Manipulering of mobilisering?
deur Nancy S Lonving, DVM
 |

|
Spinale mobilisering beskryf die gebruik
van sikliese en ritmiese krag om
selektiewe verplasing langs die ruggraat teweeg te bring |
Rugpyn onder perde maak dikwels dat ’n perd met ’n stywe romp beweeg, terwyl hy ook asimmetriese spinale beweging en mankheid toon. Perde-eienaars wend hulle gewoonlik tot chiropraktiese sorg om hul perde weer op hul gemak te stel en hul prestasie te verbeter.
By die 2010 konferensie van die Amerikaanse Vereniging vir Perdepraktisyns (AAEP) wat tussen 4 en 8 Desember in Baltimore, VSA, gehou is, het dr Kevin Haussler van die Universiteit van Colorado se Skool vir Veeartsenykunde, navorsing bespreek waarin hy en sy kollegas die uitwerking van twee verskillende chiropraktiese tegnieke gemeet het, naamlik spinale manipulering teenoor spinale mobilisering.
Selektiewe verplasing
Spinale mobilisering beskryf die gebruik van sikliese en ritmiese krag om selektiewe verplasing langs die ruggraat teweeg te bring. Dit word verkry deur herhaaldelik ferm afwaartse druk en ontspanning al langs die ruggraat toe te pas. Spinale manipulering (SMT) word verkry deur middel van hoë-snelheid stukrag teen ’n lae omvang. Volgens Haussler bring spinale manipulering verhoogde soepelheid, verbeterde prestasie en verminderde pyn en spierspasmas by perde te weeg.
In sy navorsing het Haussler en sy span een keer per week vir drie weke ‘n totaal van 24 perde wat gereeld gery word, met SMT behandel op vyf thorakolumbalis-areas (in die saalarea, voor die bekken). Haussler verduidelik dat 70% van die buigstrekking van die romp by die lumbosakrale aansluiting plaasvind. Dit is die gewrig tussen die lendewerwels en die kruisbeen, net voor die kruis. Navorsers het hoogtepunte in vertikale beweging, toegepaste druk en styfheid in hierdie vyf intervertebrale areas gemeet.
Navorsingsresultate
Die resultate van die navorsing het getoon dat manipulering en mobilisering albei spinale mobiliteit verhoog. Volgens Haussler veroorsaak SMT dat die ruggraat buite sy normale strekking beweeg, terwyl mobilisering gewoonlik slegs doeltreffend is binne die normale omvang van gewrigsbeweging.
Waar mobilisering konsekwent vertraagde verhogings in ruggraatbeweging of soepelheid tussen behandelingsessies veroorsaak het, het SMT ’n tussentydse terapeutiese uitwerking gehad. Sodanige uitwerkings van SMT-verplasings het tussen behandelingsessies geduur, terwyl die uitwerking van mobilisering nie het nie.
Sonder die pyn
Haussler verduidelik dat mobilisering ’n meer konserwatiewe en minder kragtige tegniek is, wat dit geskik maak vir die behandeling van akute pyn, sonder om die sagte weefsel te beskadig. Manipulering is ’n meer aggressiewe benadering met merkbare voordele vir kroniese nek en rugpyn. Hy stel voor dat bykomende behandelingsessies nodig kan wees vir effek oor die langer termyn, as wat telkens ná elk van die drie spinale manipuleringsbehandelings in die navorsing aangewend is.
(Hierdie artikel is gebruik met volle erkenning aan www.thehorse.com)
|