As ruiter en perd mekaar hoor
deur Stroebel Hofmeyr
(Foto deur Martin Coetzee)
In ʼn vorige artikel het ek verwys na die intense genot wat mens kan beleef as jy en jou perd as't ware in ʼn enkele eenheid ontwikkel. Dis ʼn soort verhouding waarin die ruiter die dinkwerk doen en dit amper onsigbaar deurgee aan die perd wat dit dan doen. Nou weet ek maar te goed dat daar meer as een manier is waarop so 'n eenheid kan ontwikkel, en ek wil nie een manier voorhou as beter as ander maniere nie.
Die een ding waaroor daar geen twyfel kan wees nie, is dat ʼn perd slegs flink sal reageer indien hy op sy ruiter ingestel is. So ʼn perd voel, hoor en sien die tekens van sy ruiter. Maar kom ek noem twee uiterste verhoudings wat ʼn mens wel gereeld teëkom.
Daar is baie afrigters wat groot sukses het deurdat hulle absoluut konsekwent is met hulle tekens aan die perd, en wat vanweë hulle besondere knap ryvermoë die perd as't ware kan dwing om aan hulle wense te voldoen. Die perd leer om die ruiter se opdragte uit te voer. Aanvanklik mag die perd teëstribbel, maar die ruiter ry hom, by wyse van spreke, deur sy weerstand. Sou die perd hom verset, het die ruiter die ervaring om te weet wat om te doen om die perd na sy wense te dwing.
As die baas praat
By hierdie soort afrigting hoor ʼn mens dikwels uitdrukkings soos: "Vonk is vandag weer bedonnerd", "Flinktrap moet eers weer leer wie is baas", "Patroon is eintlik ʼn mans-ryperd", of "Ounooi weet goed wat op haar wag as sy dit weer probeer". In hierdie benadering 'praat' die baas, en die perd 'luister' of daar's moeilikheid. Kortom, dis ʼn metode wat net gevolg kan word deur ervare ruiters; dis gevaarlik en kan tot beserings vir perd en ruiter lei.
Deur die wêreld is daar tans ʼn geweldige ommeswaai na die benadering waarin daar ʼn ruiter-perd-verhouding ontstaan wat gebou is op perde se natuurlike kudde-instinkte. Lesers is seker reeds daarmee bekend dat dit daarop berus dat die perd die ruiter/hanteerder aanvaar as leier aan wie hy hom moet onderwerp. Die perd se oorgawe aan die hanteerder is gewoonlik dramaties (wat Monty Roberts join-up noem). Wat almal egter nie weet nie, is dat wanneer so ʼn verhouding tussen hanteerder en perd ontstaan, die perd enigiets vir die hanteerder sal doen as hy weet wát die hanteerder wil hê en as die perd dit kán doen.

|
A picture of unity. Andrea Harrison and
Landmark are listening to one another
|
Vertroue
In hierdie verhouding het die perd vertroue in die hanteerder, en die hanteerder ken die perd se geaardheid en vermoëns, weet hoe sy kop werk, en bedink afrigtingsmetodes wat so by sy perd sal pas dat laasgenoemde hom nie sal verset nie, maar al meer en meer sy beste vir sy ruiter sal gee. Ek sou amper kon sê hierdie metode vra dat perd en ruiter moet leer om na mekaar te luister.
Daar is deesdae talle boeke en video's beskikbaar oor hierdie onderwerp, en ek sal enigeen wat ernstig is om sy ruiterskap te verbeter en sy perd beter te laat ry, aanraai om dié hulpbronne te gebruik. Vir hierdie artikel wil ek net konsentreer op hoe perde en mense na mekaar 'luister'.
ʼn Mens het slegs beheer oor jou perd as hy op jou ingestel is. Deel van die skoling van ʼn ryperd is om dié ingesteldheid te kry. Die perd hoor, sien en voel sy ruiter se wense, tevredenheid, vrese en woede. ʼn Perd leer net wanneer hy die ruiter se 'wense' met tekens assosieer waarop hy so reageer dat die ruiter sy tevredenheid demonstreer deur iets wat die perd as beloning/verligting ervaar. Wanneer die perd op jou tekens en belonings ingestel is, het jy beheer oor hom.
Die leerproses
Die aanleer van die ingesteldheid verloop soos volg:
Eerstens: ʼn Mens leer jou perd basies om op jou tekens:
- Vryelik in alle rigtings te beweeg en ook te stop.
- Hoe om te beweeg en te stop. Byvoorbeeld, met langer of korter treë, vinniger of stadiger, in geronde vorm, ritmies, ontspanne, en so meer.
Tweedens: Die perd kan al hierdie bewegings reeds self doen, maar moet leer om dit, met die ruiter op sy rug, te doen wanneer die ruiter dit wil hê, en ook op 'n manier wat die ruiter pas. Byvoorbeeld, beter gebalanseerd, soepeler, ligter op die voorlyf, en so meer.
Derdens: ʼn Mens gebruik hulpmiddels om die gewenste reaksie van ʼn perd te kry, en beloon die perd dadelik as hy die gewenste reaksie toon. Hulpmiddels kan wissel van hekke, afskortings, teuels, jou arms, sitvlak en bene, tot ook jou stem; enigiets wat die perd dit sal laat doen wat jy hom wil leer doen op ʼn teken van jou. Dit is dit nodig om te verstaan dat ʼn mens hulpmiddels drasties of sag kan gebruik. Die volgende twee voorbeelde sal dit illustreer.
- Ek kan my perd leer halt deur met hom op ʼn soliede muur af te stuur en net as hy daarvoor moet stop, gee ek die haltteken wat ek hom wil leer. (Gewoonlik deur "ho" te sê en my vingers op die teuels toe te maak). Dis ʼn drastiese hulpmiddel, drasties aangewend, wat gewoonlik vinnig werk, op voorwaarde dat ek dadelik die teuels laat skiet nadat die perd gestop het. Sodra die perd die muur begin assosieer met my halttekens, begin ek om bietjie vir bietjie die tekens verder van die muur af te gee, totdat ek dit enige plek kan gee en die perd dadelik sal stop. As ek konsekwent dieselfde tekens gebruik sal my perd naderhand gly-stop (soos die cowboy-perde) as ek net die geringste teken gee wat hy assosieer met die soliede muur. Sou hy my tekens begin ignoreer, kan ek altyd teruggaan na die muur/heining.
My wenk: Herhaal die oefening, maar namate jy verder van die muur beweeg gee jou teken ook al ligter. Jy sal dit net regkry as jy aandag aan jou perd gee en kan voel wanneer hy die geringste teken gee dat hy jou teken gevoel het. Die 'gesprek' tussen my en die perd ontstaan nou wanneer ek die teken sagter en sagter gee, die perd wat antwoord met ʼn halt-reaksie wat sê: "Ek het jou gehoor," en ek wat antwoord met onmiddellike beloning deur my vingers om die teuels oop te maak en die perd ʼn vryf op die nek te gee.
- Ek kan my perd leer om op my beendruk flink vorentoe te beweeg, met die volgende stappe:
- Druk liggies albei kuite teen die perd se sy om hom vorentoe te laat beweeg/vinniger te laat beweeg. As hy luister, beloon hom dadelik deur die druk af te haal. Bring hom tot stilstand en herhaal die oefening.
- As hy nie reageer nie, druk harder, en beloon as hy luister.
- As hy nie reageer nie, volg dadelik op deur ʼn meer drastiese beenteken en beloon as hy luister.
- As hy nie reageer nie, gebruik die swepie, en beloon dadelik as hy luister. Die hele proses loop dus van lig na drasties soos volg: sagte beendruk; harde beendruk; hakke; swepie. Onthou om elke sterker teken dadelik ná die vorige een wat nie wou werk nie, te gebruik.
- Hierdie proses moet nou oor en oor herhaal word totdat die perd onmiddellik op my teken reageer. En hier is nou die slagyster waarin meeste mense trap. Dis mos nou logies om te dink: My perd luister nie vir my bene nie, daarom sal ek die swepie sommer dadelik gebruik. As ons dit sou doen sal die perd nooit beensensitief nie, maar swepie-sensitief raak. Nee, herhaal elke keer die hele proses, beginnende by ligte beendruk, tot die perd luister. Want sien, die perd kan onthou wat net voor die hulpmiddel gekom het wat hom tot aksie laat oorgaan het. Omdat hy die swepie wil vermy sal hy vorentoe beweeg op die hakke se gekap, want hy verwag nou die swepie ná die hakke. Met nog ʼn paar probeerslae sal hy reageer op die harde beendruk, en baie gou die sagte beendruk as teken neem. Onthou net om altyd te beloon sodra hy vryelik vorentoe beweeg.
Fyner en fyner
Dit bring my waarby ek wou uitkom. Dis duidelik dat hierdie leerproses van die perd net fyner en fyner sal word, as jy daarop ingestel is om niks meer druk uit te oefen as waarop die perd gunstig sal reageer nie. As jy na jou perd luister, sal jy heeltyd wil weet of hy jou 'gehoor' het. En die teken dat hy gehoor het, is dat hy ʼn reaksie in die regte rigting toon.
Ek kyk gewoonlik na my perd se ore om te weet wat in sy kop aangaan. Die moeiliker, maar die beste manier is om jou perd se lyf te leer 'hoor'. As jy werklik een met jou perd wil word moet jy kan voel (hoor) watter pote wanneer op die grond is, hoe hy deur die teuels met jou hande 'praat'; hoe sy rug onder jou beweeg en of sy bewegings sagter en veerkragtiger word of stokkerig en geforseerd voel.
Perde hou nooit op leer nie – met elke rit leer die perd iets van sy ruiter. Die ruiter wat sy perd soos ʼn motorfiets benader, sal nooit daarin slaag om sy perd ligter in die hand te kry nie, en die perd sal mettertyd meer en meer in ʼn groef verval. Wanneer perd en ruiter na mekaar luister, sal die ruiter agterkom dat die perd soms van sy skerpheid verloor (byvoorbeeld ná ʼn onderbreking in die oefenprogram, vakansie of aflê na perdesiekte-inenting). Die ruiter sal dan dadelik weer die nodige opskerping doen soos hierbo beskryf, en die tekens ligter aanwend soos wat die perd gunstig reageer.
Hoor jou perd
As jy jou perd duidelike tekens gee, en hy verstaan wat jy bedoel, en hy kán dit doen, sal hy dit vir jou gee. As jy hom dan beloon op ʼn manier wat hy verstaan, sal hy volgende keer nog beter reageer. As jy jou perd 'hoor' wanneer hy jou nie vertrou nie, of nie verstaan nie, of verveeld raak, of seerkry, of bang is, en hom dan tegemoet kom met weldeurdagte regstellings, sal jy ervaar hoe dit is wanneer jy dink en die perd doen.
(Alles wat ek hier geskryf het, het ek by ander mense gehoor en self beproef.)
|