Die wonder van rus
deur Paul van Dam
Die nuwe jaar is al amper vier maande oud. Dinge het so vinnig begin, dat dit voel asof Kersfees al lank in die verlede lê. Dit sou darem lekker wees om nou weer vir ’n dag of wat voete in die lug te kon sit, sonder om oor die werk en al die ander dinge wat ons besig hou, te dink – maar dit is vir min beskore!
Die meeste van ons het ook ons perde gedurende die feesgety ’n blaaskans gegee en met die aanbreek van die nuwe jaar weer volstoom begin oefen. Daar word nou hard gewerk en voorberei vir groot byeenkomste, en die perde moet werk om die beste moontlike kans te hê om te kan presteer. Kan dit wees dat ons perde ook smag na ’n kort verposing om net weer tot verhaal te kom?
Spierpese en buigpese
Een groot vrees van elke mededingende ruiter is dat sy perd seerkry in die aanloop tot ’n groot kompetisie. Dit gebeur met van die beste perde elke jaar en wanneer dit gebeur, weet ons dikwels nie die presiese rede nie. Om alles te kroon, is dit dikwels ’n spierpees wat die moeilikheid veroorsaak en die perd se toekoms as sportperd in die weegskaal laat hang.
Spierpese, en veral die buigpese (dis nou die spierpese wat aan die agterkant van die been lê) is wonderlik. Buigpese is inherent elasties. Tydens beweging rek die buigpese en skiet terug soos ’n rek. Wanneer die perd hard oefen met ’n ruiter op sy rug, rek die pese gevaarlik vêr uit en met elke rek word ʼn bietjie skade aangerig. Hierdie skade is nie met die oog sigbaar nie, maar wel op mikroskopiese vlak. Die perd wys ook niks nie en gaan aan asof niks fout is nie.
As die perd se liggaam nie genoeg tyd gegun word om die mikroskopiese skade te herstel nie, bou die skade op tot ’n punt waar die gesamentlike effek skielik te veel word. Die resultaat is dat die perd skielik mank word, ’n baie gevoelige spierpees het en jou kanse om deel te neem aan die groot kompetisie waarvoor jy so hard gewerk het, lê aan skerwe.
Vat ’n ruskans
Rus is ’n belangrike deel van enige oefenprogram. Dis noodsaaklik om aan die begin van enige seisoen jou beplanning so te doen dat jou perd wel iewers ’n kort vakansie kry. Drie tot vier weke se rus is baie meer voordelig as ’n aanhoudende strawwe oefenprogram. Wat meer is, die Skepper het in sy wysheid daarvoor voorsiening gemaak dat jy jou perd kan laat rus
Perde, die wonder van die skepping, kan vier weke rus sonder om hul vlak van fiksheid te verloor. Laat rus jou perde om te herstel en so hul lywe voor te berei vir groter uitdagings! Gun jou perd die kort vakansie wat jy ook so graag wil hê!
|