|
’n Enkeltuigperd wat jy in die skou-arena wil gaan vertoon, moet eerstens ’n baie goeie temperament hê, en tweedens oor genoeg stamina beskik om, terwyl hy daar in die arena is, alles te kan gee. So sê die bekende perde-afrigter van Mpumalanga, Piet Uys. Piet is ook bekend vir die troukoetse wat hy regoor die land aanbied.
"Ons soek na ’n perd met ’n goeie skouer, ’n baie goeie toplyn en ook uitstekende beweging van sy agterbene. As ons van beweging praat, moet ons onderskei tussen beweging en aksie.
"Waar aksie gaan oor hoe hoog die perd sy pote optel, gaan beweging oor hoe lank sy treë is – met ander woorde, hoeveel grond hy dek. Met ’n enkeltuigperd soek ons altwee – ’n hoë elevasie en ’n lang tree. Dit maak die vertoning ’n skouspel vir die toeskouers."
’n Volgende aspek wat ’n baie groot verskil maak by die beoordeling van enkeltuigperde, is die spoed waarteen die perd die karretjie trek.
"Die perd moet baie suiwer wees in al drie die passe waarin hy skou, naamlik ’n suiwer platvoet-stap, ’n suiwer, spoggerige pronkdraf, en dan ’n indrukwekkende sneldraf of strekdraf. Dis belangrik dat die verskil tussen die pronkdraf en strekdraf baie duidelik is. As die bevel kom dat die perde moet strek, moet dit lyk asof jou perd soos ’n vuurpyl wegtrek, terwyl hy sy vorm en ritme behou."
Afrigting
Piet begin sy perde so teen twee jaar inspan. Hoewel hulle dan nog te jonk is om die gewig van ’n ruiter te dra, kan hulle wel begin leer om ’n karretjie te trek.
"Die dissipline en soepelheid wat mens op daardie ouderdom reeds aan ’n perd kan oordra, is vir my baie belangrik, maar dis krities dat mens dit nie oordoen nie. Al wat ek op daardie stadium doen, is baie stap, halt en staan. Ek ry maar daar by die huis tussen die stalle rond, sodat die perd heeltemal gewoond raak aan wat van hom verwag word. Wanneer hy hier teen vier jaar begin trek, dan begin ek sy oefenprogram heelwat strawwer maak."
Soepelheid is die basis van die afrigting van ’n enkeltuigperd. Baie lonseerwerk in die ring en baie laterale werk onder die, saal vorm ’n belangrike deel van die voorbereiding. Hierdie laterale soepelheid is baie belangrik in ’n enkeltuigperd, anders begin mens maklik foute kry soos dat hy begin skeef trek met sy nek, of dat hy een poot hoër optel as die ander.
"Ek glo perde moet ten minste drie keer per week ingespan word. Ekself neem hulle dan vir ’n goeie 12 km uit op die pad, sodat hulle ’n goeie ritme kan ontwikkel. As hy eers ’n goeie ritme vasgelê het, kan mens ’n ophaler begin aansit, maar dis belangrik dat die ophaler nie te styf is nie. Die ophaler se funskie is slegs om te sorg dat die perd nie sy kop laat sak nie. As die kop in die regte, natuurlike posisie is, moet dit geen invloed hê nie."
Afwisseling van passe en spoed, sê Piet, is uiters belangrik. Die perd moet baie duidelik verstaan wat die verskil is tussen die tekens vir stap, pronkdraf en strekdraf.
"Ek maak baie van woord-tekens gebruik. As ek sê ‘stap’, dan hou ek hom vas en laat skiet daarna die teuels. As hy wil deurslaan, hou ek hom weer vas en sê ‘stap’ en laat skiet. So leer hy my hand ken.
"In ’n pronkdrag gebruik ek ’n klikgeluid, en van die pronkdraf na die strekdraf roer ek sy bek effens links en regs, en dan raak ek hom met die swepie teen sy nek. Later roer ek net sy bek sonder dat iemand dit kan sien, en hy vlieg weg soos ’n koeël uit ’n geweer.
"Vir die strekdraf praat ek nie met hom nie, want perde is geneig om hulle ore na agter te bring in die rigting van jou stem. Ek wil juis hê dat hy sy ore vorentoe moet spits as hy in die strekdraf ingaan. Een van die negatiewe uitwerking van ’n te stywe ophaler, is juis ook dat die perd sy ore sal terugtrek."
Hulpmiddels
Piet sê dat hyself geen hulpmiddels soos rekke, kettinkies, shackles of swaar ysters gebruik nie.
"Daar is ’n Engelse gesegde wat sê ‘an ounce on the hoof is a pound in the mouth’. ’n Swaar yster maak die perd net swaar in sy bek. Ek gebruik ’n gewone winkel-ystertjie. Dit spaar hulle bene, hou die perd lig op die bek en stel hom in staat om regtig ’n natuurlike ritme te ontwikkel. ’n Te swaar yster laat die perd lyk asof hy sukkel om sy poot weer op te tel. Ek wil hê sy pote moet soos ’n rubberbal lyk wat sommer van die grond af bons."
Ook belangrik in die voorbereiding van ’n tuigperd, is natuurlik die korrekte voeding. ’n Perd wat ’n gebalanseerde rantsoen kry, met die regte mineraal- en vitamienbalans, gee vir jou dubbeld terug wat jy insit. Hy het sterk hoewe en genoeg energie om te doen wat jy hom vra, sê Piet.
In die arena
"As ek in die skouring is, ry ek so effens meer op die buiteleisel, sodat die perd effens na buite kyk. Dit maak dat hy sy ore vorentoe hou, omdat hy kan sien wat buite die arena aangaan."
Die heel belangrikste wenk wat Piet kan gee, is om baie ontspanne te wees as jy die ring ingaan: "As jy jou perd goed voorberei het en hom ken jou hand, sal jy en hy ontspanne wees. Nou is nie die tyd om bekommerd te wees oor jou opposisie nie. Nou is dit net jy en jou perd, en om hom tot sy volle potensiaal te vertoon.
"Hoe losser die perd se bek is, en hoe beter hy jou hand ken, hoe meer sal hy ook ontspanne wees en alles vir jou gee."
Piet beveel aan dat, as jy naby die beoordelaars is, en hulle kyk vir jou as die bevel vir ’n spoeddraf kom, jy seker maak dat die oorgang dramaties en seepglad is. Dit is hier dat ’n te stywe ophaler al jou voorbereiding kan neutraliseer, omdat die perd nie met gemak jou bevele kan gehoorsaam nie.
En maak seker dat jou tuig baie goed pas: "Jou borsplaat moet nie te laag wees nie. So net bo die perd se skouerknoppe is reg. Dan moet jou tuig so gestel wees dat jou disselboom, borsplaat en stringe gelyk is. Alle los punte moet met iets soos insuleringsband vasgedraai word, sodat jy ’n perfekte prentjie vir die beoordelaars skep."
Piet is oortuig daarvan dat, as ’n perd korrek hanteer word, hy maklik nog in sy twintigs kampioenskappe behoort te kan wen.
In die foto: Weepee se loopbaan het in 2002 begin en sedertdien was hy die SA Boerperd se nasionale kampioen reunperd (2003, 2004, 2005, 2006, 2007); reserwe kampioen (2008); nasionale kampioen tradisionele driegang-ryperd (2005, 2006, 2007), nasionale enkeltuigkampioen (2004, 2005, 2006, 2007); en reserwe kampioen (2008). In sewe jaar het Weepee 17 skoue bygewoon. Elf daarvan was streekskoue en ses was SA Kampioenskapskoue. Weepee was altesaam 33 keer aangewys as kampioen, vyf keer as reserwe kampioen en het een Victor Ludorum ontvang.
|