|
sonder ’n knip
Dit is beter om ’n haltertou direk aan die halter vas te maak sonder ’n knip, omdat die knip kan breek. Baie mense los die haltertou permanent aan die halter, en vleg selfs die punt ’n ent terug op die tou, sodat dit permanent hou en bykans onbreekbaar is.
Soms wil mens egter die tou maklik kan afhaal. Dan is dit maklik om ’n lus in die punt van die tou te knoop en die lus deur die halterring te steek, en die ander punt van die tou weer deur die lus te druk. Trek die hele tou deur die lus en jy het ’n sterk hegting wat maklik afgehaal kan word deur bloot die tou weer terug deur die lus te druk (Sien Figuur 1).
’n Vinnige halter
As jy ’n perd moet vang en jy het net tou by jou (selfs ’n gewone baaltou kan werk), kan jy maklik ’n halter maak deur ’n lus in die een punt van die tou te knoop (Sien Figuur 2). Plaas die punt met die lus oor die perd se nek en vat dit weer aan die onderkant.
Vou nou die ander ent van die tou in ’n lus en druk dit deur die geknoopte lus. Maak hierdie nuwe lus nou groot genoeg, sodat dit oor die perd se neus pas. Nou het jy ’n halter. Die ongeknoopte punt van die tou dien as haltertou (Sien Figuur 3).
Om die perd weer los te maak glip jy slegs die tou van die neus af, trek dit terug deur die geknoopte lus en haal die tou van die perd se nek af.
(Uit: Stable Smarts deur Heather Smith Thomas, Storey 2005)
|