Login / Register You are not logged in.

Featured ads

How can I feature my ad?


Begin jou loopbaan hier
deur Mary Sadler (Foto’s deur Robert Sadler)

Baie jong ruiters wil graag eendag 'n beroep volg wat met perde te doen het, maar weet nie altyd waar om te begin nie. 'n Reis oorsee om as staljonge te gaan werk, is 'n gewilde keuse, maar vir die wat verkies om plaaslik te kwalifiseer, is daar deesdae naskoolse opleiding by plekke soos die Racing and Equestrian Academy in Natal, die Beaulieu College Equestrian Academy in Kyalami en nou ook die Plettenberg Equestrian Academy in die Suid-Kaap.

Die Plettenberg Equestrian Academy is geleë op die Fijnbosch Nooitgedachter Stoetplaas van Russell Stevens, net 'n paar kilometer van Plettenbergbaai op die bekende Tuinroete. Dis 'n mooi plek, 80 ha groot met groen kampe en moderne geboue onder reuse bome. 'n Netjiese gruispad lei langs 'n kleurvolle roostuin na 'n skuurkompleks, met stalle wat gebou is op die Amerikaanse manier.

Net 'n entjie verder is drie nuwe wooneenhede waar elke student sy eie slaapkamer het en 'n sit-/eetkamer, kombuis en groot bad­kamer deel. 'n Oordekte ontspanningsarea met 'n swembad en braai bied 'n werklik unieke uitsig oor die plaas en is net reg vir al fresco middagetes. Op die oomblik is daar huisvesting vir 12 studente, maar uitbreidings is in die pyplyn, hoewel gevoel word dat die studentetal tog beperk gehou moet word om persoonlike kontak te bevorder.

Vanjaar se sewe studente is hoofsaaklik jong meisies, pas klaar met matriek. Die meeste het deeglike ruiter-ondervinding. Terwyl dit nie 'n vereiste is vir toelating nie, help dit nogal, reken hulle self. Dis duidelik dat, hoewel hulle mekaar nog maar kort ken, daar reeds 'n sterk gevoel van samehorigheid onder die groepie is. Vir die volgende agt of nege maande gaan hulle soos familie wees en mekaar se lief en leed deel, terwyl hulle die redelik strawwe leerplan deurwerk.

Die leerplan

Die Sanef-modules 1 tot 4 is voorgeskryf met eksamens in Junie en November. Ander ­aspekte wat aandag geniet is basiese stalbestuur, hoe om 'n perd reg te kry vir 'n skou, optuiging, veeartsenysorg, sake-administrasie, uitleg van 'n stallekompleks en so aan.

Verder word elke dag lesings gegee oor verskillende fasette van die bedryf waarvan 'n deeglike kennis noodsaaklik is vir die voornemende werknemer. Vir diegene wat byvoorbeeld belangstel in 'n loopbaan by 'n stoetplaas, sal die lesings oor stoetery van spesiale waarde wees.

Die akademie is verbind aan die Fijnbosch Nooitgedachter Stoet en studente neem aktief deel aan die praktiese daaglikse bestuur van die stoet. Hulle help as die merries gedek word en staan by met die geboorte van vullens. Hulle is ook ten volle verantwoordelik vir die nasorg van die babaperdjies.

Klem word gelê op weidingbestuur en daar is 'n spesiale kursus daaroor, veral ook omdat die Nooitgedachter 'n geharde ras is en opgepas moet word dat die weiding nie te ryk is nie. Studente leer hier oor die verskillende soorte grasse se voedingswaarde asook bemesting- en besproeiingsmetodes.

Omdat daar deesdae 'n belangrike klemverskuiwing is na alternatiewe geneeskunde, word hieraan aandag gegee en kort kursusse in akupunktuur en magnoterapie is ook deel van die sillabus. Verder kry die meer ­natuurlike manier waarop mense ­deesdae verkies om perde aan te hou, naamlik ­sogenaamde natural horsemanship, erkenning en die metodes van onder andere Pat Parelli en Monty Roberts word kortliks aangeraak. Die rykultuur van die sentrum is egter steeds tradisioneel Engels.

Studente ry normaalweg twee keer per dag, beide in formele rylesse wat die basiese beginsels op die vlak en oor hindernisse dek, en op uitritte in die omliggende Harkervillebos tot by die see. Soos die kursus vorder, word hulle toegelaat om van die perde op plaaslike skoue te ry. Nasionale skoue by die sentrum self word in die vooruitsig gestel en 'n nuwe arena vir hierdie doel is reeds in aanbou.

Pret en plesier

Maar alles is darem nie net werk nie. Gereelde uitstappies bring die studente in aanraking met ander perdgerigte bedrywe soos resies, polo en strandritte. Hulle is ook verantwoordelik vir die plesierritte van die nabygeleë Plettenberg Park Hotel se gaste en leer só om met die algemene publiek om te gaan.

Gedurende die verloop van die kursus word 'n week afgestaan vir praktiese ondervinding en studente word vir werk uitgeplaas by die verskillende takke van die bedryf, soos by 'n polo-landgoed, resies-stalle, ryskole en stoetplase. So kan hulle dan die keuse doen in watter rigting hulle hul uiteindelik wil bekwaam.

Vir diegene wat die totale kursus met welslae voltooi, is daar volop beroepsmoontlikhede. Dié wat wil verder gaan met hulle Sanef-kwalifikasies kan geherberg word by plaaslike ryskole waar hulle dan as leerling-instrukteurs werk. Die akademie het ook kontakte oorsee, sodat studente internasionaal ondervinding kan opdoen deur by 'n verskeidenheid stalle in ander lande te werk.

Aangesien die akademie deel is van die International Hotel School, is dit ook ingeskakel by die Three Cities Hotelgroep en as sulks bestaan die moontlikheid van werksgeleenthede in die toerismebedryf, waar perderitte steeds in groeiende aanvraag is en gekwalifiseerde ritleiers 'n vereiste is.

Die stoet

Die Fijnbosch Nooitgedachter Stoet bestaan uit ongeveer 60 ponies van verskillende ouderdomme, waaronder 20 teelmerries. Twee hingste sorg vir die nageslag, met name Daydream Fabius (Badeveen Jeffery X Daydream Flossie) wat met van die oudste Nooitgedachter-bloedlyne in sy stamboom spog, en Sapata Charlie (Silveretta K. Senor X Sapata K. Carolina) wat in 2005 as Grootkampioen Deelsgeteelde Hings bekroon is by die Pretoria Internasionale Skou.

Aangesien sommige merries dragtig was by aankoop, het van die vullens ook die hingste Studvet Turbo en Windrift's Braveheart as vaar, terwyl die merries self uit bekende bloedlyne soos Pretman, Arop, Mooi-Nooi, Kingsdale en ander stam. Hulle kom almal van verskillende stoeterye en is persoonlik uitgesoek deur Petrus Engelbrecht van Wilgerus by Pretoria, 'n gesiene kenner van Nooitgedachters.

Op Fijnbosch loop die perde deurentyd buite. Elke jaar word 10 -15 van die merries gedek en die vullens word in 'n kamp gebore. Nooitgedachters is bekend vir hulle gehardheid en dit is selde indien ooit nodig om te waak by 'n merrie wat moet vul. Studente kry egter die kans om geboortes dop te hou, sodat hulle bekend kan raak met die proses.

Die vullens word op twee-en-'n-half jaar ingebreek en van drie jaar oud af geskool deur die akademie se studente onder toesig van Chantelle, haar assistant, Genna Bombardieri, en Vicky Rowlands, 'n ervare Sanef Vlak 2-instrukteur.

Leigh Smith, tot onlangs nog bestuurder van die stoet en hoof van die Academy, het Charlie gereeld na skoue geneem waar hy plaaslik naam gemaak het as ‘n deeglike en eerlike skouspringer. Hy blink ook uit in dressuur. Leigh se opvolger, Chantelle McCabe, is vasberade om in haar voorganger se voetspore te volg en, saam met Genna en hulle studente, die ponies van Fijnbosch se roem te vestig in die skou-arenas van die Suid-Kaap.

Navrae kan gerig word aan Plettenberg Equestrian Academy, Posbus 84, Harkerville 6604 of skakel hulle by tel 044 532 7590 of e-pos equestrian@hotelschool.co.za.

Copyright © 1998 - 2007, Horse Junction. All rights reserved.

Top of page

Copyright © 1998 - 2012, Horse Junction. All rights reserved.