Login / Register You are not logged in.

Featured ads

How can I feature my ad?

Beter as ‘n trekter!
deur Lianne van der Hoven

Abraham Siegelaar is 70 jaar oud en boer sy lewe lank al met ‘n gemengde boerdery in die Suurbraak-omgewing naby Swellendam.

Boer met skaap en bees, en groente kweek op dié sendingdorpie se een-hektaar tuine, ken hy soos die palm van sy hand.

“Die is goeie aartappelgrond dié,” vertel hy. “Maar, o! Die bobbejane is so ‘n las. Hulle kom tussen die huise in om die aartappels op te grawe!” kla hy. Hoekom dan nie ‘n vaaljapie gebruik om die grond te bewerk nie? wil ek weet.

“Nee wat!” sê Abraham. “Soebat (kolperd) en Joseph (swart perd) weet net waar om te trap as dit kom by ploeg tot teen die heiningdraad. Met ‘n trekter is daar altyd vermorsing van grond. ‘n Trekter gooi slote en walle en die plantbeddings is nie netjies nie.

“ ‘n Trekter trap so ‘n lappie aarde ook heel te vas en wanneer die reëns kom, staan die water. Met die perde ploeg ons so vyf dreineringslote per hektaar en dan vrot jou groente nie in die staanwater nie.” Tussen Abraham en sy assistente, Monet Kellies en Boeta Vosloo, is Soebat en Joseph se toekoms verseker.

Morkel ry bakkie

Frans Arpin van Rietvlei in die Riversdal-omgewing vertel: “Ek kom my lewe lank al aan met perde. Nog voor skool, as ek nie wou opklim nie, dan lê my oupa in met die lat! Ek het my lewe lank ingespan, het baie geploeg en geskou met Saalperde ook.”

Nou wat maak die opgesaalde perd agter op die bakkie? vra ek. “Hier is die wêreld maar wyd. Op ‘n stadium het ek by die 9 000 hektaar te perd met bees gewerk. Mens kan mos nie oral met ‘n bakkie of ‘n motorfiets ry nie: Dis kop op en kop af, en deur die klowe!”

Frans vertel dat om ‘n perd te leer om op ‘n bakkie te klim, is nie moeilik nie. “Hy leer vanself om op te klim. Ek maak hom voor net so effentjies vas.”

‘n Windhond en ‘n skaaphond is Morkel, die plaasperd, se kollegas: “Morkel is ‘n goeie ryperd”, vertel Frans. “Vroegmôre tot vanaand, sonder ysters! En jakkals jag. Enige ding. Ek het vroeër jare ‘n lorretjie gehad met ‘n afskorting vir ‘n perd en ‘n deel vir die honne …”

Izak en die perdespietkop

Nog ’n mens se lewe wat gedeel word met en verryk word deur ‘n onafskeidbare verbintenis met perde, is dié van Izak Jansen. Verskans teen die vroeë-môre koue en die middaghitte, boer Izak Jansen man-alleen met sy skaaphond, Nooi, en sy perd, Prins.

Izak boer met skape en beeste op die plaas Bitou in die Riversdal-distrik. Nooi en Prins is meer as net Izak se linker- en regterhande – hulle is sy familie. Afgesien van sy aansienlike salaris, vertel Izak, ontvang die spannetjie elke maand vier ysters, een sak mielies en ‘n groot sak hondepille.

Izak het vir Prins self geleer. Dit het maar moeilik gegaan vertel hy.

“Ek het hom met ‘n sak klippe op die rug begin leer en hom later ‘n swaar ysterstaaf laat sleep.” Vandag is hulle onafskeidbaar. “Hier was ‘n vrou wat my R6 000 vir Prins aangebied het, maar ek het nee gesê, want waar kry ek nog so ‘n perd?” vertel hy trots.

Dewald Oosthuizen, in wie se diens die driemanskap is, het vir Izak se verjaarsdag vir hom ‘n karretjie gegee – dis ‘n ryding vir Nooi, en ‘n tuig vir Prins. Izak sê dat hy nie ‘n man is wat daarvan hou om rond te loop nie, maar verlede jaar, met sy ma se tagtigste verjaarsdag, het hy besluit om ‘n uitsondering te maak en het hy sy nuwe kar ingespan en vir sy ma gaan kuier op Buysplaas in die Albertinia-omgewing.

Alles het mooi gegaan tot net buite Herbetsdale. “Daar stop ‘n spietkop my!” vertel Izak. Hulle trek toe ewe gedienstig van die grondpad af, om die dienaar van hulp te wees.

“Sal dié spietkop my nie toe daar ‘n kaartjie van R300 skrywe, oor ‘n skaafplek aan Prins se agterbeen nie!” sê Izak verontwaardig. “Ek sê toe vir die man dat ons hier van agter oor die koppe gekom het en dat dit boonop ‘n nuwe karretjie is en dat die skaafplek nie gehelp kon gewees het nie.

“Maar hy wil nie rede verstaan nie! Ek haal toe R300 uit my sak en hou dit vir die man. Hy dink toe ek is vreeslik astrant!” vertel Isak onthuts.

Dewald het toe ‘n klein verstellinkie gemaak, Prins het nie weer geskaaf nie, en Izak was nie weer verontwaardig deur die lang arm van die gereg nie!

Abraham Siegelaar en sy assistente, Monet Kellies en Boeta Vosloo maak korte mette van 'n groenteland met die twee staatmakers, Soebat en Joseph.

Izak Jansen met sy skaaphond, Nooi, en sy perd, Prins

Frans Arpin by sy perd, Morkel, op die bakkie

Top of page

Copyright © 1998 - 2012, Horse Junction. All rights reserved.