|
Perde kommunikeer deur liggaamstaal, maar ook deur geluide te maak. Dit gee vir 'n mens darem 'n baie lekker gevoel wanneer jou perd vir jou runnik wanneer hy jou sien. Dit beteken dat hy na jou roep.
Soms gee perde 'n hoë, skril skreeu. Dit is 'n waarskuwingsteken. Die proesgeluid wat perde soms maak gee vir ons 'n aanduiding dat hulle op hulle gemak is. Soms proes 'n perd egter wanneer 'n windjie of stof hom irriteer. Wanneer jy op 'n perd ry wat na haar vulletjie roep, voel dit of die hele aarde onder jou bewe.
Perde hoor hoë klanke beter as lae klanke. Daarom reageer hulle so goed wanneer mens vir hulle fluit. Perde leer hul baas se fluit uitken tussen duisende ander fluite. Perde leer maklik die betekenis van enkele woorde soos komaan, wow of hokaai, maar eintlik is dit die manier waarop jy die woorde sê, wat die betekenis vir die perd oordra.
'n Perd wat geleer is om te stop wanneer jy stop sê, sal beslis nie stop wanneer iemand paniekbevange "stop" skreeu nie. Die perd sal eerder skrik en nog vinniger hardloop.
Ruiters wat bangerig is, praat soms aanhoudend met hulle perd. Hulle dink dat hulle hom so kalmeer, maar perde praat nie aanhoudend met mekaar nie. Daarom vind hulle so 'n gepraat irriterend. 'n Kalm liggaamshouding by die ruiter sal die perd laat ontspan.
Goed wat bang maak
Wanneer jy in die veld ry en julle nader iets wat die perd skrikkerig maak, soos 'n windpomp wat draai, moet jy net diep asemhaal, die perd se kop effens wegdraai en verby ry asof daar geen probleem is nie. Die perd sal aan jou lyftaal agterkom dat jy nie bang is nie (al jok jy bietjie vir hom) en aanvaar dat die gevaar nie ernstig is nie. Perde hou soms baie daarvan om op 'n dag kastig baie skrikkerig te wees, want dit jaag hulle ruiters lekker op hol.
Op winderige dae is perde meer skrikkerig, omdat die wind baie geluide saambring en perde nie mooi weet hoe om tussen alles te onderskei nie.
Soms verbaas dit jou dat die perd kalm is in die arena voor honderde mense en hom dan doodskrik vir iemand wat die stof van sy hande afklap. Dit gaan oor agtergrondlawaai waaraan die perd gewoond raak.
Kyk na sy ore
Hou jou perd se ore dop wanneer jy ry. Die twee ore draai onafhanklik van mekaar in verskillende rigtings en kan soveel as 180 grade draai. 'n Perd wat sy rit geniet, se een oor is meestal na agter gedraai, omdat sy aandag op die ruiter is. Onthou dat hy al die klanke komende van die ruiter kan hoor. Sy ander oor sal ronddraai om die klanke uit sy omgewing op te vang.
Deur die ore dop te hou, weet ons waar die perd se aandag is. 'n Perd wat iets vreemds op die horison sien, sal sy kop optel en albei sy ore na voor spits. Dan het hy vir ‘n oomblik van sy ruiter vergeet. Nou moet die ruiter van hom laat hoor deur net ‘n kalmerende woord te sê.
Die opgeleide perd sal dadelik weer sy aandag op sy ruiter fokus.
Harde geluide
Wanneer harde geluide 'n perd ontstel, is dit beter om hom daaraan bloot te stel. Hou die perd wat vir die lawaai van motors skrik naby die pad, sodat hy kan agterkom dat dit geen gevaar inhou nie. Wanneer jy met jou perd grondwerk in die arena doen, moet jy hom gewoond maak aan allerhande geluide. Klap jou hande, klap die sweep en roep hard uit. Dit is veiliger om jou perd te skool wanneer jy grondwerk doen, as wanneer jy op hom ry.
Met ons vertoningsdae op Mooikrans, kom ons agter dat die perde baie daarvan hou wanneer die toeskouers hande klap. Zulu, ons opgeleide Cowboy-perd, is al só dat hy probeer weier om 'n volgende toertjie te doen voor hy nie behoorlike toejuiging ontvang nie. Deur die proses van "druk en beloning" (Mei 2010), kan 'n mens jou perd feitlik enige iets leer.
Leer jou perd agteruit loop
Om agteruit te loop is vir die perd ‘n onnatuurlike beweging, maar hy sal dit graag aanleer mits jy hom elke keer daarvoor beloon. Onthou dat beloning nooit ‘n suikerklontjie is nie, maar deur druk af te haal.
Sit 'n halter aan jou perd. Staan voor hom en sê "tru". Terwyl jy "tru" sê, druk jy aan die halter reg onder die perd se kop weg van jou af. Moenie aaneen druk nie, maar gee ligte drukbewegings wat onmiddellik opgevolg word deur weer die druk af te haal. Omdat dit vir hom ongemaklik raak, sal die perd begin reageer deur net een voet agtertoe te verplaas. Dan moet die druk onmiddellik afgehaal word.
Die perd sal gou snap dat die druk afgehaal word wanneer hy agtertoe beweeg. So kan jy hom leer om vir lang ente agtertoe te stap. Wanneer hy dit goed regkry, kan jy opklim en dieselfde met jou toom doen. Jy sal jou verbaas hoe lekker dit vir die perd is om agtertoe te loop. Onthou – perde hou daarvan om iets te leer.
|