deur Izak Hofmeyr
Die plaas Klein Kobee is diep in die berge geleë, en om daar te kom moes Oom Izak ons by die teerpad kom haal. Job Steenkamp se Mercedes sou nie die pas kon oor nie. Sedert ons besoek aan Klein Kobee, het die Vollgraaffs, Izak en Betsie, die plaas verlaat en woon hulle nou op Nieuwoudtsville, waar Izak die skougronde gekoop het en voltyds perde afrig.
"Vandat ek kan onthou was ek maar lief vir 'n perd. Die eerste perd wat ek kan onthou ek gery het, was 'n ponietjie van my oom. Hy het my opgetel en gelos terwyl hy terug huis toe is, en toe duidelik van my vergeet het. Die ponie het onder 'n boom gaan staan en slaap, en ek het maar daar gesit, te bang om af te klim want ek weet nie hoe nie. Eers die agtermiddag het my oom van my onthou en my daar onder die boom kom kry."
Deur die jare, onthou hy, was daar 'n hele paar manne by wie hy van perde geleer het. "Ek dink nou aan oom Frans O'Kennedy, Koenas Nel (Bleek), Willem Nel (Boepie). 'n Man wat my op sy besadigde manier nogal baie geleer het van leisels vashou, was oorlede oom Koos Wilgerbos. Maar die persoon wat die grootste invloed op my gehad het met die ryery, was my oupa, Izak Vollgraaff, na wie ek vernoem is."
Wat is die teken van 'n goeie perdeman? "Om 'n perd met 'n sagte, ferm hand te hanteer en om sonder baklei die beste uit hom te haal. Ek het 'n teken wat ek my perde gee as ek wil hê hulle moet nou begin werk.
"Ouens soos oorlede Bill Sieberhagen en Izak Strauss wou altyd by my weet hoe ek dit regkry dat die perd nie van gang verander nie. Die antwoord is dat ek vir elke gang 'n teken het. Solank hy die drafteken het, sal hy bly draf, en as ek die trippelteken gee, dan sal hy bly trippel tot ek die teken verander."
Oorlede oom Koenas, vertel hy, het hom geleer dat as mens skou toe gaan, gaan jy om te spog, en jy spog nie met vuil toerusting of met 'n maer of vuil perd nie. 'n Skouperd moet ordentlik beslaan wees en sy bek moet heel wees.
"As jy aanmekaar drukking op jou perd se bek hou, dan sal daar eelte ontwikkel, wat sy bek hard sal maak. Drukking moet dus baie oordeelkundig gebruik word. As jy byvoorbeeld jou perd gewoonweg fiks maak, dan sit jy nie drukking op sy bek nie. Eers as die perd fiks is, dan kan jy ordentlik begin werk."
Hy maak ook 'n onderskeid tussen die verskillende soorte fiks. "Daar is 'n verskil tussen skoufiks en maratonfiks. Jy maak nie 'n skouperd maratonfiks nie. Vir daardie drie of vier rondtes wat 'n skouperd vertoon word, moet hy alles uithaal en lus hê om te vertoon."
Nog 'n teken van 'n goeie perdeman, glo Oom Izak, is dat hy gereeld en konstruktief met sy perde werk. Dit is honderd keer beter om 'n perd byvoorbeeld elke dag vir tien minute te werk, as om dit een keer per week vir 50 minute te doen.
"Ek rig graag Vlaamperde af. Hulle tem-perament is vir my baie lekker. Hulle is lewendig en het lekker woema en aksie. Daar is ander perde wat ook lekker is. 'n Lekker Saalperd of Kaapse Boerperd of Hackney is al drie lekker perde. Die Fries het 'n ander temperament en ander manier om te gaan, maar op sy manier is hy ook 'n lekker en mooi perd."
Hy het ook 'n mening oor die perd se intelligensie. "Baie mense sê 'n perd is 'n slim dier. Ek verskil. 'n Perd is 'n ongelooflike trou dier, maar eintlik dom. Mense verwar slim en trou met mekaar. 'n Hond en 'n jakkals is slim. 'n Perd tree volgens vaste patrone op. Soos wat hy jou verstaan, so sal hy maak."
Oom Izak is ook bekend vir die swepe en olienhoutkieries wat hy maak. " 'n Olienhout is mos 'n mooi en lekker kierie. Om hom te behandel dat hy nie bars nie, is ook eenvoudig. Daar waar jy hom afsaag, smeer jy hom vol vet. Dan kan jy die kierie oor 'n vlam warm maak en reguit buig soos 'n kers. In die proses dop die bas ook maklik af en is jou kierie spierwit."
Die velbreiery en sweepmaak, vertel hy, het eintlik begin toe sy kinders op skool was en hy ekstra geld nodig gehad het vir al hulle bedrywighede. "Omdat ons nie krag gehad het op Klein Kobee nie, moes ons die enjin elke aand vir vier ure laat loop om die vrieskas aan die gang te hou. Dis dan die tyd wat ek gebruik het om swepe te maak van die velle wat ek gebrei het.
“Ek rol die sweeprieme en gebruik spesifieke mates om die sweep in balans te hou. Die nek moet sewe duim lank wees, dan 22 duim waar hy moet dikker wees, en dan weer 22 duim waar hy moet dunner wees. Dis nou die agterslag.
“As ek die riem reg gesny het, dan gooi ek hom in die water en rol hom soos hy moet wees." Die resultaat is 'n sterk en handige werksweep met 'n lekker balans.
SAH