|
Lonsering – ’n woord wat in elke uithouritter se woordeskat voorkom en ’n aktiwiteit waaraan meeste uithouritters baie tyd bestee. Maar is dit wat uithouritters doen, werklik lonsering?
Vra mens vir meeste uithouritters wat hulle bedoel as hul sê dat hulle ’n perd lonseer, sal hulle jou vreemd aankyk en sê: "Ek het die perd in die ring gewerk."
En daarmee bedoel hulle dat hulle die perd in die rondte gejaag het, ewe veel linksom en ewe veel regsom, sonder enige verdere hulpmiddels. Is dit regtig lonsering?
Al in die rondte?
Toegegee, meeste uithouritters het maar beperkte tyd om hulle perde fiks te kry, en rondjaag in ’n ring is sekerlik ’n manier om kilometers op die perd se sisteme te kry, en ook om die perd kardiovaskulêr op te bou.
Ongelukkig het dit nadele ook. ’n Perd wat al in die rondte hardloop laat sak gewoonlik sy kop, maak sy rug hol, kry nie sy agterbene onder hom in nie en trek homself met sy voorbene vorentoe. Die gevolg daarvan is dat sommige belangrike spiergroepe, veral die rug en agterkwart, nie oefening kry nie. Dan loop mens die gevaar dat, wanneer ’n mens vorentoe aan ’n rit deelneem, die rugspiere nie sterk genoeg is met die gewig van die saal en ruiter op die perd se rug nie.
Ook benut so ’n perd nie sy agterkwart om homself vorentoe te stoot nie. Dit kom op dieselfde neer as ’n mens wat teen ’n leer opklim met net sy arms. Omdat al die beskikbare spiere nie gebruik word nie, word die perd net soveel gouer moeg.
Doeltreffende beweging
Geen perd is van nature heeltemal gebalan-seerd nie, en by alle perde is die rugstring óf effens na links óf effens na regs gebuig. By meeste perde is die rugstring effens hol (konkaaf) aan die linkerkant, en bol (konveks) aan die regterkant, wat daartoe lei dat die perd nie in ’n reguit lyn beweeg nie. By sommige perde is dit baie uitgesproke, en meeste van julle het sekerlik al agter ’n perd gery waarvan die agterbene opsigtelik langs die voorbene beweeg.
Om die beweging meer doeltreffend te maak en om te voorkom dat die een kant nie spierkrampe ontwikkel nie (selfs ligte, amper onopsigtelike spierkrampe kan bydra tot mankheid), is dit noodsaaklik om, deur oefening, die rug so reguit moontlik te kry. Dit kan mens doen deur doeltreffend te lonseer, en so slaan mens twee vlieë met een klap – die perd word fikser en meer soepel.
Lonseertoue
Perde moet nooit los gelonseer word nie. Maak altyd gebruik van ’n lonseertou, en maak dit vas aan ’n cavesson neusband. Gebruik ’n ligte cavesson, en vermy die swaarder tipe wat baie opgestop is oor die neus. Die dik laag materiaal lei daartoe dat die perd nie die kontak van die tou met die cavesson voel nie, en dit bemoeilik beheer.
’n Baie nuttige hulpmiddel vir lonseerwerk is syteuels. Syteuels word aan die gebit vasgemaak (terloops, meeste perde werk beter met ’n double jointed snaffle), en vandaar aan ’n roller of die buikgord van die saal. Dis beter om ’n roller te gebruik, wat ringe op verskeie hoogtes het en dus toelaat dat mens die syteuels op verskillende hoogtes kan vasmaak.
’n Perd moet geleidelik hieraan gewoond gemaak word, omdat dit teen sy natuur inwerk en hy, deur daarteen te baklei, homself kan beseer. Moenie syteuels aan ’n cavesson vasmaak nie; dis belangrik vir die perd om die teuels op die gebit te voel. En net so, hou steeds die lonseertou op die cavesson, en moenie die tou aan die gebit vasmaak nie.
Sou die perd oormatig opgewonde raak en gedissiplineer moet word, gaan die trek van die tou op die gebit bydra daartoe dat die bek minder sensitief word en die perd moeiliker beheer gaan word wanneer jy later die langpad aanpak.
Die syteuels
Begin deur die syteuels los en hoog vas te maak, om so die perd eers net daaraan gewoond te maak. Dan kan mens dit geleidelik stywer maak en ook laer begin vasmaak. Moet nie forseer nie!
Hou die syteuels aan beide kante ewe lank, totdat die perd heeltemal gemaklik daarmee werk. Onthou ook dat, deur die syteuels laer vas te maak, jy nie noodwendig meer druk op die nek toepas nie. Meer druk is die gevolg van korter syteuels. As mens die syteuels laer (maar nie te kort nie) vasmaak, laat jy die perd toe om sy kop laer en meer vorentoe te dra.
’n Mens moet die ideale balans en posisie van die syteuels vind deur, wanneer die perd daaraan gewoond is, gereeld te verstel tot jy dit só het dat die perd se kop nie te veel ingetrek word, maar tog genoeg om die rug rond te kry. En dan eers kan mens die binnenste syteuel een gaatjie korter stel as die buitenste een.
Klink dit verkeerd? Nee, dit is nie! ’n Perd wat in ’n sirkel hardloop hou van nature sy kop na buite, en nie na die binnekant van die sirkel nie.
Spiere wat werk
Wat doen syteuels? Dit forseer die perd om sy rug krom te maak, en bring ook sy agterlyf onder hom in. Dit werk die belangrike spiergroepe waarvan ons vroeër gepraat het – die rugspiere, wat die ruiter moet dra, en die boudspiere, wat die perd moet vorentoe dryf.
Verder, wanneer mens die kop binnetoe trek, buig jy die rug in die rigting van die sirkel, wat help om die rug meer soepel te maak. Doen mens dit op gereelde basis, bou hierdie belangrike spiergroepe ook op, en het jy ’n meer gebalanseerde perd wat die langpad met groter gemak kan hanteer.
Daar is ander tegnieke en metodes wat ook gebruik kan word om die rugspiere sterker te maak. Meer daaroor in ’n volgende artikel.
|