Login / Register You are not logged in.

Featured ads

How can I feature my ad?

Sweep
deur Izak Hofmeyr

Moolmanshoek Sweep hou sedert 2004 die Hofmeyr 100-myl rekord, 'n rekord wat eers na 20 jaar verbeter kon word. In sy relatiewe kort uithouritloopbaan, het hy gewys dat sy soort nie agter elke bos uitgeskop word nie.

Tans in sy twaalfde jaar, het Sweep eers in 2003 (na sowat vier jaar van beeswerk op sy geboorteplaas, Moolmanshoek in die Oos-Vrystaat) aan uithouritte begin deelneem toe sy teler, Wiesman Nel, dié besluit geneem het. Dis toe dat hy na Wiesman se uithouritvennote, Leon en Mariaan Liversage, op Belfast verskuif is.

In daardie jaar voltooi hy vier 80 km ritte, asook Fauresmith en nog drie 120 km ritte, waarvan hy een wen, een keer tweede eindig, en les bes ook twee keer aangewys word as die bes-voorbereide perd. Om die jaar af te sluit, voltooi hy ook 'n rit van 130 km.

In sy tweede jaar in 2004, ry die Liversages se dogter, Lindi, hom as kinderruiter oor die korter afstande, terwyl Mariaan meer op die langer afstande konsentreer. Op daardie stadium het Mariaan haar vir die wêreldkampioenskappe in Dubai voorberei. Sweep se halfbroer, Moolmanshoek Moya, was eintlik haar voorkeurperd. Moya het hom toe al reeds as die nommer een langafstandperd in die land bewys.

’n Enkele eliminasie

Sweep se heel eerste 100-myler, die Platorand 100-myler, was vir Sweep en Mariaan nie die beste van ervarings nie. Hy moes twee ongelukke oorkom en is op die tweede-laaste been uitgeskakel. Hierdie was sy enigste eliminasie in die sowat 4000 km oor vier jaar, waartydens hierdie legende hoogs kompeterend gery het.

Lindi het die kinderruiters een na die ander uitgestof en ook ’n tweede plek en die toekenning as bes-voorbereide perd op Fauresmith as kinderruiter behaal. Daarna wen hy die Christiana 100-myler tesame met die toekenning as bes-voorbereide perd en gaan daarvandaan Hofmeyr toe om die twintig-jaar-oue rekord te gaan verbeter.

In 2005 ry Lindi hom as junior vir kwalifisering vir Argentinië en doen een 130 km op die Louise Botha-rit, waar sy toekennings vir die eerste én bes-voorbereide perd kry. Gedurende hierdie jaar tree ’n ander halfboetie van Sweep en Moya, Moolmanshoek Pula, op die voorgrond toe hy al die 120 km ritte wat volgens die FEI-stelsel gery word, wen. En op die koop toe wen hy ook die Walvisbaai-rit in ’n rekordtyd!

In hierdie jaar maak Mariaan en Lindi geskiedenis toe ma en dogter gelyk in nasionale spanne opgeneem word met die twee halfbroers, Sweep en Pula – en albei eindig in die top vyf! In 2005 wen Sweep weer Christiana, tesame met sy nou gebruiklike toekenning as bes-voorbereide perd. Op Walvisbaai behaal hy en Mariaan ’n vierde plek vir die nasionale span.

"Sweep sou in die volgende jaar verkoop word en saam met Pula Bahrein toe gaan," vertel Mariaan. Hoewel hy sy veearts- en X-straalondersoek geslaag het, het die kopers besluit dat hy te oud na hulle sin is, en Pula is toe alleen oor.

“In die proses het ek net een 80 km rit met hom gery. Toe ek besef ek is op die kortlys vir Aachen, dring dit tot my deur dat ek die enigste ruiter op die kortlys is wat nog twee ritte van 160 km kort. Op daardie stadium was daar net twee ritte beskikbaar, en hulle was drie weke uitmekaar, naamlik Christiana en Platorand.

’n Perd sonder einde

“Christiana voltooi ons lekker ontspanne teen 'n spoed van so 13 na 14 km/h en drie weke later saal ons op vir Platorand, waar hy die rekord verpletter. Sweep was die rede dat ek Aachen toe kon gaan en as ek ydel mag klink – as daar ‘n kans was dat ek hierdie perd in Aachen kon ry, kon ek vir Suid-Afrika 'n besliste goue medalje huis toe gebring het!"

Om alles te kroon kom sy en Sweep daardie jaar vir die eerste keer in aanmerking vir provinsiale kleure en die rit is op Botswana, waar Moya die rekord oor 160 km hou.

"Nou moes ek anders oefen. Sweep is ’n groot bergperd en kry swaar in die warm plat gedeeltes. Maar hy oortref alle verwagtinge en wen ook hierdie rit en breek Moya se tyd met vier minute. Sy laaste rit was in Walvis in 2007, waar dit nie so goed gegaan het met ons nie, en ons met 'n 19de plek tevrede moes wees.

“Dis toe dat ek besef hy het 'n welverdiende ruskans nodig. Hy is terug Moolmanshoek toe waar hy nou nog staan." Mariaan is gou om vir Wiesman krediet te gee, en ook dankie te sê dat hy genoeg vertroue in haar gehad het om Sweep aan haar toe te vertrou.

"Sweep is reeds in eie reg 'n uithourit­legende, maar as perd by die huis is hy net so spesiaal," sê Mariaan. "Hy is so goedgeaard en gefokus op sy werk, dat selfs Lindi as kinderruiter op hom kon presteer. Hy is ’n swaarder perd en het dus nie Moya se herstelvermoëns nie. Daarom moes ons van die begin af druk op die opposisie plaas – 'n benadering wat nie altyd by my eie geaardheid pas nie."

Mariaan sê dat daar van kompetisiespanning by hom geen sprake is nie. Hy spaar sy energie vir die rit, nie vir allerhande uitbars­tings nie. "Op Hofmeyr, byvoorbeeld, was ons tweede tot 200 meter voor die einde. Sweep het sonder ‘n oogknip of huiwering sy rekordtyd as wenner ingepalm." Met 'n totaal van 3 800 kompeterende kilometers onder sy buikgord, sê Mariaan, was daar nooit sprake van 'n vreeslike wetenskaplike oefenprogram nie – net konsekwente harde werk en rus.

Top of page

Copyright © 1998 - 2012, Horse Junction. All rights reserved.