Login / Register You are not logged in.

Featured ads

How can I feature my ad?

Winter in die perdekamp
deur Paul van Dam

As julle hierdie uitgawe van die SA Horseman oopmaak, is dit nog wintertyd, wanneer goggas en plae hul laagste vlakke bereik. En, dankie tog, die tyd vir Afrika Perdesiekte is vir eers verby. So waarna kyk ons hierdie tyd van die jaar?

Dis noodsaaklik om te sorg dat perde nie kondisie verloor in die winter nie
Dis noodsaaklik om te sorg dat perde nie kondisie verloor in die winter nie

Die belangrikste is sekerlik om seker te maak dat jou perd nie kondisie verloor nie. Veral perde wat in die veld loop is geneig om maer te word, nie net omdat die veld nie veel werd is in terme van voedingskrag nie, maar ook omdat die perde ekstra energie gebruik om warm te bly. Dis noodsaaklik dat veldperde daagliks tussen twee en drie kilogram hoë-gehalte hooi gevoer word (goeie gehalte grashooi is goed, maar as dit lusern kan wees, is dit nog beter).

Dit is ook goed om 'n lekblok uit te sit (gebruik 'n lek wat nie ureum bevat nie – meeste "wildsblokke" kan gebruik word). Gaan ook die perde gereeld na en, as daar een of twee is wat swaarkry, bring hulle huis toe om hulle deur die moeilike maande te voer. Dit is baie moeite om 'n perd wat erg vermaer is weer in kondisie te kry en daar gaan 'n hoë risiko vir koliek daarmee saam.

Speen van vullens

Moenie die vullens wat in Desember en Januarie gebore is, in die middel van die winter speen nie. Wag liewer tot Augustus of selfs vroeg September. Dis beter vir vullens om in 'n groep in die veld rond te hardloop (met natuurlik daaglikse inspeksies) nadat hulle gespeen is, maar dan moet die veld darem voedingswaarde hê.

Dis ook nou 'n goeie tyd om al die hingsvullens wat reeds gespeen is, te kastreer (behalwe natuurlik dié wat teelpotensiaal het). As mens 'n hingsvul op ses of sewe maande al kastreer, voorkom jy dat hy hingsterig ontwikkel. Meeste van hulle groei ook meer atleties uit, en gewoonlik staan 'n reun wat vroeg gekastreer is, hoër op die been as volwasse perd, as dié wat laat gekastreer is.

Beplan vir die teelseisoen

Vir die telers – dis nou die tyd om jou beplanning te doen vir die teelseisoen wat voorlê. As jy jou oë uitvee is die lente hier, en dan wil mens nie nog rondval en wonder watter hings jy by watter merrie wil gebruik nie. Skakel solank met die hings se eienaar, en bespreek die dekkings wat jy wil gebruik.

As ons weer gesels, is dit lente – en tyd vir die nuwe vullens om aan te kom – seker die mooiste tyd van die jaar!

Top of page

Copyright © 1998 - 2012, Horse Junction. All rights reserved.