Login / Register You are not logged in.

Featured ads

How can I feature my ad?


Hou maagsere in toom
deur Paul van Dam

Sooibrand word veroorsaak deurdat maagsuur uit die maag te­ruggestoot word in die slukderm. Hoë vlakke maagsuur is ook die hoof oorsaak van maagsere. Maagsere by perde? Kan dit werklik 'n probleem wees?

Beslis! Hoe meer navorsing oor hierdie onderwerp gedoen word, hoe duideliker word dit dat maagsere bykans sonder uitsondering by sportperde voorkom. En dis nie net weens spanning of van die feit dat die perde alleen op stal gehou word nie (hoewel hierdie faktore ook 'n rol speel). Nee, die blote feit dat die perde gereeld geoefen word, dra by tot die voorkoms van maagsere.

Waar kom dit vandaan?

Wanneer perde oefen (selfs op 'n stap) verhoog die druk binne die buikholte. Hierdie druk word al hoe hoër namate die spoed toeneem, en neem eers weer af wanneer die perd vanaf 'n rustige stap tot stilstand kom. Die verhoogde druk veroorsaak dat die maag saamgedruk word, en dit lei weer daartoe dat die maaginhoud, hoog in maagsuur, in die rigting van die slukderm gedruk word.

Onder normale omstandighede kom daar nie suur in die voorste deel van die maag voor nie. Die maagwand in hierdie deel kan nie hoë vlakke suur hanteer nie, en die suur "vreet" letterlik sere in die maagwand in.

Tot onlangs toe was daar geen bewyse dat maagsere wel die prestasie van perde beïn­vloed nie. In 'n onlangse studie op ­resiesperde is egter onteenseglik bewys dat die maagsere wel 'n negatiewe uitwerking het. Die redes ­hiervoor moet nog ­verder nage­vors word, maar in dié stadium lyk dit of daar hoofsaaklik twee faktore is wat 'n rol speel.

Enersyds is daar die pyn wat 'n direkte gevolg van die maagsere is; ­meestal is dit van so 'n aard dat die eienaar of ruiter dit nie raaksien nie, maar genoeg is om die perd ongemaklik te maak. Andersyds veroorsaak die maagsere 'n laegraadse bloedarmoede (anemie) omdat bloed voortdurend uit die sere in die maag uitlek.

Dit is gevind dat perde met maagsere se rooibloedsel- en hemoglobienvlakke, aansienlik laer was as dié van perde sonder maagsere. Rooibloedselle en hemoglobien is noodsaaklik om suurstof na alle selle van die liggaam te vervoer, en lae vlakke sal veroorsaak dat te min suurstof by die selle uitkom, en die perd vinniger moeg word.

Onthou net dat bloedarmoede as sulks nie beteken dat die perd maagsere het nie – daar is legio ander oorsake van hierdie probleem! Die enigste manier om bo alle twyfel vas te stel of 'n perd wel maagsere het, is deur ’n gastroskopie.

Behandeling

In die studie waarna vroeër verwys is, is gevind dat die perde se prestasie aansienlik toegeneem het nadat die maagsere behandel is. Ongelukkig maak maagsere gou weer hulle verskyning wanneer behandeling gestaak word, en moet ’n mens maatreëls in plek stel om dit te probeer voorkom. ’n Mens sou deurlopend behandeling teen lae dosisse kon gee, maar dit is 'n duur opsie.

Daar is ook biopreparate (middels met natuurlike bestanddele) beskikbaar wat 'n positiewe uitwerking kan hê, maar dit wissel van perd tot perd. Natuurlik beteken dit nie dat ’n mens dit nie moet gebruik nie, maar wel dat jy dit moet gebruik saam met ander maatreëls. Aanpassings in die bestuur en voeding van perde is hier van groot belang.

Perde moet verkieslik elke dag so lank as moontlik buite wei, en verder vrye toegang tot ruvoer hê.

Dit help ook om kleiner hoeveelhede kragvoer op 'n meer gereelde basis te gee (en nie alles in een of twee voedings nie). Voer met 'n lae graaninhoud help ook. Hou in gedagte dat hoë graaninhoud om twee redes nadelig is.

Eerstens verhoog dit die afskeiding van maagsuur, en tweedens is graan ryk aan oplosbare koolhidrate wat in die maag deur fermentasie na vetsure omgeskakel word, wat ook skade aan die maagwand kan veroorsaak.

In verskeie studies is ook gevind dat lusern 'n invloed op die vermindering van maagsere het. Die hoë kalsium en proteïeninhoud van lusern verhoog die maag se pH, en verminder die skadelike invloed van die maagsuur op die maagwand.

Nog navorsing sal gedoen moet word om te bepaal watter bestuursfaktore die belangrikste is om die voorkoms van maagsere te verminder. Intussen is dit raadsaam om te aanvaar dat perde wat aan prestasiesport deelneem, waarskynlik maagsere sal hê, en om voorsorgmaatreëls soos hierbo uiteengesit, toe te pas.

Copyright © 1998 - 2007, Horse Junction. All rights reserved.

Top of page

Copyright © 1998 - 2012, Horse Junction. All rights reserved.