Login / Register You are not logged in.

Featured ads

How can I feature my ad?

Uit die perd se bek / From the horse's mouth
deur Izak Hofmeyr

Ek kry die ander dag 'n interessante DVD in die hande. Classical vs Classique is 'n bespreking oor die beginsels van klassieke dressuur. Die gesprek volg na aanleiding van 'n boek, Twisted Truths of Modern Dressage, wat deur Philippe Karl geskryf is waarin hy die sogenaamde Duitse 'training scale' kritiseer.

Nou, Karl kom uit die Franse klassieke tradisie en was vir dertien jaar 'n Ecuyer, of meesterruiter, by die Cadre Noir in Saumur, Frankryk, voor hy sy eie Skool van Legerete begin het. Sy 'opponent' in hierdie bespreking is Christof Hess, wie reg binne die Duitse tradisie staan en die Duitse 'training scale' verdedig. Hy is die hoof van opleiding by die Duitse Perdesportfederasie.

Ek wil nie te veel op die inhoud van die gesprek ingaan nie. Wat my wel opgeval het, was die verskille in benadering. Hess het telkens verwys na die hoë eise wat kompetisiedressuur op die hoogste vlak aan ruiter en perd stel, terwyl Karl weer illustreer dat dressuur vir alle ruiters en perde is en die gereedskap bied waarmee 'n goeie ryperd ontwikkel word. Dit is hierdie benadering wat by my aanklank gevind het.

Ek, en die meeste mense wat ek ken, sal nooit die hoogste sport bereik in die dissipline van ons keuse nie, maar daar is altyd ruimte vir verbetering – om so goed te word as wat ons kan wees. Hoe lui daardie ou sêding? Dis nie die bestemming wat saak maak nie, maar die reis. En om hierdie reis na verbetering sinvol te maak, én terdeë te geniet, bied die klassieke dressuurbeginsels 'n uitstekende raamwerk.

Wat is die beginsels?

Dit sou verwaand wees om voor te gee dat ek dit werklik verstaan, maar hier is die eienskappe van 'n goed-afgerigte perd waarin ek onwrikbaar glo: 'n Kalm, sterk, soepel en gebalanseerde perd wat vertroue in my het, wat verstaan wat ek van hom verwag en wat dit gewilliglik gee omdat hy kan, want hy is progressief daarvoor voorberei.

In die proses word hy al ligter in die hand, omdat hy ʼn nuwe balans ontwikkel het waarvan die ruiter op sy rug deel is. Hy kry meer selfvertroue want hy weet ek is tevrede met wat hy doen. En hy word mooier en trotser onder die saal.

In my rondlees op die internet om te kyk wat ander mense van die DVD dink, loop ek hierdie sêding raak waarmee ek wil afsluit: "The horse you get off, is not the horse you got on. It is your job as a rider to ensure that as often as possible, the change is for the better."

Izak Hofmeyr Izak Hofmeyr

Top of page

Copyright © 1998 - 2012, Horse Junction. All rights reserved.