Login / Register You are not logged in.

Featured ads

How can I feature my ad?

Saalperd-vullens steel die kollig

deur Sandra Harding

Die wenner van die eerste Saalperd Futurity, Perfect Style and Grace

Die organiseerders van die Middelburg Skou het vanjaar weer eens verseker dat dié dorp se naam in die annale van die Saalperdbedryf opgeteken sal word, nadat die eerste Afrika-Saalperd Futurity Speenoudvul-kampioenskap tydens vanjaar se skou aangebied is. Daar is op Middelburg besluit omdat dit sentraal geleë is en ook die tuiste van ʼn aantal eerstes in die perde- en veral die Saalperdbedryf is. Telers van sover as Dundee in KwaZulu-Natal en van Gauteng het die skou bygewoon.

Die kompetisie het verseker dat die visie van ʼn Saalperdteler om ʼn plaaslike kampioenskap, gegrond op die All American Cup en die Blue Grass Futurity in Amerika op die been te bring, bewaarheid word.

Hoe werk dit?

ʼn Hingseienaar nomineer ʼn hings vir R1 000. Slegs een dekking per genomineerde hings word opgeveil, terwyl die eienaar van die hings ʼn merrie van sy keuse kan nomineer teen ʼn bykomende R1 000. Slegs twee vullens per genomineerde hings kan dus vir die klas kwalifiseer. Die opbrengs van die veiling en nominasies word as prysgeld aangewend.

Geskiedenis

Sir Clarence Ronald, ʼn vul wat beide die Bluegrass Futurity Weanling en die World Champion Weanling Breeder Stake in Amerika gewen het, was die inspirasie vir die Suid-Afrikaanse weergawe van die kompetisie. Dié vul is in 2009, tydens die Kentucky State Fair, deur Ross Millin van die Newline-stoet gekoop. Die vul is egter vroeg in 2010 na ʼn fratsongeluk dood.

Deelnemers aan die Afrika-Saalperd Futurity sal nie net om ongeëwenaarde prysgeld meeding nie, maar ook om ʼn imposante wisseltrofee, die Sir Clarence Ronald Gedenktrofee.

Die hings, Tornado's Perfect Timing.
Ross Millin hou die leisels

Hingsveilings

Die eerste hingsveiling het in Desember 2009 tydens die Paryse Binnemuurse Saalperdskou plaasgevind. Agt-en-twintig van die land se tophingste is vir die veiling ingeskryf. Dekkings ter waarde van net minder as R70 000 is tydens dié veiling verkoop.

Die tweede hingsveiling is verlede jaar in April tydens die Nasionale Saalperdkampioenskap in Bloemfontein aangebied. Saalperdtelers het hulle hande diep in die sakke gesteek om die dekking van veral twee jong ingevoerde hingste te verseker. Tydens dié veiling is dekkings ter waarde van R134 000 verkoop wat sal verseker dat die wenvul, wat tydens die Saalperdkampioenskappe in Bloemfontein in 2012 aangewys sal word, se prysgeld R50 000 sal wees.

Tydens dié veiling was dit veral die dekkings van twee jong ingevoerde hingste wat hoog in aanvraag was. HS Daydream's Premier Night, ʼn tweejarige ingevoerde hings, se dekking het vir R32 000 verkoop. Dié hings is uit die no 1-Saalperdhings in Amerika, CF First Night Out en die Broodmare Hall of Fame-merrie, A Daydream Believer, geteel. Dié merrie het reeds ʼn wêreldgrootkampioen en verskeie wêreldkampioene opgelewer.

ʼn Dekking van nog ʼn tweejaar-oue ingevoerde hings, Undulata's Made in Heaven, het die tweedehoogste prys van R23 000 behaal. Dié hings is uit die bekende Undulata's Nutcracker en die merrie, Believe in Love. Beide die hingste is in 2009 deur hul eienaar, Ross Millin, ingevoer.

Vir die kleiner teler

Die Afrika-Saalperd Futurity beteken nie net ʼn geweldige finansiële inspuiting vir die saalperdbedryf nie, maar maak ook die speelveld vir groot en kleiner telers gelyk. Elke teler wat die bloedlyne bestudeer en aan die kompetisie deelneem, sal die geleentheid kry om moontlik ʼn kampioenvul te teel. Die hoeveelheid merries wat ʼn teler besit, gee hom of haar nie ʼn voorsprong nie.

Beoordeling

Hoewel ʼn totaal van 46 vullens gekwalifiseer het om aan die kompetisie deel te neem, het twaalf vullens opgedaag om te skou. Van die 46 vullens is sommige vroeg dood, terwyl ander om ʼn verskeidenheid redes nie ingeskryf is nie. Een vul van die Wes-Kaap is op die laaste minuut onttrek weens perdesiekte wat uitgebreek het en die beperking wat geplaas is op die vervoer van perde terug na die Wes-Kaap.

Die klas is deur vyf beoordelaars beoordeel, C J du Plessis, Johan Kotze, Johny Murdoch, Tommy van Staden en François van der Merwe.

Die twaalf vullens is individueel op hul konformasie en beweging beoordeel sonder dat die beoordelaars vooraf van die teling van die vul ingelig is of dat hulle insae in mekaar se beoordelingskaarte gehad het. Teen die einde van die beoordeling is die vullens geplaas en is die tien finaliste tydens ʼn funksie aangekondig.

Die vullens is die volgende dag in ʼn finale kampioenskaps-klas beoordeel. Hulle is daarna in gelid ingebring, waarna vier vullens uitgesonder is om twee-twee kop aan kop beoordeel te word. Die plasings is van die tiende plek gelees en elke vul se teling is toe eers bekend gemaak.

Perfect Style and Grace, ʼn merrievul wat uit Tornado's Perfect Timing en SJ Sharp Salute geteel is, het die baan as kampioenvul verlaat. Haar eienaar, Ross Millin, het nie net die prysgeld van R25 000 in sy sak gesteek nie, maar ook R5 000 ontvang as eienaar van die hings wat die wenvul geteel het.

Plaaslike gehalte

Wat die vul se prestasie meer indrukwekkend maak, is die feit dat sy deur ʼn plaaslike perdeteler- en afrigter, George Borcherds, vertoon is. Perfect Style and Grace asook die vul wat vierde geëindig het, War Timing, word albei deur George afgerig en is op sy en Bettie se plaas gebore. Hoewel George ʼn bekwame ruiter en afrigter is, was dit die eerste keer dat hy ʼn perd aan die hand geskou het. War Timing is uit die hings, War Image Boy, en die merrie, Perfect Tango, geteel. Perfect Tango is ook ʼn vul van Perfect Timing.

George en Bettie is geen onbekendes nie – danksy hul opofferings en harde werk tot laat in die nag, was die Middelburg Skou vanjaar weer ʼn groot sukses. Hulle aandeel in die suksesvolle jeugskou die Donderdagmiddag, moet nie gering geskat word nie.

Perfect Timing, wat ook by George op stal staan, is uit die hings (SA) Tornaado by die merrie Sun Queen, ʼn Suid-Afrikaanse 'Broodmare Hall Of Fame'. Tornaado was ʼn uitstekende skouperd in Suid-Afrika en het verskeie Siertuigkampioenskaptitels verwerf voordat hy in 1997 na Amerika uitgevoer is. Hy is ongelukkig onlangs dood, maar sy vullens en teelmerries in Amerika vaar uitstekend op die Amerikaanse skoue, veral by die Wêreldkampioenskapskou in Louisville, Kentucky. Dit word algemeen verwag dat Perfect Timing sy vaer se suksesvolle teelprestasies sal voortsit.

ʼn Merrievul van die Du Plessis Trust van Benoni in Gauteng, het die tweede prys ontvang. Sy is uit Golden Nite by die merrie Feliko Some Lady. Nog ʼn Golden Nite-vul uit die merrie Feliko Fancy Day, ook uit die Du Plessis Trust se stalle, het in die agste plek geëindig. Golden Nite is ʼn vul van die gestorwe no 1-Saalperdhings, Hell-Of-A-Nite, uit die merrie, Prince's Spring Lady, en is die eiendom van DJ Vosloo van Gauteng.

Die eienaars en vertoners van die onderskeie vullens het na afloop van die kompetisie die beoordelingskaarte van die onderskeie beoordelaars in ontvangs geneem om te sien hoe hulle vullens geplaas is. Daar sal ook DNS-toetse gedoen word om te bevestig dat al die vullens wel vir die kompetisie gekwalifiseer het.

Die algemene gevoel onder die publiek, beoordelaars, eienaars en vertoners van die vullens was dat die eerste Afrika-Saalperd Futurity ʼn groot sukses was en ʼn onderneming wat beslis in die toekoms net sterker gaan word.
Terwyl dit die eerste skou was waar die vullens geskou het, word daar nou reeds met groot verwagting uitgesien na 2014 wanneer dié genomineerde vullens in die Siertuig, Drie- en Vyfgang Afrika-Saalperd Futurity se driejaar-oue vertoningsklasse gaan deelneem. Al 46 genomineerdes sal aan hierdie klas kan deelneem, nie net dié wat in die speenoudklas geskou het nie.

Top of page

Copyright © 1998 - 2012, Horse Junction. All rights reserved.