Login / Register You are not logged in.

Featured ads

How can I feature my ad?

 

‘n Uitdaging vir die langasems

deur Paul van Dam en Izak Hofmeyr

Uithouritte word al sedert 1974 as sport in Suid-Afrika beoefen. Die lekkerte van die sport het ook ruiters in ons buurlande, Botswana en Namibië, beetgepak met die gevolg dat daar in albei hierdie lande ook uithouritverengings is. Ritte is aanvanklik oral aangebied onder soortgelyke reëls as dié van die Uithouritvereniging van Suid-Afrika (Erasa).

Duncan Browne op Jair Ahira,
algehele wenners van die 2010 SAIC

 

Soos met enige sport wil ʼn mens tog graag jou vermoëns meet teen ander, eers plaaslik, maar dan ook op internasionale vlak. Logies dus dat spanne van hierdie buurlande aanvanklik ingeskryf is om Suid-Afrika aan te pak by die grootste rit in Suider-Afrika (en die wêreld), die jaarlikse Fauresmith 200 wat in Julie aangebied word.

Reëls en regulasies

Groei en ontwikkeling is noodsaaklik om vooruitgang te verseker en uithouritte is geen uitsondering nie. Met Suid-Afrika se toetrede tot die internasionale arena is ons onderhewig aan die Federation Equestre Internationale (FEI) – ʼn liggaam wat internasionale deelname aan perdesport te koördineer. Die FEI het ʼn stel reëls opgestel wat tydens internasionale kompetisies gebruik word om die speelveld gelyk te maak.

Namibië het besluit om al hul ritte onder hierdie reëls aan te bied. Die FEI-reëls het ook ʼn invloed op Suid-Afrika gehad. Ook in Botswana is begin om ritte onder die FEI-reëls aan te bied. Gesprekke is gevoer waarna die drie verenigings besluit het dat dit sinvol sou wees om alle kompetisies waaraan hulle in spanverband teen mekaar meeding, ook volgens die FEI-reëls aan te bied.

Trevor Rous

 

Die Fauresmith 200 het egter ʼn unieke karakter en daar is besluit om dit nie na ʼn FEI-rit te verander nie. So is die Drienasiesrit gebore as die Suid-Afrikaanse been van die kompetisie tussen die drie lande – ʼn rit van 120 km in een dag, onder FEI-reëls. Daar word egter steeds voorsiening gemaak vir deelname aan hierdie kompetisie deur individue onder Erasa-reëls (maar ʼn stel Erasa-reëls wat grotendeels ooreenstem met die reëls van die FEI).

Die eerste kompetisie in hierdie formaat is in 2006 op Christiana gehou. Sedert 2009, toe die rit op Beaufort-Wes aangebied is, word spanne van ander lande ook genooi om met Suid-Afrikaanse perde aan die rit deel te neem, en is die rit se naam verander na die Suid-Afrikaanse Internasionale Uithourit-uitdaging (South African International Challenge).

Een van die uitdagings van die kompetisie is juis dat dit elke jaar op ʼn ander plek aangebied word. Dit beteken ruiters en spanne moet hul strategie telkens opnuut beplan, dikwels sonder die luukse van statistiek van vorige ritte op dieselfde baan. Vanjaar vind die rit op Modimolle (Nylstroom) plaas op ʼn baan wat nog nie ʼn hoëvlakkompetisie gesien het nie. Daar is dus geen beproefde strategie wat ruiters kan volg nie, wat beteken die wenner sal aan sy ruiterskap gemeet word.

Die baan

Die rit oor 120 km word as ʼn tweester FEI-rit geklassifiseer. Volgens die voorsitter van die reëlingskomitee, Niel Kirstein, is daar iets van alles op die baan – stukke is klipperig, ander dele sanderig en groot dele is heuwelagtig.
“Die verskil tussen die hoogste en die laagste punt op die baan is 200 meter. Ruiters sal dus goeie oordeel aan die dag moet lê om hulle perde nie te hard te laat werk teen die rante nie,” waarsku hy.

Lanel van Niewenhuizen

 

Die baan bestaan uit drie bene, maar been twee en drie is dieselfde sirkelroete wat in dieselfde rigting gery word. “Ons het die baan só beplan dat ruiters nie op die twee laaste bene van voor af bymekaar moet verby ry nie. Groot dele van die baan is eenspoorpaadjies wat so ʼn situasie besonder gevaarlik sou maak.

“Die eerste been is 40 km, ongeveer 25 km hiervan is grondpad. Ons het dit so beplan omdat die eerste ruiters vieruur in die oggend wegspring en dit dus veiliger is om op ʼn oop pad te ry. Die vangplek is egter dat die meeste van daardie 200-meter verskil tussen die hoogste en laagste punt op die eerste been lê. Dit gaan ʼn groot uitdaging aan die ruiters stel om hulle perde oordeelkundig te ry.”

Die ruiters kom op Dinsdag, 5 April, by die ou skietbaan net buite Modimolle bymekaar. Dinsdagaand word die nasionale en provinsiale spanne aangekondig, en Woensdag vind die veeartsondersoek plaas. Die eerste ruiters spring Donderdagoggend, die 7de, om vieruur weg en die prysuitdeling is Vrydagoggend tydens ʼn vonkelwynontbyt.

Wat die ruiters sê

Ons het vinnig met drie ruiters van verskillende nasionale spanne gesels oor hul voorbereiding vir die rit.
Volgens Trevor Rous van Colesberg, wat met sy agtjarige reun, Henham Missile, in die swaargewigafdeling gaan deelneem, is daar twee aspekte wat hom effens bekommer: die hitte en die watergehalte.

“Ek verstaan groot dele van die roete gaan deur bosse, wat beteken dat daar nie regtig wind gaan wees om die perd af te koel nie. Dit sal baie oordeel van my vereis om nie te veel van Missile te vra as dit baie warm is nie. Verder hoor ek die ouens sê die water daar is effens brakkerig. Ek sal dus baie seker moet maak Missile raak gewoond daaraan sodat ek nie met ontwateringsprobleme sit nie.”

Hoewel die baie reën sy oefenprogram effens vertraag het, voel hy dat Missile besig is om mooi gereed te raak vir die rit: “Ons het nou die ander dag ʼn goeie 80 km by Koffiefontein gaan ry en dit het goed gegaan,” sê hy.

Hy meen omdat die baan ʼn onbekende faktor is, kan ʼn mens nie spesifiek in jou oefenprogram daarvoor voorsiening maak nie. ʼn Mens sal dus jou ritstrategie daar moet beplan nadat almal die baan die vorige dag deurgegaan het.

Oordeelkundig

Lanel van Niewenhuizen van Louis Trichardt is vir die nasionale span in die senior standaardgewig-afdeling gekies. Sy ry op die negejarige reun, Iktara Chameen, en sy sien baie uit na die rit.

“Ek dink ʼn mens sal baie goed moet konsentreer om aan te pas by die verskillende oppervlaktes wat ʼn mens op die baan gaan teëkom, en ek dink die klimaat kan ook ʼn baie belangrike rol speel, veral as die humiditeit hoog is.”
Die feit dat sy vir die nasionale span ry, gaan beslis haar strategie beïnvloed. “Dit is belangrik dat al die spanlede die rit stewig klaarmaak, so ʼn mens sal baie oordeelkundig moet ry.”

Die wenner van verlede jaar se kompetisie op Schweizer-Reneke, Duncan Browne, is vir die nasionale jong ruiter-span gekies. Hy ry weer vanjaar op die wenmerrie van verlede jaar, Jair Ahira. Die merrie is vanjaar elf jaar oud. Sy het nie net verlede jaar gewen nie, maar is ook aangewys as die perd in die beste kondisie ná die rit.

“My oefenprogram lyk effens anders as verlede jaar omdat vanjaar se baan baie meer bulte het as verlede jaar s’n. Ons konsentreer dus nogal baie op bulte ry. Ek moet sê, Ahira voel vanjaar eintlik sterker as verlede jaar.”
Duncan is baie versigtig vir die baan. Hy dink baie ruiters gaan die fout maak om die baan te onderskat. Hy beaam dat om vir ʼn span te ry, ʼn verskil maak aan jou benadering tot die rit. Dit is nou belangriker vir al die lede om klaar te maak as vir een ruiter om individueel te presteer.

Top of page

Copyright © 1998 - 2012, Horse Junction. All rights reserved.