|
Die perdry-ervaring wat gaste by Moolmanshoek in die Oos-Vrystaat kry, glo baie, is enig in sy soort in die land. Die feit dat kliënte keer op keer terugkom, en dat dit selfs gereeld gebeur dat hulle op die ou end een van die Moolmanshoekperde koop, getuig hiervan.
 |
| Leon Liversage (links) en Wiesman Nel op die twee Boerperdhingste, Ceaser en Hertzog |
Wiesman Nel, mede-eienaar van die Moolmanshoek vakansiebestemming, glo dit het baie daarmee te doen dat hy persoonlik, as dit enigsins moontlik is, gaste op perderitte uitneem, maar ook dat hy self al die perde gereeld ry en seker maak dat hulle afrigtingsvlak aanvaarbaar bly.
"Ek dink ook ek is geseën met die gawe om 'n perd en ruiter baie goed op te paar, sodat elke ruiter 'n perd kry wat by hom pas."
Die teelprogramme
Moolmanshoek huisves twee afsonderlike perdeteelprogramme, 'n SA Boerperdstoet en 'n uithouritperdeteelprogram, hoofsaaklik bestaande uit Arabiere en deelsgeteelde Arabiere. Perde uit albei programme word in die uitritte gebruik, maar die doelwitte van die twee programme is heeltemal verskillend.
Die een program spits hom daarop toe om uithouritperde te teel en 'n hele paar uiters suksesvolle Moolmanshoekperde het reeds die uithouritbaan betree. Dink maar aan Moolmanshoek Moya, Moolmanshoek Sweep, Pula en Roes wat almal vir die nasionale span gery het.
Sweep hou steeds die rekord vir die Hofmeyr 100-myler, terwyl Leon Liversage, bekende saalmaker en Wiesman se vennoot in die uithouritperdtelery, in 'n stadium saam met Roes die eerste plek op die internasionale ranglys oor 120 km beset het. So was Pula, wat intussen uitgevoer is, ook nommer een op die wêreldranglys.
Ietwat van 'n handvol
"Dis interessant dat die uithouritperde, wat ook maar hulle loopbaan in ons uitritgroep begin, veral onder die meer ervare gaste gewild is. Hulle is beslis meer van 'n handvol as die suiwer Boerperde. Dis natuurlik nie snaaks nie, want as mens 'n internasionaal mededingende perd wil teel, moet hy 'n onwrikbare wil hê om vorentoe te gaan."
Nog 'n kenmerk van uitritte op Moolmanshoek is dat daar selde by 'n rigiede roete gehou word. Wiesman sê hy het 'n behoefte om op elke hoekie van die plaas uit te kom, so daar is min sprake van vasgestelde roetes wat keer op keer gevolg word.
"Roetes word aangepas by die ervaringsvlak van my gaste. As ek sien iemand is geneë vir nog sal ek spesiaal moeite doen om aan hom nog meer van 'n ervaring te bied."

Sukses in afrigting
Die afrigting van jong perde wat bestem is vir uitritte met gaste, is uit die aard van die saak 'n kern-element van die sukses van die onderneming. In dié opsig gee Wiesman die krediet aan Leon, wat so tien jaar gelede by hulle op die toneel verskyn het.
"Dis maar Leon wat my die fyner beginsels van perdemeesterskap geleer het, en wat 'n baie groot verskil in die gedrag van ons perde teweeg gebring het. Op grond van die beginsels wat hy my geleer het, het ek die roetine op die plaas bepaal sodat almal wat met die perde werk, dit op dieselfde manier doen.
"Maar dis net die een aspek. Die ander aspek is dat ons in 'n posisie is om regtig ure onder die saal in te sit. Die omgewing leen hom daartoe om ons perde regtig aan alles bloot te stel en regtig op te bou tot sterk en betroubare ryperde."
Die ander faktor, sê Wiesman, is dat al die jongperde in die berg grootword. Die soetveld is bo-op die berg, terwyl die water weer onder in die vallei is, so die perde loop daagliks op en af teen die berg, wat hulle uiters vasvoetig maak. Lank voor hulle dus onder saal kom, word die perde reeds blootgestel aan 'n omgewing wat hulle taai maak en uitstekende balans ontwikkel.
Veldgereed
"Omdat die perde in die veld bly, moet ons gereeld by hulle 'n draai maak, so die jong perde wat pas onder saal is word gereeld veld in gery, wat baie goed is vir hulle ontwikkeling. Ek roteer sodat ek gereeld op elke perd kom om seker te maak dat sy afrigting na wense vorder.
"Hierdie stelsel het veral 'n gewenste effek op die perde se vermoë om uit die groep alleen in 'n rigting in te ry. Ons perde is nie groepgebonde nie. Dit maak uitritte natuurlik soveel meer van 'n ervaring vir ons gaste, want hulle kan onafhanklik van die groep ook dinge doen."
Vullens word so laat as moontlik gespeen, afhangende van die kondisie van die merries, maar gewoonlik so op agt na tien maande.
"Ek probeer so tussen twee en ses vullens op 'n slag speen. Hulle gaan dan veld toe en vir die eerste jaar-en-'n-half bly hulle onder op die vlakte, sodat ek 'n sorgsame oog oor hulle kan hou.
"Daarna gaan hulle dan berg toe, waar hulle bly tot op ouderdom vier jaar. Daardie ekstra jaar wat hulle dan het om in die berg te ontwikkel, is tyd wat geld nie kan koop nie. Daardie ekstra ontwikkeling plaas die perde doodgewoon in 'n ander klas."
Die Boerperdstoet
Die ander teelprogram is die Moolmanshoek SA Boerperdstoet. Die heel belangrikste seleksiekriteria vir die Boerperde, sê Wiesman, is konformasie, konstitusie en ryvermoë.
"Omdat ek van 'n perd hou wat 'n gang kan loop, gebruik ek nie 'n hings wat nie 'n gang kan loop nie. Dié perde," sê Wiesman, "werk baie lekker in die uitritprogram omdat hulle so lekker flink vooruit kan stap. Hulle is ook groter, swaarder perde as die uithouritperde wat hoofsaaklik Arabierbloed het."
Wat die uithouritperde betref, vind hulle dat die Engelse lyne beter konformasie bied en is hulle besig om weer terug te teel na die Engelse lyne.
"Ons was baie gelukkig met die Arabierhings wat ons vir lank hier op die plaas gehad het. Olford Silver Tupennie, van die bekende destydse Olfordstoet in die Oos-Kaap, se nageslag het hulleself oor en oor bewys. Ons probeer so min as moontlik met 'n wenresep torring. Tupennie is ongelukkig 'n paar jaar gelede dood, maar ons het van sy seuns en kleinseuns wat baie belofte toon."
Goeie genetika
Leon wys daarop dat die merries waarmee Tupennie so goed gekombineer het, darem oor baie jare geteel is uit Arabierhingste wat deur Wiesman se pa, Willie, ingebring is. Die basiese kudde deelsgeteelde Arabiere het dus uitstekende genetika bevat. Met die inbring van Tupennie het die legkaart lekker in plek geval.
"Ons werkers is ook baie fyn om die goeie uithouritkandidate te identifiseer. So 'n dag in die berg met 'n perd gee jou baie vinnig 'n idee of die perd in sy kop 'n vorentoe-perd is of nie."
Wiesman het egter ook 'n ander beleid, en dit is dat elke perd op die plaas deur enige persoon gery moet kan word.
"Ek wil graag hê my gaste moet my beste perde ry, so ek steek byvoorbeeld nie my beste hings weg nie. Dis vir my vreeslik lekker as 'n kind op 'n perd ry en dan na die tyd moet sien dat die perd wat hy gery het, een van my
stoethingste was. Dikwels is dit 'n droom wat vir daardie kind waar word."
Saaltuig
Die rede waarom Wiesman in die eerste plek met Leon in aanraking gekom het, was omdat hy ernstige saalprobleme ondervind het.
"Voor ons in die toerisme-mark gespesialiseer het, het ons perde agter die vee gebruik, maar vreeslik probleme met saalsere gehad. Ek het regtig alles probeer, maar ons het aanmekaar bly probleme kry. Ek hoor toe van die Liversage-saals en verruil 'n perd, Moya, vir twee van Leon se Trailriders. Sedertdien het ek nog nooit weer 'n saalseer gehad nie."
Dis egter nie waar die storie eindig nie, Trouens, dis waar die Moolmanshoek uithouritteelprogram begin het, want Moya het toe, onder Leon se vrou Mariaan, aangegaan om sy Springbokkleure te verwerf en ook verskeie rekords op te stel oor die langer afstande.
En die res, soos hulle sê, is geskiedenis ...
|