Die perdefluisteraar
Susan de Lange van Cullinan skryf: In ʼn vorige uitgawe het julle baarmoederprolaps bespreek, maar hoe gemaak as daar probleme is by geboorte? My merrie is kunsmatig geïnsemineer met ʼn warmbloedhings. Dis ʼn vul waaroor ek baie opgewonde was. Ek kon nie wag dat die elf maande moet verby gaan nie. Ek het elke dag met die vul gepraat en vir mamma bederf en haar elke dag gemonitor. Sondagaand, 19 Desember, kom ek agter die tyd is nou naby. Dit was so agtuur die aand. Sy het gaan lê, begin druk, en ek was in ekstase; my vul was op pad en ek kon dit beleef! Nie almal is so gelukkig nie. So ʼn halfuur nadat sy gaan lê het, vlieg sy op. Ek gaan staan toe in die stal langsaan; geen ligte was aan nie, so sy is nie gesteur nie. Met die opvlieg sien ek toe daar is fout agter. Dit was nie die vul se sak nie, dit was donker rooi, en het soos ʼn rugbybal gelyk. Ek bel toe my veearts maar kry hom nie in die hande nie. Gelukkig het ek ʼn vriendin wat ook ʼn veearts is en ek bel haar toe en sê daar is moeilikheid. Dit is toe die buitenste sak van die vul wat eerste geskeur het en uitpeul.
 |
Akiva en sy stiefma, Susan. Die foto is geneem toe hy drie dae oud was |
Die vul moes uit of ek kon albei verloor. Sy het weer gaan lê, maar kry nie die vul uit nie. My vriendin sê ek moet voel wat aangaan. Ek kon die bene voel; dit was baie dik en lank, maar ek kon nie die kop kry nie. Die merrie was ietwat benoud. My vriendin kom toe tot my redding. Toe sy sien wat aangaan begin sy dadelik die vul uithaal. Hy was baie groot. Baie versigtig, met ʼn gesukkel is hy uit en hy lewe ... Ek was verlig en baie bly, hy was pragtig. Ons het hom opgehelp ná ʼn paar uur sodat hy kon drink, maar hy wou nie.
Ons het die oggend so teen agtuur vir hom melk met ʼn spuitjie ingegee. Sy mamma het rondgestaan, hom gelek, kos geëet en alles het in orde gelyk. Maar teen tienuur het sy weer gaan lê. Ek het haar opgejaag sodat hy kon drink, maar sy het weer gaan lê. Dit was vreemd. So tien minute later het sy na haar maag gekyk, en erg begin druk, asof daar nog iets binne was; die nageboorte was reeds uit en alles was daar. Sy het gelyk of sy koliek het, sy was benoud en klam. Ek bel toe die veearts. Ek het gehardloop om vir haar Coke in te gee, en sy het benoud gerunnik. Terug by die stal het ek haar Coke probeer ingee en vir die veearts by die hek gaan wag. Dit was nie vyf minute nie, toe my vriendin hek toe kom en my vertel dat die merrie dood is. In daardie stadium kan ek dit nie glo nie. Wat van my vul? Die nadoodse ondersoek het bevestig dat haar uterus geskeur het. Sy het doodgebloei. En nou die vul. Ek kan jou nie vertel hoe erg die eerste ses weke was nie.
Aan die begin het ek nie geslaap nie. Ek het nog nooit ʼn vul grootgemaak nie. Kalwers, bokkies en lammers ja, dit kan ek doen, maar ʼn vul? Ek het raad by verskeie mense gekry. Hy moes melk kry en ʼn klomp goed vir sy magie en so aan. Maar vandag is hy sterk, pragtig en soos my kind. Ek moes hom al kortvat, want ek wil nie ʼn monster hê as hy groot is nie. Ek hoop en bid dat hy sal grootword sonder probleme of siektes. Hy word opgepas en slaap in my sitkamer. Dis net makliker om hom in die nag so melk te gee. Dis maar gevaarlik buite. Sy naam is Akiva. Dit beteken ‘beskermd’ in Hebreeus. Ek dink ons het dit nodig.
Jan Engelbrecht, president van die Percheron Genootskap skryf: Die Percheron Genootskap van Suid-Afrika betuig hiermee sy dank aan SA Horseman vir die besonderse wyse waarop die tydskrif betrokke geraak het by die Genootskap se onlangse skou- en inligtingsdag. Baie dankie vir die prysgeld van R500 vir die grootkampioen-hings en R500 vir die grootkampioen-merrie wat deur SA Horseman geborg is. Sympa de Bellevue is aangewys as die grootkampioen-hings en Trek-Lekker Lora is as die grootkampioen-merrie bekroon. Albei perde behoort aan die Summerwind-stoet van Johan Henning. Die prysgeld is aan hom oorhandig.
|