|
Dit bly maar 'n droom van baie om 'n eie plekkie buite die stad te hê, met genoeg ruimte om sorgeloos met jou perd oor die wye vlaktes te galop. Hierdie droom is egter vir min beskore. Die harde realiteit van so 'n plekkie, is dat dit vol slaggate en 'n baie groot verantwoordelikheid is. Maar nou is daar 'n manier om die lekker te hê, sonder die verantwoordelikheid.
Die Diamond X Ranch buite Rayton in Gauteng, het oor die jare 'n reputasie van uitnemendheid opgebou, veral vir die manier waarop mense en perde daar in die rykuns opgelei word. Hulle jongste projek, 'n uiters bekostigbare Mek-sikaanse-styl behuisingsontwikkeling, sal dus die mond laat water van dié wat voorheen met die Ranch en sy aktiwiteite kennis gemaak het.
Die idee met die ontwikkeling, volgens die eienaar van die plaas, Rudan Maritz, is om die gesin weer bymekaar te bring rondom perde.
Kom hou naweek ... "So dikwels is perdry 'n verdelende aktiwiteit hier in die stad. Die pa werk die heeldag om geld te verdien, sodat die ma en kinders die luukse kan hê om by 'n ryskool les te kry, of selfs hulle eie perde by openbare stalle aan te hou. Naweke is dit skoue, wat beteken dat daar min sprake is van kwaliteit tyd saam as gesin.
"Met hierdie ontwikkeling op die -Diamond X Ranch, is die idee dat 'n gesin hul eie huisie op die plaas kan hê, wat dan ruimte insluit om hulle perde hier aan te hou. Naweke kan almal dan rustig hier kom bly en aan die verskillende aktiwiteite wat aangebied word, deelneem."
... of bly vir altyd!
Daar is ook die opsie vir mense om die plaas hulle permanente woning te maak: "Die ontwikkeling sal só gedoen word, dat huise wat net oor naweke bewoon word, in die week vir huisvesting van groepe wat hier is vir konferensies of spanbougeleenthede, gebruik kan word. Sodoende stel dit die eienaars van die huise in staat om 'n geldjie terug te kry op hulle belegging. Dis nou afgesien van die uitstekende belegging wat die eiendom op sigself verteenwoordig."
Die ontwikkeling, verduidelik Rudan, bestaan uit 108 erwe wat in groepe van ses erwe rondom 'n ry-arena gerangskik word, sodat daardie ses eienaars dan eksklusiewe toegang tot die arena het. Perde kan óf vir die naweek saamgebring word, óf kan permanent op die plaas gehuisves word. Die bestaande stalkompleks sal vir dié doel uitgebrei word as dit nodig is.
"Van die dienste wat saam met eienaarskap van 'n huis hier op die plaas kom, is spesifieke afrigtingsprogramme vir perd en ruiter, rylesse, klinieke, uitritte, gereelde kompetisies in verskillende rydissiplines, en natuurlik uitstekende afrigters. Verder sal daar ook 'n klubhuis wees, en 'n bed-en-ontbyt fasiliteit vir -besoekers."
Die Diamond X Ranch is bekend vir sy Quarter Horse stoet, asook die uitstekend -geskoolde perde in sy ryskool, wat hoofsaaklik op die Western Riding konsentreer, -hoewel hulle glo dat korrekte beginsels in enige -ry-dissipline geld. Al hierdie aktiwiteite, sê -Rudan, gaan net so voort en aandeelhouers kan daaraan deelneem.
Ruimte vir perdry
Een van die kenmerke van die Diamond X Ranch, is die ongelooflike ruimte wat daar is vir allerhande perde-aktiwiteite: "Dis een van ons sterk punte op die plaas – ons het toegang tot die ongelooflikste uitritte. Ons het selfs 'n 4 x 4 roete vir die pa's wat eerder met 'n ysterperd hulle uitritte wil onderneem."
Nog ‘n kenmerk van die ontwikkeling, verduidelik Rudan, is die omgewings-vriendelike beginsels wat gevolg word. Die mikpunt is om sovêr moontlik onafhanklik van dienste te wees. Water word met son-energie verhit, gas word vir yskaste en stowe gebruik, en 'n plaaslike watersuiweringsaanleg op die plaas sal dit moontlik maak om grys water te hersirkuleer.
"Ek glo die grootste voordeel wat hierdie ontwikkeling aan kopers bied, is die toegang wat hulle skielik kry tot 'n gevestigde perdeplaas met uitstekende geriewe. Hulle koop 'n aandeel in infrastruktuur wat hulle nooit op eie stoom sou kon of wou ontwikkel nie. Boonop koop jy 'n aandeel in 'n bestaande handelsmerk met 'n uitstekende naam in die bedryf.”
Vir meer oor die Diamond X Ranch, en ook die behuisingsontwikkeling, gaan na hulle webwerf by www.diamondx.co.za.
|