|
Om te kan presteer op jou perd se rug, is dit noodsaaklik dat die perd, wat jare gelede vir die mens 'n vervoermiddel was, nou op een of ander vorm van vervoer gelaai moet word om die plekke waar sportbyeenkomste gehou word, te bereik. Ons neem nie net deel in ons onmiddellike omgewing nie, maar ook by plekke wat soms duisende kilometers weg is.
 |
| Sodra jy die perd aflaai by jou bestemming, gaan stap eers vir 30 minute voor jy hom op stal sit |
Ongelukkig is die vervoer van perde nie sonder risiko nie. Oor die jare is daar heelwat studies gedoen om vas te stel hoe perde reageer wanneer hulle vervoer word, en ook om te bepaal of dit 'n effek op hul gesondheid en prestasievermoë het.
Die effekte is gekoppel aan 'n verskeidenheid faktore, wat insluit die op- en aflaaiproses, die feit dat die perde in ‘n vreemde omgewing geplaas word, skeiding van ander perde waarmee hulle daagliks verkeer, die vibrasie en geraas van die voertuig, onsuiwerhede (rook en organismes) in die lug, algemene swakker luggehalte, onnatuurlike posisies (veral van die kop en nek), die tyd wat hulle op die wa moet deurbring, beskikbaarheid van voer en water tydens die reis, die ervaring van die persoon wat die voertuig bestuur, omgewingstemperatuur, verkeersdruk, die rigting waarin die perde kyk op die wa (vorentoe, agtertoe, dwars of skuins) en waarskynlik nog 'n paar.
En dit het alles 'n effek op die perde se stresvlakke (hierdie effek wissel nogal baie vir elke individuele perd), harttempo, asemhalingstelsel (waarskynlik een van die belangriker effekte), maagdermkanaal, immuunreaksie (en dus weerstand teen siektes), elektrolietbalanse, hidrasievlakke en liggaamsgewig.
Die doel van hierdie artikel is nie om op die besonderhede van al hierdie aspekte in te gaan nie. Ons gaan wel enkele belangrike faktore uitlig, en dan 'n paar praktiese wenke daaroor gee.
Gee water
Gewigsverlies is nou gekoppel aan die beskikbaarheid van water gedurende die reis. In een studie is twee groepe perde vir 30 ure aanmekaar vervoer, een groep sonder en een groep met gereelde toegang tot water. Die groep wat nie water gekry het nie, het ongeveer 10% gewig verloor, teenoor 3,5% van die groep wat wel water gekry het.
Dis duidelik dat selfs die groep wat toegang tot water gehad het, wel gedehidreer het gedurende die reis. 'n Volle dag (24 uur) na afloop van die reis was die liggaamsgewig nog nie weer op dieselfde vlak as voor die reis nie, wat waarskynlik 'n aanduiding is dat die perde se vloeistofbalans nog nie ten volle herstel het nie. Elektrolietvlakke word ook beïnvloed deur vervoer, maar keer binne 24 uur terug na normaal.
Lugweginfeksies
Dis algemeen bekend dat perde ná lang reise meer geneig is om lugweginfeksies te ontwikkel. 'n Verskeidenheid faktore speel 'n rol. Daar is baie onsuiwerhede in die lug wat die perd inasem, en wat die neusslymvliese irriteer. Perde blaas normaalweg hulle neuse gereeld skoon, maar kan dit slegs doen as hulle hul koppe ondertoe kan hou. Sou hulle koppe bo vasgemaak word tydens vervoer, kan perde nie hulle neuse "blaas" nie.
Daar is vasgestel dat die hoeveelheid bakterieë in 'n perd se lugpyp in ses ure op 'n vervoerwa 100 miljoen keer kan toeneem! Witbloedseltellings verander ook gedurende vervoer en dit verlaag die perd se weerstand teen siekte.
Werksvermoë
Die vrystelling van kortisol in die liggaam (in respons op die stres waaraan die perd blootgestel word) beïnvloed die glukosevlakke in die bloedstroom. Dit weer het 'n invloed op die energiemetabolisme van die perd, en het 'n negatiewe invloed op werksvermoë vir die eerste 24 uur na voltooiing van die reis.
Die invloed op die maagdermkanaal is waarskynlik gekoppel aan die algemene stresreaksie van die perd, en soms sal dit lei tot diarree. Natuurlik is daar ook risiko daaraan gekoppel dat die perde nie genoeg water inneem gedurende die reis nie, en dan na afloop van die rit skielik groot hoeveelhede water drink, wat kan lei tot koliek.
Die spiere
Die algemene verwagting is dat vervoer ook 'n groot invloed sal hê op die spierskeletstelsel, en dat die spiere hard moet werk om die perd se balans te behou tydens die reis. Versnelling, briek, draai, verbygaan en padoppervlakte speel almal hier 'n rol. Tog is gevind dat, selfs na 24 uur konstant op die pad, die melksuurvlakke en spier-ensiemvlakke ('n aanduiding van hoe hard die spiere gewerk het), slegs effens verhoog was.
Beide melksuur en die ensieme was binne 24 uur na die reis terug na normaal. Aan die een kant dui dit aan dat vervoer nie die spiere soveel beproef nie, en aan die ander kant dat, sou die vlakke verhoog wees na 'n reis, 'n mens die oorsaak elders moet gaan soek.
Praktiese wenke
Soos hierbo gesien, is daar talle faktore wat 'n rol speel, en 'n mens kan eenvoudig nie alles uitskakel nie. Ons kan egter wel die effek van baie van hierdie faktore tot die minimum beperk. Wat hieronder volg is grotendeels gebaseer op my eie ondervinding met perde oor lang afstande, gekoppel aan inligting uit ‘n verskeidenheid publikasies wat ek deur die jare gelees het.
'n Gesonde perd. Die eerste en mees belangrike faktor is dat mens 'n lang reis nooit met 'n perd aanpak wat nie 100% gesond is nie. Dis belangrik om jou perde se temperatuur twee keer per dag te meet, om so 'n volledige rekord op te bou en elke perd as individu te leer ken. Indien daar 'n styging in liggaamstemperatuur is voor die begin van die reis, moet jy heroorweeg. Die onderliggende siekte gaan verseker gedurende die reis sy kop uitsteek en veroorsaak dat jy nie aan die byeenkoms kan deelneem nie. Moet ook nie skroom om 'n veearts te vra om die perd volledig te ondersoek nie.
Beplan vooruit. As jy meer as 1 000 km gaan reis, sorg dat jy minstens drie dae voor die byeenkoms by jou bestemming aankom. Vyf dae vooraf sal nog beter wees. Dit gee die perd kans om te herstel van die reis, en sal verseker dat sy metabolisme terug is na normaal.
'n Skoon wa. Maak die perdewa deeglik skoon voor jy ry. Raak ontslae van al die stof en droë mis wat in die hoekies lê. Maak die mat goed skoon. Moenie droë beddegoed insit nie!
Reisgenote. Probeer om jou perd saam met maatjies te vervoer wat hy ken.
Padkos. Moenie die tipe voer wat jy gee kort voor die reis verander nie. Nie net gaan dit 'n impak hê op jou perd se vermoë tydens die byeenkoms wat aan die ander kant van die reis lê nie, maar dit kan ook bydra tot maagdermkanaalsteurnisse soos diarree (en selfs koliek), wat weer gaan bydra tot ontwatering.
Hidrasie. Begin drie dae voor jy vertrek met die toedien van 'n goeie elektrolietmengsel. Gebruik een wat geformuleer is vir perde wat aan strawwe kompetisie blootgestel word. Bly weg van mengsels wat op die resiesperdmark toegespits is. Vermy enigiets wat natriumbikarbonaat (koeksoda) bevat. As jy nie seker is nie, vra raad.
 |
| Moenie jou perd se kop te kort vasmaak nie. 'n Oop wa is nie 'n probleem nie, solank die rit nie te ver is nie en solank die perd nie die risiko loop om van die wa af te trap nie. Dis egter wenslik dat daar 'n skerm is wat die perd se kop beskut |
Geweekte hooi. Week jou perd se hooi in water vanaf die dag voor die reis. Dit verminder die stof in sy neusgange. Week dit ook tydens die reis. Dit gaan wel uitdroog tydens die ry, maar sal tog help om die stof minder te maak en terselfdertyd ook bydra om meer water in sy sisteem te kry.
Kragvoer. Verminder sy kragvoer met die helfte vanaf twee dae voor die reis. Gee slegs ‘n klein bietjie kragvoer tydens die reis (ongeveer 10% van wat hy gewoonlik kry). As jou reis oor meer as een dag strek, gee slegs 10% van die kragvoer elke dag van die reis. By aankoms by jou bestemming, vermeerder die kragvoer na 50% op die eerste dag, 75% op die tweede dag en gee ’n vol rantsoen vanaf die derde dag.
Beplan jou roete. Dis dalk beter om 'n stiller, maar effens langer roete te kies as die kortste, maar baie besige roete. Probeer uitvind of daar padwerke op die roete is en, indien moontlik, kyk dan na alternatiewe.
Beplan jou reis. Moenie meer as agt tot nege ure op een dag reis nie. Stop elke vier tot vyf ure vir tussen 30 en 60 minute. Tydens die stop moet die perd afgelaai en kans gegee word om rond te stap. Hy moet ook kans hê om te drink. Baie perde sal nie dadelik drink nie, maar eerder gedurende die breek. Dit sal ook die perd kans gee om sy kop te laat sak en sy lugweë skoon te kry. Week weer die hooi of sit vars hooi in die net. Maak ook die perdewa skoon – haal die mis uit, trek die mat reg. Dit is bewys dat die voorkoms van lugweginfeksies afneem as die wa gereeld skoongemaak word.
Gee genoeg tou. Indien enigsins moontlik, moenie jou perd se kop te kort vasmaak in die wa nie. Dis soms nie prakties moontlik nie, maar as dit kan, gee hom genoeg tou dat hy sy kop kan laat sak.
Lugvloei. Ventilasie in die perdewa is belangrik. Indien moontlik, sorg dat die lug kan deurvloei. Moet tog nie alles so toe as moontlik maak, omdat jy bang is dat jou perd gaan koud kry nie.
Koel is goed. Moet ook nie te veel komberse op die perd sit nie. Die stresfaktor laat die perd gewoonlik sweet (veral met senuweeagtige perde). Perde is van nature diere wat hou van 'n kouer klimaat, so dis altyd beter vir hulle om effens te koud te wees, eerder as effens te warm.
Vloeistof. Reël vooraf met 'n veearts om, by aankoms op die terrein van die byeenkoms, jou perd 'n binne-aarse vloeistofoortapping te gee. Ongeveer 12 liter is gewoonlik genoeg. Dit help om die perd se vloeistofbalans vinniger te herstel, en dra ook by tot die elektrolietbalans.
Stap 'n entjie. Sodra jy die perd aflaai by jou bestemming, gaan stap eers vir 30 minute voor jy hom op stal sit. Maak seker die stal waarin jy jou perd sit, is skoon, met skoon beddegoed en voldoende vars water. Probeer ook vooraf reël, indien enigsins moontlik, dat jou perd langs bekende perde kan staan.
Sterkte met die voorbereidings!
|