander daarvan dat perde (ook in Suid-Afrika) vertoon of ­geskou word op ’n wyse wat ­internasionaal aanvaar word.

Hy is ’n entoesiastiese bestuurslid van die Friesperd-Stamboek van Suider-Afrika ­(FPSSA) en blink ook op dié organisasie se ­skoue uit. Op die jongste nasionale kampioen­skappe van die FPSSA, het hy onder meer beide kampioen­skappe onder die saal en vir reuns in die enkeltuig vertoon.

Perdekunde

Vanaf Herbertsdale propageer hy deesdae die kuns van klassieke perdekundigheid. Hy bedryf ’n konsultasiediens vir nie net perde-eienaars nie, maar ook ander diere. ’n Mens kan hom selfs uitvra oor kamele, want in ’n stadium het hy self oor van ­hierdie woestyndiere beskik en ritte met hulle aangebied.

As plaasseun geniet hy egter steeds ­vertonings wat hy doen om die makheid van die tipiese plaasperd te demonstreer. Dit doen hy onder meer om met swepe gelyktydig aan beide kante van ’n perd te klap.

Dit het hy ook verlede jaar by die ­Hoef­slagfees in Bloemfontein en op die Perd- en Wynfees gedoen.

George het ook sy vaardigheid in Februarie by die Crow’s Nest Wynlandgoed (ook in die Paarl) vertoon.

George kan gekontak word by 082 228 1876.

George erken die toejuiging van die toeskouers tydens sy unieke vertoning met elf perde op die 2006 Perd- en Wynfees (Foto: Paarl Post)

Die makheid van die 22-jarige Sabbat word hier deur George vertoon. Hierdie Friesperd is ook aan die klapgeluid van ’n sweep gewoond

Met sy Friesperde, Sabbat en Hoffman, het George al mense in vervoering gehad. Hier vertoon hy hulle in ’n besonderse tandem-item, met die voorste perd in die langleisels

George (links agter) by Marcel de Reuck (voor) en Wynand Fourie. Al drie is betrokke by die Hoefslagfees

Top of page

Copyright © 1998 - 2012, Horse Junction. All rights reserved.