Perde kommunikeer met mekaar deur middel van lyftaal. Bietjie geluide ook, maar veral lyftaal. Daarom is die perd 'n meester om lyftaal te lees. Hy weet onmiddelik wanneer ander perde bang is, kwaad voel of tevrede is.
Net so lees die perd jou lyftaal. Hy kyk na jou houding en dit vertel vir hom presies hoe jy voel. Maar die mens is slim en kan sy lyftaal doelbewus verander of aanpas net soos hy wil. Op hierdie manier praat mens dan met jou perd en hy verstaan presies wat jy vir hom sê.
Daar is veral vier tipes van lyftaal wat ons gebruik wanneer ons met perde werk.
Vriendelike lyftaal
Ons ken dit ook as die passiewe houding. Hou jou arms langs jou sye en vou jou hande effens toe. Hou die handpalms na onder. Die perd sal gou sien as jy vuiste maak en dit lyk aggressief. Laat jou skouers hang, rus effens op die een voet, draai jou sy na die perd en hou jou oë op die grond, effens voor die perd, maar sodat jy darem nog die perd kan sien. Moenie hom in die oë kyk nie.
Die onsigbare houding
Die passiewe houding kan oorgaan tot die onsigbare houding indien dit nodig word. Die onsigbare houding word gebruik wanneer 'n perd senuweeagtig word. Wanneer jy met hom grondwerk doen, kan die druk vir hom te veel word. Dan moet jy doodstil staan, op jou gemak wees en natuurlik wegkyk. Die perd sal belangstelling in jou verloor, van jou vergeet en kalmeer.
Die dominante houding
Strek jou tot jou volle lengte uit. Wees so groot as wat jy kan. Hou die arms effens weg van die sye om groter te lyk. Die dominante houding word gebruik om vir die perd te wys wie van julle twee die leier is. Wanneer 'n perd hom wil teësit moet jy die dominante houding gebruik wat sê: "Ek is die baas hier, en jy maak soos ek sê!" Kyk hom stip in die oë en tel jou hande op. Dit maak jou nog groter.
Die uitnodigende houding
Wanneer jou perd besef dat jy die leier van julle twee is, sal hy baie graag in jou geselskap wil wees. Die uitnodigende houding lyk soos iemand wat die voordeur oopmaak vir 'n besoeker en hom na binne nooi.
Jy kan dus self besluit wat jy vir jou perd wil sê. Wanneer jy die dag kwaad voel en kwaad is wanneer jy by jou perd kom, sal hy dit dadelik by jou lees. Besluit self watter houding jy by jou perd gaan inneem en jy kan die presiese terugvoer van hom kry. Die beste is om elke dag dieselfde by jou perd te wees, al voel jy nie elke dag ewe lekker nie. So sal jou perd leer om jou te vertrou.
Hier is 'n paar dinge wat jy beslis nie moet doen nie:
• Moenie van blydskap op jou perd afstorm en hom om die nek gryp nie. Hy sal skrik en weghardloop.
• Moenie met jou hand oor sy mond vryf nie. Perde het fyn snorbaardjies wat baie sensitief is vir aanraking. Streel hom eerder teen sy nek. Hou perde dop ek kyk waar hulle mekaar op hulle lywe groom. In Afrikaans praat ons van "knuffel". Krap hom op dieselfde plek op sy lyf.
• Ruiters het die gewoonte om hul perde teen die nek te klap wanneer hulle die perd wil prys. Dit is ongemaklik vir die perd, maar hulle verduur dit maar. Vryf hom eerder lekker teen sy nek.
Praktiese oefeninge
• Oefen die vier tipes lyftaal voor die spieël totdat jy oortuig is dat dit reg lyk. Vra jou vriend om te sê watter boodskap elkeen uitdra. Wanneer jy later baie met perde werk, sal dit al deel wees van jou.
• Wanneer jou perd jou erken as sy baas (sy meerdere) sal jy meestal die uitnodigende houding gebruik.
• Grondwerk. Hoe vorder jy met die grondwerk waaroor ons laas gesels het?
• Voeg hierdie oefening by: Gebruik 'n lang haltertou om om die perd se voorpoot te sit. Trek dan die punt van die tou deur sodat jy met altwee punt in hou hande staan en die tou agterom die poot is. Moet niks vasmaak nie. Vra hom om voet te gee en trek effens aan die tou. Hy sal gou verstaan dat hy sy poot moet optel. Oefen altyd aan die linker- en aan die regterkant van die perd. 'n Perd wat dit reeds geleer het, is altyd 'n plesier vir die hoefsmit wanneer aan sy voete gewerk moet word. Jy kan later dieselfde oefening met die agterpote doen.