|
Die Uithouritvereniging van Suid-Afrika, Erasa, reël jaarliks 'n byeenkoms bekend as die South African International Challenge (SAIC). Hier ding spanne en ruiters op internasionale vlak teen mekaar mee. Die byeenkoms vind jaarliks plaas, en in 2010 was dit Schweizer Reneke se beurt om oorval te word deur die massas perde en ruiters wat deel vorm van die uithourit.
 |
| Duncan Browne op Jair Ahira, wenners van die junior/jong ruiterafdeling |
Die rit word aangebied oor 'n afstand van 120 km op een dag, en vanjaar se rit (met 286 ruiters) was waarskynlik die grootste 120 km rit wat nog in die wêreld aangebied is. Die rit en alles wat daarmee saamgaan was 'n reuse sukses.
Die wenners
In die individuele kompetisies het Juanita Labuschagne op Izzat in die liggewigafdeling die louere opgeraap, Frans Saubek (van Namibië) op Danon Jabeen in die standaardgewigafdeling, Lucas Fourie op Shakura in die swaargewigafdeling en Duncan Browne op Jair Ahira in die junior/jong ruiterafdeling. Namibië het weer die senior standaardgewigkompetisie gewen, met Suid-Afrika wat koning gekraai het in die spankompetisie in die senior swaargewig en junior/jong ruiterkategorieë.
Op provinsiale vlak het die span van Mpumalanga/Gauteng die junior/jongruiterkategorie gewen, Noord-Kaap se span in die senior swaargewigkategorie en Noord-Gauteng in die senior standaardgewigkategorie. Maar daar is, soos met alles, 'n storie agter wie wen en wie verloor. Ons kyk na 'n paar.
Mok slaan toe
Lucas Fourie het vanjaar die swaargewig-afdeling gewen op Shakura. Sy vrou, Carol, het vantevore vir Shakura gery, haar hande vol gehad en soms maar gespook om bo te bly. Hulle het toe besluit dat Lucas eerder die perd self moet ry en hom voorberei vir die groot rit by Schweizer. Shakura het egter besluit om te wys dat hy ook maar net vleis en bloed is ...
'n Week voordat hulle moes Schweizer toe ry, kan Shakura amper nie loop nie. Die rede: 'n seer en geswelde voet. Hulle doen ondersoek en sien dat dit die gevreesde mok ('n gemengde swam en bakteriese infeksie van die vel aan die agterkant van die been net bo die hiele) is wat toegeslaan het. Dit lyk toe of Lucas se kanse verby is – maar Carol gee nie so maklik op nie! Sy dokter met salfies en koue kompresse en alles wat sy al iewers van gehoor het – en sowaar, Shakura kom reg en kan wel Schweizer toe gaan!
Die grotes pak mekaar
 |
| Lucas Fourie (317) op Shakura, wenners van die swaargewigafdeling. Langs hom is Trevor Rous |
Maar dit hou nie daar op nie. Lyk asof Lucas en Namibië se top swaargewigruiter, Rudolf Oosthuizen, mekaar die stryd behoorlik aangesê het. Rudolf het op Walvisbaai eerste oor die streep gejaag, met Lucas net ses minute agter hom. Op Schweizer verhang Lucas die bordjies deur die swaargewig-afdeling te wen, met Rudolf net vier minute agter hom in die derde plek (Trevor Rous op Henham Missile was tweede, net 'n minuut agter Lucas). Gaan hierdie nog 'n vervolg hê by Walvis in 2010?
Ook Lucas se broer Jacques se voorbereiding vir Fauresmith was nie sonder sy unieke probleme nie. Twee dae voor hy wil afsit Schweizer toe, moes hy uitvind dat sy perde uitgebreek het en al langs die teerpad afsit na ... wel, net hulle sal weet waarheen. Jacques moes spartel en spook om hulle weer by die huis te kry. Hy besluit toe maar om Schweizer mooi stadig aan te pak – en maak die rit suksesvol klaar!
Stadig om die draaie
Die dae wat die rit voorafgegaan het, het vir teleurstellings gesorg. Hurst Kabul, wat verlede jaar met Suné Fourie op Walvisbaai die junior en jongruiterkategorie gewen het in 'n nuwe rekord, was reg om dit weer op Schweizer te kom doen. Warm soos net 'n fiks uithouritperd kan wees, ry hulle 'n dag of wat voor die rit om seker te maak die perde bly los en bou nie 'n spierkwaal op nie.
Terug van die ry word hy in sy kampie gesit, maar daarvan het hy nie gehou nie. Hy breek uit en sit op loop, op spoed, verloor sy traksie om 'n draai en gly op sy sy oor die teerpad. Niks wat blywende skade veroorsaak nie, maar die seer is te groot vir hom om die rit te kan aanpak – wat 'n teleurstelling!
 |
| Uithouritte is lekker. Leon Liversage op Moolmanshoek Suede kan nie sy lag hou nie |
Op julle merke!
Die wegspring was ook nie sonder sy drama nie. Groot groepe perde het gelyk weggespring (min of meer per gewigs- en of ouderdomskategorie, hoewel sommige kategorieë saam gegroepeer was). Perde is maar soos mense, en party se "persoonlike ruimte" is vir hulle baie belangrik. Sulke perde word gemerk met 'n rooi strik in die stert, wat beteken: "Pasop, ek skop."
In die skemerdonkerte van die wegspring is dit maar moeilik om strikke raak te sien, en nog moeiliker om uit almal se pad te bly! Arme Eileen Pearson moes dit ontgeld, en die skop wat na haar perd gemik was, het haar op die knie getref en haar rit daar en dan beëindig.
Wie laaste lag ...
Dan is daar die storie rondom Duncan Browne. Voor die rit is daar baie bespiegel oor wat die wentyd gaan wees, en hoe vinnig mens die rit kan ry. Natuurlik belangrik, want as mens te ver agter raak is jou kans op 'n goeie plek daarmee heen. Die algemene gevoel was dat die wentyd in die omgewing van 5:40 tot ses ure sou wees (dus 20 tot 21 kmph).
Ieder en elk het in hulle mou gelag toe Duncan die eerste been in 'n tyd van 1:40 (23,37 kmph) voltooi. Mens hoor die opmerkings – "moenie oor Duncan bekommerd wees nie, hy sal sy fout agterkom" en "hy gaan lekker stap op die laaste been as die perd se petrol opraak!"
Maar Duncan het ander planne gehad. Hy voltooi die derde been weer in die vinnigste tyd van die dag, en wen uiteindelik die junior en jongruiterkategorie in 'n tyd van 5:16 (22,75 kmpu), en 'n halfuur voor die tweede perd in hierdie kategorie! Natuurlik was almal wat vinnig begin het nie so gelukkig nie, en sommige het wel aan die voorspellings van "lekker stap op die laaste been" voldoen ... maar ons sal nie name noem nie!
Dik stemme
Die beamptes het ook deurgeloop. Gideon Keyser het uitgevind dat sommige mense aggressief raak as daar mooi aan hulle verduidelik dat hulle op 'n plek is waar niemand met 'n bakkie mag ry nie. 'n Hoefsmid op pad om vir 'n perd 'n nuwe skoen aan te slaan, wou met woord én daad vir Gideon verduidelik dat hy van hom verskil. Maar hy het die bakkie se deur vinnig toegeklap toe hy sien dat vier ander manne (waarvan een die rol van Goliat in 'n verhoogstuk sou kon vertolk), nader staan om saam te praat.
Mens kan nie by uithouritte betrokke wees en nie emosioneel raak nie. Mens voel jammer vir elke ruiter wat uitval, veral die wat tot aan die einde van die 120 km gekom het en dan moet hoor dat die perd nie die finale ondersoek geslaag het nie. Die groepie ruiters vir wie ek jammerste voel, is dié wat uitgeval het omdat hulle perde net eenvoudig verseg het om vir die veeartse te draf.
Die Internasionale Perdesportfederasie (FEI) se nuwe reëls bepaal onomwonde dat perde nie gehelp mag word om te draf in die veeartslane nie. Jy mag nie eens die perd skrik maak om hom aan die gang te kry nie. Hulle argument is dat 'n perd wat nie self draf nie, waarskynlik te moeg is om verder te gaan. Daar is tog die hardkoppige perde wat vir almal wil wys wie's baas, maar ja, by Schweizer is hulle ook nie toegelaat om aan te gaan nie – al was hulle verder piekfyn. Reëls is reëls, en die perde se base moet werk maak van hul aanbiedingstegniek en die perd se gebrek aan entoesiasme!
Hierdie was enkele voorbeelde van wat uithouritte so 'n wonderlike sport maak. Daar is hoogtepunte, teleurstellings, vreugde en trane, en alles vorm deel van 'n sport wat in murg en been beleef word, 'n sport wat plek het vir oud en jonk, individue en gesinne, man en vrou. Ek ruil dit vir geen ander nie!
|