Groei nader aan jou perd
deur Stroebel Hofmeyr
Ek dink daar is baie mense soos ek wat as kind gedroom het om eendag op ’n perd se rug oor die vlaktes te galop, oor boomstompe te spring en soos die ruiters in die Spaanse ryskool, die pragtige perde te laat dans. Maar vir hoeveel het dit geëindig in teleurstellende puntetoekennings in dressuurtoets op dressuurtoets, of springkompetisie op springkompetisie? Ek wil graag ’n bietjie gesels oor hoe ’n mens so kan perdry dat, of jy nou aan kompetisies of uithouritte deelneem, of sommer net saam met ’n paar maats in die veld in ry, jy intense genot kan ervaar met ’n perd wat amper deel van jou geword het.
Iets om oor liries te raak
Vir baie van ons is een van die asemrowendste diere ’n jong hings wat vry in ’n kampie pronkend aan die beweeg gaan, met pragtig geronde nek, pote wat dansend hoog trap, en kragtige spiere wat vloeiend span en ontspan in ’n toonbeeld van borrelende energie. Vir die wat perde nie ken nie, is so ’n gesig vreesaanjaend. Maar ek het goeie nuus: As jy reg werk met daardie perd en saam met hom ontwikkel, en as ‘t ware een word, sal hy al daardie energie in jou beheer plaas, en jou toelaat om hom met die sagte druk van ’n voorvinger of ligte tikkie van jou been, of ’n skaars hoorbare klik van jou tong te laat dans of tol of doodstil stop soos wat jy goeddink. Ek ken geen ander dier wat al sy krag en energie so volkome aan jou, sy leier, toevertrou nie.
As perde en ruiters saamdans
Die algemeenste indruk wat verbygangers het oor ’n ryskool, is lustelose perde waarop jong ruiters geleer word om al die regte dinge te doen om by die volgende kompetisie of saamtrek na die volgende vlak op die dressuurskaal, perdespring of hindernisbaan te vorder. Sou jy vir ’n jong ruiter vra om ’n laterale beweging na links of regs te maak, sal hy sê nee, hy is nog nie op daardie vlak nie. So asof die perd iets van vlakke weet! Kinders behoort in die eerste plek nie ingestel te wees op elementêre kompetisies nie, maar moet gehelp word om te droom dat hulle en hul perde enigiets kan doen wat lekker is en wat gebou is op die perd se vertroue in sy ruiter en die ruiter se begrip van sy rydier. Dan is die vraag nie wat die vereistes vir die volgende kompetisie is nie, maar watter aspekte van my rykuns en my perd se afrigting nou moet aandag kry. Wat is my punt? As jy saam met jou perd wil dans, moet al jou afrigting daarop ingestel wees om die punt te bereik waar jy en jou perd saam sal dans. Dan sal julle saam die hoogste sport bereik in watter dissipline julle ook al wil meeding, hetsy uithouritte, springkompetisies, hindernisbane of vyfgang- skouklasse. En dit bring my by die perd se rug!
Jou perd in jou hand
So maklik en natuurlik as wat dit vir ’n perd is wat vry rondbeweeg, om te ‘dans’, so moeilik is dit om die ruiter te kry om die perd onder die saal dit te laat doen. En, eienaardig genoeg, die grootste rede hiervoor is omdat die ruiter te veel doen en te min aan die perd oorlaat. Onthou, dis die perd wat moet dans; die ruiter moet net saamgaan! Daar is ongelukkig nie ’n Afrikaanse woord vir wat in Engels bekendstaan as collection en waarvoor die Franse die woord rassembler gebruik nie. ’n Perd wat in true collection of rassembler is, voer sy bewegings dansend uit, en kom die naaste aan die jong pronkende perd waarna hierbo verwys is.
Wat ons graag wil beskryf is ’n bepaalde houding wat, let wel, die perd inneem. Omdat dit pertinent nie die ruiter is nie, maar die perd wat die houding inneem, is die woord ‘saamgevat’ nie geskik nie. ’n Woord wat glad nie in gebruik is nie, maar wat die houding die beste beskryf, is ‘oorgehaal’.
Wat gebeur met sy rug?
Die regte definisie vir hierdie ‘oorgehaalde’ houding behoort te beskryf wat met die perd se rug gebeur, sodat hy die ruiter die gemaklikste kan dra. Wat ’n mens van buite kan sien, is dat die perd sy voorkop-neuslyn vertikaal hou; sy nek ontspanne gerond met die agterkop (poll in Engels) die hoogste punt; sy rug word korter en breër; sy beenbewegings word meer geaksentueer met hoër knie en hak-aksie; en sy ingesteldheid lyk na dié van gereedheid vir enige soort aksie.
Hierdie voorkoms van die perd ontstaan deurdat die rugwerwelkolom só verander, dat die perd met die selektiewe sametrekking en ontspanning van sy spiere vloeiend kan beweeg terwyl hy amper onbewus word van die ruiter se gewig op sy rug.
Om hierdie toestand van oorgehaaldheid en hierdie rughouding te bewerkstellig, moet die perd drie dinge doen:
- Hy moet sy lendespiere onder hom inbuig (hy skuif die gewig na sy agterlyf).
- Die ontspanning van die spiere van sy toplyn, van sy agterkop tot by sy spronggewrig, stel hom in staat om sy rug (onder die saal) te lig.
- Laastens, die perd is finaal oorgehaal as die basis van sy nek lig (ek hou van die uitdrukking: Hy dra sy skouer).
Werklik oorgehaal vs vals oorgehaal
Omdat dit die perd is wat ’n oorgehaalde houding moet inneem, help dit nie om hom in ’n vorm te dwing deur sy kop af te druk deur die gebruik van syteuels, of sy nek te buig met ’n spesiale stang of sy pote te laat lig met swaar ysters nie. Die beste bewyse dat hy nie oorgehaal is nie, is dat hy swaar op die teuels lê, dat sy nek vals buig (die agterkop is nie die hoogste punt nie), en dat hy nie veerlig in jou hand is nie.
Wat maak my perd oorgehaal?
Enige perd kan oorgehaal ry, mits hy reg afgerig word. Die volgende is ononderhandelbaar:
- Hy moet jou as leier aanvaar en jou vertrou.
- Hy moet energiek vorentoe, agtertoe en halt.
- Hy moet in al drie basiese gange gebalanseerd beweeg, kan versnel en verlangsaam.
- Hy moet vanuit die stilstaande posisie en tru-beweging direk kan oorgaan in ’n stap, draf of galop.
- Hy moet sensitief wees vir jou beendruk.
- Hy moet met gemak systapbewegings kan uitvoer en kan tol op sy voor en agterlyf.
’n Perd kan net aan die lysie vereistes voldoen as hy ontspanne, soepel en sterk is in al sy spiere. Dit vra oefening van perd en ruiter. In die proses behoort die twee so na aan mekaar te ’groei‘ dat die geringste tekens van die ruiter die perd se bewegings sal bepaal. So ’n perd sal outomaties oorgehaal wees as die ruiter net effe meer regop/dieper in die saal sit, die teuels saggies voel en die perd liggies met die bene vorentoe por.
Ek het vryelik gebruik gemaak van ’n artikel van dr Deb Bennett oor dieselfde onderwerp. (http://www.equinestudies.org/true_collection_2008/true_collection_2008_pdf1.pdf).
|