Poeiers en pastas
- Tyd vir bestekopname!
deur Paul van Dam
Die gebruik van poeiers en pastas om perde beter te laat presteer, is 'n saak wat dikwels aandag kry. Daar is hordes sulke produkte op die mark. Dit wissel van produkte wat ná baie navorsing behoorlik geformuleer is en net dit wat werklik nodig is bevat, tot produkte wat iets van alles bevat. Dis elektroliete, vitamiene, minerale, energiejelle, suikers, ATP – noem dit, en daar is iewers ʼn produk wat dit bevat.
Ruiters wat aan uithouritte deelneem is baie vatbaar vir verkoopspraatjies en gevolglik uitbuiting. Enigiets wat die perd dalk langer kan laat aanhou, meer energie sal gee, dalk ʼn beter kans sal gee op ʼn goeie plek, sal probeer word.
Produkgevare
Die gevaar van hierdie produkte lê op verskillende vlakke. Sommige produkte is nie saamgestel vir uithouritperde nie en kan gevaarlike bestanddele bevat. Ander produkte se samestelling is nie korrek nie en bevat dalk te veel van een ding en te min van ʼn ander. Dit kan bydra dat veral die elektrolietbalans versteur word, wat selfs die dood kan veroorsaak.
Een van die grootste gevare is seker dat ruiters hul ore uitleen aan almal wat ʼn produk bemark of gebruik en dink dat twee of drie produkte beter is as een. Sommige minerale is giftig as die perd te veel daarvan inneem. Oor die lang termyn kan dit maklik jou perd vergiftig as jy te veel verskillende poeiertjies of pastas gee.
Basiese beginsels
Beskou dit wat jy aan jou perd doen op ʼn afstand. Keer terug na die basiese beginsels van goeie kos (goeie gehalte hooi met ʼn gebalanseerde konsentraat in die regte hoeveelhede, bepaal volgens die werkslading van die perd) en ʼn gebalanseerde oefenprogram. Voeg daarby ʼn elektrolietmengsel wat net dit wat die perd nodig het, bevat. Gee net voor, tydens en net na ʼn uithourit iets wat help om die spysvertering te bevorder en iets om maagsere te voorkom en jy het waarskynlik alles wat nodig is.
3 GROOT moenies
- Moenie alles glo wat die verkoopsmense vertel nie! Vra vir wetenskaplik gefundeerde bewyse (nie allerhande mooi stories van ruiters wat die produk al gebruik het, en wat dink dat dit die beste ding ooit is nie!).
- Moet nooit meer as een soortgelyke produk tegelyk gebruik nie; as jy dit doen, hou dadelik op en kies een waarmee jy vorentoe gaan.
- Moenie nuwe goed probeer in die laaste week voor ʼn uithourit nie. Gaan probeer dit tuis wanneer daar genoeg tyd tussen ritte is, sodat aanpassingsprobleme aan die perd se kant jou nie te veel skade berokken nie.
|