Login / Register You are not logged in.

Featured ads

How can I feature my ad?

'n werker wat sy trek ken

Dink ʼn mens aan swaar trekperde, staan die Percheron sekerlik voor in die ry. Hierdie reuse het ongetwyfeld ʼn geweldige aandeel gehad in die ontwikkeling van landbou in Suid-Afrika gedurende die laat negentiende en vroeg twintigste eeu. Vandag beleef die ras ʼn beduidende oplewing in belangstelling en verbetering in gehalte van perde.
Die eerste Percherons is gedurende die tweede helfte van die negentiende eeu na Suid-Afrika ingevoer. Getalle het gaandeweg gestyg namate nóg diere hul pad hierheen gevind het en die plaaslike teling van dié uitstekende werkperde momentum gekry het. Dit het nie lank geneem voordat spanne Percherons ʼn algemene gesig op die koring en wynlande van veral die Swartland en Boland geword het nie. Die perd het ook baie gou na die res van die land versprei.

Stamboek-erkenning

ʼn Percheron besig om besproeiingspype te skuif op ’n plaas in KwaZulu-Natal

Die eerste agt perde – vier hingste en vier merries, almal van Franse afkoms – is in 1913 in Volume 8 van SA Stamboek aangeteken. Twee van die hingste het aan die staat se teelstasie op Standerton behoort, een aan die proefplaas op Potchefstroom, en die vierde hings, tesame met drie ingevoerde merries, aan die Elsenburg Landboukollege. Stoeterye is ook op Grootfontein Landboukollege naby Middelburg in die Karoo, by Glen Landboukollege in Bloemfontein en Cedara naby Pietermaritzburg gevestig.

Nuwe hingste, en ook per geleentheid semen, is met gereelde tussenposes gedu-rende die eerste helfte van die twintigste eeu ingevoer. Gedurende die 1950’s en 1960’s het die ras veral ongekende gewildheid ge-niet. Soveel as agt spanne van agt perde was ʼn gereelde gesig op landbouskoue.

Hierna het die ras egter in gewildheid begin afneem namate meganisasie op plase toegeneem het. Die laaste hings is in 1968 uit Frankryk ingevoer.

Tot 41 jaar later met die aankoms van die drie-jaar-oue Sympa de Bellevue in 2009. Dit is ʼn weerspieëling van die opbloei in belangstelling na dié reuse, maar wat ook opsigself die momentum ʼn verdere hupstoot gegee het.
Die aanwys van Sympa as Opperste Kampioen-teelhings by die onlangse Perd-van-die-jaar-skou van die Gautengse Perdevereniging (sien ons artikel elders in hierdie uitgawe) bewys dat die Percheron met mening terug is in Suid-Afrika.

Franse wortels

Dit word algemeen aanvaar dat die Percheron in die La Perche-streek van Frankryk ontstaan het en dat Oosterse (Arabiese) perde wat deur die More agtergelaat is, ʼn invloed op die ras gehad het. Die oorspronklike Percheron het reeds so vroeg as 732 nC al bestaan. Hulle was glo lig en vlugvoetig, dog sterk genoeg om ʼn ridder in volle mondering te kon dra. Mettertyd het die behoefte in die landbou en vervoerbedrywe ʼn verskuiwing na groter en swaarder perde meegebring, wat die Percheron gemaak het wat hy vandag is – ʼn betroubare, sterk en hardwerkende trekperd wat maklik is om te hanteer.

Vandag is daar twee tipes Percherons, die Diligencier, ʼn ligter, meer atletiese perd om medium vragte vinnig te trek, en dan die Trait, of swaar trekperd.

Eienskappe

Die Percheron behoort ten minste 16 hh te wees en moet die indruk van krag skep. Hy behoort tussen 800 en 1 000 kilogram te weeg en as hy reg hanteer word, behoort hy maklik te wees om te hanteer. Die dier is ʼn gewillige werker en ʼn plesier om na te kyk. Hy behoort goeie balans te hê met goeie beenmassa.
Die Percheron is veelsydig en behoort enige soort plaaswerk te kan doen. Sy aanpasbaarheid is wat van hom so ʼn gewilde werkperd maak.

Telers

Die Percheron Perdetelersgenootskap van Suid-Afrika het tans 39 lede en die aantal diere op rekord wat by SA Stamboek geregistreer, is 235 diere waarvan 165 merries, 64 hingste en ses reunperde. Die getalle sluit vullens in.
Die Genootskap se raad bestaan tans uit:

  • President: Jan Engelbrecht, Gauteng.
  • Vise-president: Klaas van Wyk, Noordwes.
  • Raadslid: Ds Paul Lubbinge, Wes-Kaap.
  • Raadslid: Dr Peter Dommett, KwaZulu-Natal.
  • Raadslid: Johan van der Merwe, Wes-Kaap.
  • Sekretariaat: Ina Annandale en Johan Henning.
  • Stamboekverteenwoordiger: Sumari Taljaard.

Vir meer inligting, e-pos Johan Henning by sapercheron@gmail.com.

Top of page

Copyright © 1998 - 2012, Horse Junction. All rights reserved.