Login / Register You are not logged in.

Featured ads

How can I feature my ad?

Doepa vir verlore sweet
by Paul van Dam

Daar word die laaste tyd baie gesê en gewonder oor elektroliete: Moet mens dit gee, of liewer daarvan wegbly? En as mens gee, wat gee jy? 'n Kommersiële preparaat wat iets van alles bevat, of een wat meer spesifiek saamgestel is op grond van die ontleding van elektrolietverlies in sweet?

Dalk 'n tuisgemaakte produk? Of sommer 'n paar produkte – as bietjie goed is, moet baie mos beter wees? En moet dit 'n vars produk wees, of kan mens maar die goed gebruik nadat jy dit vir 'n jaar onder die bakkie se sitplek vergeet het?

Ongelukkig het ons nog nie antwoorde op al hierdie vrae nie. Ja, daar is jare terug al werk gedoen om te bepaal watter en hoeveel elektroliete in sweet verlore gaan. Maar is dit die regte manier om te bepaal wat aangevul moet word? Dalk is dit net te eenvoudig, en vergeet ons van die metaboliese prosesse wat in die perd se liggaam plaasvind.

Wat is nuut?
Navorsing wat onlangs gedoen is, het aangetoon dat mens dalk nie al die elektroliete wat verlore gaan, moet aanvul nie, en dat iets soos kalium dalk vermy moet word. Dis omdat normale metabolisme reeds veroorsaak dat kaliumvlakke in die bloedplasma styg, en dat aanvulling dit dalk tot op 'n vlak kan bring waar dit lei tot neuromuskulêre irritasie (met ander woorde, die senuwees wat die spiere beheer, oorreageer op normale stimuli).

Dit kan lei tot simptome soos onreëlmatige hartklop, polstempo wat nie wil afkom nie of baie stadig afkom, bonsing (thumps), spiertrillings en -krampe, en oormatige of onderdrukte dermbeweging (en dermklanke). Ons is nog besig om hierdie inligting te ontleed, en sal op 'n latere stadium meer daaroor berig.

Van die rak af?
Tuisgemaakte produkte is goed, mits dit van hoë gehalte bestanddele gemaak word. Kommersiële produkte het die voordeel dat dit presies vermeng word en altyd dieselfde is, maar daar is heelwat wat nie die regte hoeveelheid en tipe bestanddele bevat nie. Soek produkte wat natrium, chloried, magnesium en kalsium bevat, en nie veel meer as dit nie.

Bly weg van produkte waarvan die lys van bestanddele kolomme lank is, en vermy produkte wat koeksoda (natriumbikarbonaat) bevat, teen alle koste. Gebruik een produk, en moenie kort-kort verander nie. Moenie ‘n klomp verskillende produkte saam gebruik nie, want dit kan die balans tussen verskillende elektroliete totaal omvergooi.

Daar is opinies dat, wanneer elektroliet-mengsels te oud raak, die bestanddele begin skei, sodat nie elke lepel vol dieselfde samestelling het nie. Hoewel daar nog geen navorsing gedoen is om dit te bewys of te weerlê nie, sou dit gevaarlik kon wees – roer of skud dus maar die houer gereeld.

Wanneer is ‘n goeie tyd?
Moet mens enigsins elektroliete gee, as daar dan soveel moontlike gevare daaraan verbonde is? In proewe wat gedoen is, is gevind dat perde sonder elektrolietaan-vullings gewoonlik maar die helfte van die vloeistof wat in sweet verlore gaan, aanvul deur water te drink. Daarteenoor het perde met elektrolietaanvulling ongeveer net soveel water gedrink was wat hulle deur sweet verloor het. So, besluit maar self!

En kan mens elektroliete gee vir perde wat nie water drink nie? Sout of soutwater stimuleer perde om te drink, so mens moet perde wat nie drink nie, juis elektroliete gee om so die "dors-refleks" wat die perd stimuleer om te drink, aan te wakker.

Leer jou perd by die huis om soutwater (4,5-9 gram sout opgelos in een liter water) te drink. Gee dan by die rit eers vir die perd van die soutwater om te drink, lei hom bietjie rond en laat hom dan skoon water drink. Meeste perde sal meer drink na die aanvanklike slukke soutwater, as wat hulle daarsonder sou gedrink het.

Dis belangrik om te besef dat ons nog nie alles weet van elektroliete en die gebruik daarvan nie. Dat dit voordelig is, is seker. Dat daar moontlike gevare is, is ook waar. Belangrikste is dat mens altyd bereid moet wees om te lui-ster na nuwe inligting, en bereid moet wees om aan te pas by dit wat deur nuwe navorsing bevind word. En in die SA Distance Rider sal ons probeer om julle altyd ingelig te hou!

Top of page

Copyright © 1998 - 2012, Horse Junction. All rights reserved.