|
Mens hoor deesdae al meer van probiotika. Verskeie produkte is al beskikbaar. Sommige is "algemene" produkte, wat (volgens die etiket) 'n verskeidenheid organismes bevat wat goed is vir die dier. Ander word weer bemark as synde spesifiek saamgestel vir perde, en opgemaak uit organismes wat uit perde "geoes" is.
Maar wat is dit, en is dit goed om te gebruik? Voor ons egter die vraag kan antwoord, moet ons eers gaan kyk na die perd se dermkanaal.
Verteringsorganismes
Om die perd in staat te stel om ruvoer te kan verteer, kom daar 'n verskeidenheid organismes in veral die dikderm en sekum voor. Hierdie organismes breek vesel af en produseer vlugtige vetsure, wat 'n belangrike bron van energie vir die perd is. Verder vervaardig hulle ook B-vitamiene, wat noodsaaklik is vir 'n gesonde perd en die risiko verminder dat skadelike bakterieë (soos salmonella) oormatig in die dermkanaal groei en siekte veroorsaak.
Maar dis nie net bakterieë wat deel vorm van hierdie "gesonde" organismes nie – protozoa, gisse en swamme vorm ook deel daarvan. Ons weet nog maar min van hierdie organismes, en baie het nog nie name nie en kan ook nie met konvensionele metodes in 'n laboratorium gekweek word nie. Ons sal seker nooit presies weet wat alles daar voorkom nie. Wel weet ons dat daar in die dikderm van 'n perd miljoene sulke organismes voorkom, meer as wat daar selle in die perd se liggaam is!
Probleemfaktore
Stres van enige aard het 'n direkte invloed op hierdie goeie organismes. So kan siekte, behandeling met antibiotika, strawwe oefening, reis in 'n perdevervoerwa, skielike verandering van die tipe voer wat gevoer word, verandering in roetine, verandering van omgewing en die wegneem van 'n perd se maters, almal die hoeveelheid en tipe organismes wat in die dikderm voorkom beïnvloed.
Nog 'n faktor wat probleme veroorsaak, is die samestelling van die rantsoen. Baie kragvoer met relatief min ruvoer krap die mikroflora erg om. Wanbalanse of 'n gebrek aan mikroflora in die dermkanaal lei nie net tot verteringsteurnisse soos swak voerbenutting, impaksie of diarree nie, maar ook tot koliek en laminitis. Dis dus van groot belang dat die normale populasie mikroflora in die dermkanaal gehandhaaf word.
Soos meeste seker al afgelei het, word uithouritperde op deurlopende basis aan stres blootgestel wat die mikroflora kan versteur. Om die effek tot die minimum te beperk, moet mens eerstens probeer om die stresfaktore te verminder. Moenie roetines versteur nie en voer altyd op dieselfde tyd.
En moenie skielik van voer verander nie. As jy noodgedwonge aanpassings moet maak, doen dit geleidelik deur ou en nuwe voer te meng. Moet nooit verander net omdat 'n vriend of kennis jou vertel dat die produk wat hulle gebruik, so goed is nie. As jy 'n resep het wat vir jou en jou perd werk, hou daarby!
Aanvullings
Reeds aan die begin van die twintigste eeu het mense besef dat dit belangrik is om natuurlike mikroflora aan te vul nadat 'n perd siek was. Dit is gedoen deur mis van gesonde perde bymekaar te maak, dit te pars en dan die vloeistof wat uitgedruk is met 'n maagbuis aan die siek perd toe te dien.
Sedertdien is heelwat navorsing gedoen, en word van die organismes nou in laboratoriums vermeerder en dan in produkte opgemaak wat van die rak ge-koop kan word. Daar is heelwat produkte beskikbaar wat mens kan gebruik om die mikroflora aan te vul.
Hoewel daar nog maar min werklike navorsing gedoen is om te bepaal of hierdie probiotika werklik 'n verskil maak, is daar heelwat voedingkundiges wat van mening is dat mens dit maar deurlopend moet voer, veral vir perde wat aan prestasiesport deelneem. Daar is ook nie genoegsame bewyse dat spesifieke perde-probiotika beter is as 'n meer algemene produk nie, en heelwat navorsing moet nog in die verband gedoen word.
Maar daar is nie juis risiko's verbonde aan die gebruik daarvan nie. Moet dus nie wag tot jou perd tekens daarvan wys dat die mikroflora versteur is nie, want dan gaan dit net soveel langer neem vir hom om weer te herstel. Gee deurlopend elke dag 'n klein dosis!
|