Login / Register You are not logged in.

Featured ads

How can I feature my ad?

’n Trotse ou grote
deur Paul van Dam

Daar word dikwels ­gepraat oor legendes binne die uithouritsport. Hoe ­klassi-fiseer mens hulle? Gaan dit oor die aantal ­kilometers wat hulle in kompetisie afgelê het? Of oor die bydrae wat iemand gemaak het tot die sport? Of dalk oor die aantal kere wat hulle vir ­nasionale spanne gekies was? Of kyk mens na prestasie oor ’n tydperk?

Vir my gaan dit oor mense en perde wat my beïndruk het oor die jare – ­dikwels om uiteenlopende redes. En daarom gaan die artikels wat ek skryf oor dié wat vir my legendes is, gebaseer word op my eie persepsie.

Omdat ons uithouritsport nie sonder perde beoefen kan word nie, is dit ­sekerlik gepas om met 'n perd te begin.

Benhanie Pride
Pride is 'n Anglo-Arabier, gebore op 16 Oktober 1983. Sy ruiter tydens sy uithouritloopbaan was Hanlie Scott, wat ook sy eienaar en teler is. Sy pa is die ­welbekende SAF Firstaar, 'n Arabierhings van wie talle nageslag op die uithouritbaan presteer het.

Hanlie het hom geskou in die ­skou-­arena en die dekking as betaling gekry. Pride se ma was 'n resiesmerrie, Corfu's Pride, van wie beide ouers vanaf die Agha Khan uit Engeland ingevoer was. Hoe het Pride op die uithouritbaan ­beland?

Hanlie sê: "Ek het met Pride begin uithourit ry om hom te probeer verkoop. Met die dekking het ek gedink ek gaan 'n skouperd teel, want sy ma was 'n baie mooi merrie, maar Pride was dit nie. Ek kon hom net nie verkoop kry nie, en niemand wou my eens R1 000,00 vir hom gee nie!"

Opklim en oefen
Dis iets waarvoor die uithouritsport ­beslis dankbaar kan wees, want Pride het ­ontwikkel in een van die grotes van die sport. Sy oefenprogram was eenvoudig: omdat Hanlie gewerk het en saans klas gedraf het, was daar nie veel tyd vir ­oefening nie. Hy is elke dag vroegoggend vir 'n halfuur lonseer. Woensdagaande het Hanlie hom 12 kilometer gaan ry, en Saterdae so 20 kilometer. Dan elke vier weke of so 'n uithourit. Beslis nie d­oodwerk nie!

Opklim was 'n probleem. "Die kersie op die koek was dat hy nie 'n maklike perd was nie. Die eerste jaar wat ek hom gery het, moes iemand hom met 'n ­lipstok vashou dat ek kan opklim. Hy haat dit steeds as jy jou been oor hom swaai. As jy eers bo was, was jou kanse om bo te bly baie beter, en het ek dus selde afgeklim tydens 'n rit,” sê Hanlie.

’n Trotse loopbaan
Sy loopbaan het begin in Maart 1989, met 'n 80 kilometer rit wat hy in ­ongeveer vyf-en-'n-half uur voltooi het. Dit was maar die spoed wat hy in sy eerste ­seisoen ­gehandhaaf het. Sy eerste ­Fauresmith 200, in dieselfde jaar, het hy in 12:18:13 voltooi. In sy tweede jaar het sy ­gemiddelde tye afgekom na vier ure per rit, en het hy die Fauresmith 200 in 9:52:08 voltooi.

Daarna het sy tye oor 80 ­kilometer verbeter na tussen drie en vier ure, maar nooit te vinnig nie. Hanlie sê dat sy ­gevind het dat hy stadiger herstel as sy vinniger ry, en dat sy swakste jaar by die ­Fauresmith 200 juis die jaar was toe sy die voorritte vinniger gery het.

Enig in sy soort
Wat maak van Pride een van die ­legendes? Die feit dat hy agt ­agtereenvolgende ­Fauresmith 200's (die Suid-Afrikaanse ­Nasionale ­Kampioenskappe van 201 ­kilometer oor drie dae) ­suksesvol voltooi het. Meer nog, die feit dat hy by ses van ­hierdie ritte (ses jaar ­agtereenvolgens) onder die top tien klaargemaak het, die enigste perd wat dit nog ooit kon regkry. Hy was vierde in 1991, derde in 1992, ­negende in 1993 en sewende in 1996.

Beste van alles, was hy twee jaar na mekaar (in 1994 en 1995) as die wenner van die rit gekroon. ­Hiermee het Hanlie uit en uit bewys dat dit nie nodig is om vinnig te ry tydens voorritte om die Fauresmith 200 te wen nie.

Wyse woorde
Hanlie se raad aan ander ruiters: "Moet nie haastig wees en probeer kortpaaie vat nie. Doen jou huiswerk en wees geduldig. Dit vat lank vir sekere organe om tot hul volle potensiaal te ontwikkel. Om 'n voorrit te wen is nie alles nie. Dis die grotes wat tel en waarvoor jy onthou word."

Pride het afgetree. Hy leef nog, is ­amper 24 jaar oud, en pas nou die speenvullens op die plaas op. En hy leer die jong hingsies hulle plek in die ­hiërargie! DR

Pride is nou 24 jaar oud en geniet sy aftrede op die plaas, waar hy die jonger geslag oppas en op hulle plek hou

Top of page

Copyright © 1998 - 2012, Horse Junction. All rights reserved.