Die jong perdemeester - Deel 7
deur Elna Wahl, Mooikrans Equus
Die jong perdemeester moet hom nie laat flous deur ander mense se 'nuwe' kennis oor perde of kastige 'nuwe' benaderings tot die hantering van perde of ruiterskap nie. Wat ons vandag van perde weet, en ook die inhoud van hierdie artikels oor die junior perdemeester, is eeue gelede bestudeer, beproef en vervolmaak. Die natural horsemanship waarvan ons so baie lees in veral Amerikaanse boeke, is nie deur die Amerikaners ontwikkel nie, maar kom eeue gelede uit Spanje.
Die Spanjaarde het met skepe na Amerika geseil nadat hulle gerugte gehoor het van die ongekende rykdom van die Inkas en ander volkere van Amerika. Op hierdie skepe was hulle pragtige opgeleide perde en hul pragtige perdrytoerusting.
Vir die bygelowige inheemse bevolking was hierdie diere halfmens-halfdiergedrogte wat enige tyd kon skei en weer kan saamsmelt, verbysterend. Hulle het die perde en ruiters as bonatuurlike verskynsels beskou. Nog nooit het hulle sulke onophoudelike, oorverdowende en vreesaanjaende ontploffings gehoor wat deur hul kranse weergalm het nie.
Heelwat later, toe dit te laat was, het hulle besef dat die rowers van hulle pragtige edelgesteentes, hulle kosbare artikels van suiwer goud en pragtige beeldhouwerk, slegs mense op perde was wat met gewere geskiet het.
Tog was daar voordele. Die Spanjaarde het nie almal teruggekeer na Spanje nie en het ook nie al hul perde saamgeneem nie. Baie het in Amerika agtergebly. Met hul ongekende rykdom kon die Spaanse adel ander mense aanstel om vir hulle te werk en kon hulle hulself verdiep in die eeue-oue kennis van perde en perdemeesterskap. Hulle het weer al die ou afrigtingmetodes en perdehanteringsbeginsels beproef en afgerond tot die heel beste.
Later het die Spanjaarde Nederland ingeval. Nederland het hulle verset in wat later as die 80-jarige oorlog sou bekend staan. Die Nederlanders het gou besef dat hulle net so vaardig met perde sou moes veg om hulself te verdedig, daarom het hulle net sulke goeie perdemeesters geword. Met Jan van Riebeeck se koms in die Kaap de Goede Hoop, het hy, al was dit met ʼn ompad, die Spaanse ruiterkuns met hom saamgebring.
Lank voordat ons die boeke Natural Horsemanship, Natural Horse Behaviour en ander met soortgelyke name op die rakke kon koop, het die mense aan die Kaap die Kaapse perd geteel en met hulle op skoue gespog. Hulle kon al die toertjies doen, van sliding stops, flexion, collection en baie meer, en het hulle alles van bits and nosebands geweet. Van hierdie perde is uitgevoer na ander lande as resiesperde, en daar is selfs van hulle na Rusland uitgevoer as oorlogsperde!
Oefening vir die maand
Soek oor die internet meer inligting oor hierdie wonderlike ruiters van die Spaanse ruiterkuns en al hulle kennis. Dit sal jou verstom om te weet hoeveel meer kennis daar bestaan as waarvan ons elke dag hoor.
Wanneer jy weer by jou perd kom, sit 'n rukkie stil en droom en dink hoe hy sal lyk met 'n pragtige Spaanse, goudversierde saal en toom. Hoe sal hy nie lyk as hy al die pragtige toertjies kan uitvoer en honderde mense vir hom hande klap nie.
Nou, begin by een enkele toertjie en leer hom (met baie geduld) om die toertjie te doen. Hy sal baie goed voel oor homself wanneer hy dit regkry. Onthou, perde hou daarvan om iets nuuts te leer en hoe meer hulle leer, hoe meer wil hulle leer.
Op Mooikrans doen ons altyd hierdie beginnertoertjie omdat ons weet dit werk. Leer hom om met albei voorpote op iets te klim, miskien op 'n trappie of op 'n blok hout. (Net nie jou ma se stoeptrappies nie.) Dit is vir hom alte lekker en hy sal dink hy is die kat se snor as hy dit regkry. Onthou altyd om hom te prys. (Moet hom tog net nie teen sy nek klap nie.) As hy dit begin geniet en dit graag doen, is dit tyd vir 'n volgende toertjie.
|