Voeding vir jou atleet
deur dr Francois van Niekerk (PhD)(Agric)(Pr Sci Nat)
 |
Namate die perd se aktiwiteit toeneem, behoort
energie-inname verhoog te word |
Die perdebedryf raak by die dag meer kompeterend wat prestasie betref.
Die renperdbedryf is die grootste, gevolg deur saalperde en die opkomende uithouritsport. Al drie dissiplines is uiters mededingend en perde
se vermoëns word dikwels tot die uiterste beproef.
Om dít moontlik te maak, moet die perd oor ʼn goed-ontwikkelde kardiovaskulêre, pulmonêre, endokriene en senuweestelsel beskik, om die goed-ontwikkelde spierstelsel te onderhou. Om dit weer moontlik te maak, het die liggaam energie nodig wat op ʼn gesinkroniseerde wyse deur die verskillende stelsels gebruik kan word.
Spierweefsel is een van die belangrikste komponente in die liggaam. Spierweefsel beslaan die grootste hoeveelheid weefselmassa in die perd se liggaam. Daar is verskeie tipes spierweefsel wat elk verskeie funksies verrig.
Spiertipes
Die drie spierklassifikasies sluit in gladde, hart- en skeletspier. Die eerste twee is onwillekeurige spiere. Dit beteken hulle funksioneer na gelang van behoefte in die struktuur. Skeletspier, daarenteen, is willekeurige spiere en word beheer deur impulse afkomstig van die brein deur die senuweestelsel.
Gladde spiere kom voor in die spysverteringskanaal, respiratoriese stelsel, sirkulatoriese stelsel en urogenitale stelsel, en reageer op stimuli in die onderskeie stelsels. Hartspiere bestaan uit atriale en ventrikulêre spier asook gespesialiseerde geleidingsweefsel, en word deur die sentrale senuweestelsel beheer.

Skeletspier
ʼn Enkele spier is saamgestel uit verskeie spierbundels bestaande uit verskeie spiervesels. Daar is twee klassifikasies vir hierdie spiervesels, naamlik tipe 1 en tipe 2. Die stadig sametrekkende tipe 1-vesels word hoofsaaklik gebruik deur perde betrokke by ligte aktiwiteit. Die vinnig sametrekkende tipe 2-vesels word gebruik deur perde met atletiese aktiwiteit soos renperde, saalperde en uithouritperde.
Die stadig sametrekkende, oftewel stadig-vurende tipe 1-vesels oksideer nie die vesel-energie vinnig nie en tree dus energiebesparend op. Dit bring mee dat die vesels nie vinnig uitgeput raak nie. Die vesel is dus aërobies en word vir volgehoue swaar werk aangewend.
In teenstelling met die vinnig-vurende vesels van tipe 2, word spierenergie gou opgebruik, waarna spieruitputting intree. Tipe 2-vesels word onderverdeel in tipe 2A en tipe 2B. Tipe 2A-vesels word gebruik vir spoed of toenemende swaar aktiwiteit. Tipe 2B-vesels word gebruik vir volgehoue spoed tot op die punt waar die anaërobiese energie benodig word.
Die energiebron van hierdie spiervesels is ʼn kombinasie van glikogeen (die hoofvorm van koolhidraatberging), glukose (suiker) en vet. Wanneer die perd begin draf, word die tipe 2A-vesels gebruik en wanneer hy begin hardloop, die tipe 2B-vesels. Meer glikogeen word nou afgebreek deur die proses van glikolise na glukose en word benut in die produksie van energie.
Spierbeserings en metabolisme
Beserings aan spierweefsel kan die vermoë van werkverrigting nadelig raak. Daar bestaan verskeie vorme van spierwanfunksie weens glikogeen wat in spiere opbou, maar nie benut kan word deur die perd nie. Die toestand word polisaggaried-bergingsmiopatie (PSSM) genoem. Hierdie diere moet alternatiewe bronne van energie ontvang soos vette en goeie gehalte hooi.
Die werkende perd
Dit is duidelik dat die verskillende spierweefseltipes verskillende voedingstowwe gebruik. Dit is waarom proteïen, vette, koolhidrate en maklik verteerbare vesel van goeie gehalte in kombinasie gebruik word, om ʼn gebalanseerde rantsoen te produseer.
Vet kan vir alle soorte perde as energiebron gebruik word. Meer vette kan in die rantsoene van perde met tipe 1-vesels (uithouritte, werk, ens) ingesluit word in vergelyking met naellopers, aangesien hulle koolhidraatvlakke meer belangrik is.
Vet het 2,25 keer meer energie as dieselfde eenheid van koolhidrate. Vette kan maklik vir die daaglikse onderhoudsbehoeftes aangewend word. Sodoende kan die koolhidraatgedeelte die glikogeen in die spier stoor en die lewer weer vul (ongeveer 7% van totale lewermassa). Dit kan drie tot vier dae neem om die glikogeenreserwes weer op te bou in die geval waar onderhoudsenergie uit vette verkry word.
Op die punt waar die verbruik van ATP die produksie daarvan deur aërobiese aktiwiteit oorskry, neem die anaërobiese metaboliese baan oor met die produksie van meer melksuur wat spieruitputting tot gevolg het en noodgedwonge die prestasie van die dier inperk. Perde met ʼn skoon lugweg, normale mineralebalans, normale rooiseltelling en geen gewrigsprobleme, presteer onder hierdie voedingsomstandighede beter.
Proteïene
Die perd is ʼn enkelmaagdier ten opsigte van proteïenbehoefte (aminosuur). Verseker dat die proteïen in die rantsoen genoegsame essensiële aminosure bevat. Hierdie aminosure help met groei, spierfunksie en spierontwikkeling. Hierdie aminosure sluit in lisien, metionien, triptofaan en treonien. Metionien is veral saam met vitamien E betrokke by spiermetabolisme. Goeie bronne van proteïen sluit in sojaboonmeel, volvetsojameel en vismeel. Sintetiese aminosure kan ook gebruik word.
Energie
Koolhidrate: Mielies word algemeen beskou as die beste bron van koolhidrate. Hawer bevat minder koolhidrate, maar die groter veselinhoud maak hawer ʼn veiliger voer deurdat grootderm-asidose nie maklik bereik word nie.
Vette: Hoewel die gebruik van vette toenemend in perdevoeding gebruik word, moet in gedagte gehou word dat die perd nie ʼn galblaas vir die berging van gal het nie. Galsoute help met die solibulisering van vette vir die lipasewerking in die dunderm. Daarom is dit belangrik dat vette stelselmatig by die perd se rantsoen geïnkorporeer moet word. Vette wat algemeen gebruik word, sluit in koringolie, kanola-olie, sojaboonolie en gehidrouliseerde vette (droë vette).
Indien vette wel gebruik word moet die insluitingspeil nie meer as 7% tot 10% wees nie. Diere op rantsoene met ʼn hoë vetinhoud moet eers in die oefenprogram aangepas word om die vette beter te metaboliseer. In sekere gevalle van uitgerekte ritte kan vette die hoofbron van die perd se energie raak. Dit is ook al bewys dat perde op hoë-vet rantsoene ná oefening hoër bloedglukosevlakke het. Waar vette oor voer gegiet word, kan smaaklikheidsprobleme ondervind word.
Vitamiene
Dit is bekend dat die vetoplosbare vitamiene (A, D, E en K) in die liggaam opgeberg word vir toekomstige gebruik, terwyl die wateroplosbare vitamiene nie in groot hoeveelhede geberg word nie.
Vitamien A speel ʼn belangrike rol in die onderhoud van epiteelselle, hoewe en nagsig. Vitamien D help met kalsiummetabolisme. Vitamien E is noodsaaklik vir spierfunksie. Die B-vitamiene is primêr betrokke by energiemetabolisme en word deur die mikrobiese flora in die sekum gesintetiseer in genoegsame hoeveelhede om aan die perd se behoeftes te voorsien. Moet nooit oormatige hoeveelhede vitamienaanvullings aan perde gee nie.
Minerale
Kalsium, fosfaat, natrium en chloor is die primêre minerale wat prestasie betref. Kalsium en fosfaat is betrokke by verskeie funksies wat beengroei en -vorming, senuweegeleiding, spierkontraksie, energiemetabolisme en dies meer insluit. Jong perde in afrigting benodig meer Ca en P as ouer perde in afrigting. Die verhouding van Ca tot P in enige rantsoen moet altyd so na as moontlik aan ʼn 2:1-verhouding wees.
Natrium en chloor is belangrik in die onderhoud van die osmotiese en suurbasisbalans in die liggaam. Selenium is belangrik in spiermetabolisme en veral in die voorkoming van spieruitputting en -herstel. Jodium funksioneer as deel van die hormoon, tiroksien, wat die totale metabolisme van die liggaam reguleer.
Perde in afrigting
Die belangrikste om te onthou, is dat namate die perd se aktiwiteit toeneem, die energie-inname verhoog behoort te word. By werkende perde is die konsentraatgedeelte van die voeding gewoonlik 50% of meer. Die stalbestuur van diere met sulke hoë graaninnames moet goed wees, aangesien hierdie tipe voedingstelsel makliker tot metaboliese steurnisse of koliek aanleiding gee.
Sorg altyd dat genoeg ruvoer en skoon drinkwater beskikbaar is. Ongeag hulle werksfunksies, bly perde individue ten opsigte van hul gedrag, voedingsbehoeftes en uiteindelike prestasie.
Onthou, hierdie gegewens is bloot riglyne. Dit bly ons verantwoordelikheid om toe te sien dat ons perde die regte voeding ontvang.
E-pos dr Francois van Niekerk by francois@nubalance.co.za Vir meer inligting besoek www.nubalance.co.za
|