|
In die vorige uitgawe van SA Horseman het ons gekyk na perde wat hek toe sleep en perde wat trek. In hierdie uitgawe kyk ons na twee gedragsafwykings, naamlik pluk (snatching) en een van die mees vreesaanjaende dinge – perde wat met 'n mens weghardloop.
Pluk (snatching)
Dit is 'n nare gewoonte – die perd pluk met alle mag sy nek vorentoe en af, en die arme ruiter word vorentoe oor sy nek gepluk. Dit kan tot baie seer skouer- en nekspiere, blase op die vingers of selfs 'n ruiter wat afval lei.
Hierdie gedrag kan aanvanklik veroorsaak word deur 'n perd wat se nekspiere moeg raak en sy nek wil rek. Ander kere is die perd eenvoudig ongemanierd en wil hy gras vreet. Indien dit nie vroegtydig aangespreek word nie, kan dit gou 'n nare gewoonte word as die perd besef dat dit die ruiter van balans af pluk en hom (perd), die oorhand gee.
Wanneer 'n perd geskool word, gee hom gereeld 'n blaaskans om sy nek te rek en sy spiere te ontspan. Indien die perd egter reeds 'n plukker is, gaan dit nie die probleem oplos nie.
Moet hom nie in teenreaksie in die bek pluk om sy kop op te kry of om hom te straf nie. Anker jouself deur diep in die saal te sit, sodat hy jou nie vorentoe kan pluk nie. Wees elasties in jou elmboë, maar probeer om nie die teuels te laat los nie, anders kry perd presies wat hy wil hê – al die teuels. Ry hom sterk vorentoe en bring weer sy kop met 'n reeks "half-halte" op.
Let wel: 'n Half-halt is nie 'n pluk op die teuels nie. Dit is "terugbring" op (meestal) die buiteteuel wat gepaardgaan met aktiewe vorentoe dryf van die been en sitvlak, sodat die perd vir 'n split-sekonde heeltemal "byme-kaarkom". Dit dien om 'n perd te help -balanseer en sy aandag te hou.
Pluk kan veral by kinders 'n groot probleem wees en dit mag nodig wees dat 'n sterker rui-ter die perd herskool of dat syteuels (side reins) vir 'n tydjie op die perd gesit word, sodat hy teen homself pluk wanneer hy pluk.
Weghardloop
Dis 'n baie nare gevoel om bo-op 'n perd te sit wat heeltemal buite beheer raak en die pad met jou vat. Dit kan uiters en selfs lewensgevaarlik wees vir beide perd en ruiter en soms vir andere wanneer die perd byvoorbeeld oor 'n pad en in verkeer inhardloop. Daar is 'n paar redes waarom perde weghardloop, maar die vernaamste is vrees en paniek.
Perde is van nature vlugdiere. Deur hulle te skool en af te rig, leer ons hulle meestal om nie so uitermate op hierdie instink te reageer nie, maar ongelukkig is dit nie moontlik om die vluginstink heeltemal mak te maak nie.
Perde hardloop ook weg van pyn en soms, as 'n saal of 'n té sterk stang (of die hande daaragter) 'n perd seermaak, of as 'n ruiter 'n perd slaan of andersins pyn besorg, sal hy sy instink volg en probeer wegkom van die pyn.
Wanneer 'n perd begin hardloop, is daar twee faktore wat inskop. Die eerste is paniek en die tweede is adrenalien. 'n Paniekerige perd raak heeltemal irrasioneel en wanneer die adrenalien begin vloei, voel hy geen pyn nie. Dit maak vir 'n baie gevaarlike kombinasie. So sien mens dat perde deur drade hardloop, oor heinings en slote probeer spring en tussen verkeer inhardloop.
As 'n perd met jou begin hardloop, moet nooit begin skree of paniekerig raak nie. Dit gaan ook nie help om met alle mag aan sy bek te probeer hang nie – hy gaan jou nie voel nie. Die beste ding wat jy kan doen is om kop te hou en weer die leiding te probeer oorneem.
Hy is reeds in 'n paniek, omdat hy voel dat sy wêreld onder hom uitgeruk is, so jy moet hom nou laat verstaan dat daar iemand in beheer is en dat jy hom sal beskerm (die tropleier-idee). Ry hom dus vorentoe! Dit klink gek, ek weet, maar dit is die enigste manier. En onthou om asem te haal!
Dryf die perd
Ry hom vorentoe en begin om vir die perd 'n ritme te gee – nou is dit nie net meer hy wat instinktief reageer nie, maar iemand wat hom dryf. Vat 'n stewige kontak op die teuels, sonder om te trek en begin met half-halte om die perd se aandag te probeer kry. Kyk waar jy is en probeer hom van moontlike gevare weghou. Indien daar spasie is, probeer om die perd in 'n spiraal te begin ry.
Moet hom nie te vinnig te skerp probeer draai nie, hy kan neerslaan, maar maak elke sirkel 'n bietjie kleiner as die vorige een – dit sal sy spoed noodwendig verminder. Begin nou om die ritme wat jy vir hom gegee het stadiger te probeer kry – maar ry hom steeds vorentoe. Jy sal voel wanneer hy nie net meer paniekerig en blind hardloop nie, maar begin vorentoe beweeg omdat jy hom vra.
Moet hom nie dadelik stop nie. Hou aan om hom te beweeg, maar gaan al hoe stadiger, totdat jy hom uiteindelik heeltemal onder beheer het en hom kan stop. Prys hom dan omdat hy vir jou geluister het en moet hom nooit probeer straf nie. Stap rustig met hom tot sy asemhaling en hartklop onder beheer is (joune ook!) – onthou, dit was vir hom net so trauma-ties soos vir jou.
Perde wat al vinniger gaan
Die ander geval is die perd wat eenvoudig al hoe sterker en vinniger gaan wanneer jy hom skool of spring. Somtyds, maar baie min, is 'n sterker stang die antwoord. Gewoonlik het 'n sterker stang egter geen, of selfs 'n nadelige invloed, aangesien baie perde reeds van 'n te sterk stang probeer weghardloop. Wanneer 'n perd so probeer hardloop, hou jou hande laag. Deur jou hande op te tel, sal omtrent altyd veroorsaak dat die perd vinniger hardloop. Gebruik weer eens die spiraal-idee.
Onthou, jong, ongebalanseerde perde galop vinnig. Dit is nie omdat hy wil weghardloop nie – dit is om sy balans te probeer hou. Namate sy balans verbeter, sal sy ritme begin verstadig en meer gekontroleerd voel.
Beter balans
Dikwels wanneer 'n perd nog nie sy spierkrag tot so 'n mate ontwikkel het dat hy homself kan dra nie, sal sy galop al -vinniger word. Dit is nie noodwendig dat die perd probeer om met jou weg te hardloop nie, maar -eerder dat sy spiere moeg word en hy homself met spoed probeer balanseer. -Galop korter ente en bring hom terug na 'n draf, sodat hy sy balans kan herwin.
Sodra hy weer gebalanseerd is, kan jy hom weer vir 'n entjie galop. Probeer om te antisipeer hoe lank dit hom neem voordat hy begin moeg raak, en bring hom voor dit terug. Lonseerwerk sal help om die nodige spiere te bou wat die perd nodig het om homself te dra.
'n Ander geval is 'n perd wat versnel nadat mens 'n flying change gedoen het. Dit is heeltemal normaal. Onthou, die verandering van rigting, buiging en leidende bene, affekteer 'n perd se balans. Hy probeer maar net om sy balans te herwin. Moenie met hom daaroor baklei nie en gee hom 'n paar treë grasie, voordat jy hom weer terugbring.
Perde wat in spronge inhardloop
'n Perd wat in spronge "inhardloop", of na hy geland het die pad vat, is gewoonlik perde wat nog nie die balans, krag of selfvertroue het om die moeilikheidsgraad van die spronge aan te durf nie. Keer terug na die basiese en bou die perd op met lonsering, paalwerk, en skoling en leer hom dat 'n ligte kontak vir albei van julle meer voordelig is. Onthou om hom te prys wanneer hy iets reg doen.
Op sy mond
Verder sal mens dikwels sien dat iemand 'n perd ry wat op die oog af "sterk" is. Die arme ruiter moet om lewe en dood aan sy mond hang om te keer dat hy al vinniger gaan. Dit is baie maal 'n geval van oorsaak en gevolg: Hoe harder die ruiter trek, hoe meer probeer die perd van die ongemak wegkom.
Soms is dit die stang wat die perd seermaak en hy daarvan probeer wegkom. So 'n perd is beslis nie so gebore nie – hy is so gemaak. Hy raak paniekerig met die kort, stywe kontak in sy mond en probeer om lewe en dood vlug daarvan.
Kom van sy mond af. Probeer hom op 'n langer, losser teuel te ry en sy ritme met jou sitvlak te beheer. 'n Reeks half-halte is meer doeltreffend as 'n aanhoudende dooie trek wat sy bek doodmaak, die perd paniekerig maak en jou arms seermaak. Onthou, as dit in 'n stoeigeveg ontaard, gaan die perd wen. Hy is eenvoudig baie sterker as jy.
So 'n perd sal weldra besef dat daar niks meer is om teen te baklei nie en hy sal meer beheerbaar begin raak.
Ten slotte
Hierdie was die laaste in die reeks oor gedrags-afwykings by perde en hoewel daar vele ander is, sal dit net nooit ophou as mens nie -iewers halt roep nie – soveel verskillende mense, soveel gedragsafwykings by perde!
Ja, dit is waar – neurotiese mense het neurotiese perde. Wrede mense het neurotiese / probleemperde. Mense wat perde in die afgrond in bederf, het probleemperde. Mense wat ongevoelig is, het probleemperde.
Solank as wat mense en perde in interaksie met mekaar is, sal daar gedrag van beide kante wees wat vir die ander onaanvaarbaar is. -Ongelukkig word slegs die "onaanvaarbare" gedrag van die perd as 'n "probleem" beskou en mense kom skotvry daarvan af – of nie? Soos die ou gesegde lui: "Daar is nie pro-bleemperde nie, net probleemeienaars ..."
|