Login / Register You are not logged in.

Featured ads

How can I feature my ad?

Hitte en die uithouritperd

Hitte en humiditeit speel 'n groot rol tydens uithouritte, ongeag waar jy ry, hoe ver jy ry en hoe fiks jou perd is. Terwyl die perd gery word, word hitte deur die ­bewegende spiere geproduseer.

Perde is nie doeltreffend met die ­omskakel van energie na beweging nie, en op die beste word maar ongeveer 25% van die energie wat ingesit word, in beweging omskep, terwyl die res omgeskakel word na hitte. Daar is bereken dat 'n perd wat aan 'n uithourit van 160 km deelneem, genoeg hitte produseer om 770 liter water mee te kook!

Gelukkig het perde die vermoë om van die oortollige hitte ontslae te raak. Daar is drie prosesse wat 'n rol speel. Bloed word diep uit die ­liggaam na die oppervlakkige ­bloedvate ­gepomp waar die hitte dan na die omgewing vrygestel word. Dan, deur vinniger asem te haal, word warm lug, hoog in ­koolsuurgas, omgeruil vir koeler lug, ryk aan suurstof. Ongeveer 20-25% van hitte word so ­uitgeskei.
Die laaste en belangrikste proses ­behels die verdamping van vloeistof (sweet) vanaf die liggaamsoppervlakte, waardeur ­ongeveer 65-70% van oortollige hitte ­uitgeskei word.

Hoe kan ons die perd help?
Deur 'n paar eenvoudige tegnieke toe te pas elke keer wanneer jy met jou perd ry, kan jy hom baie help om van die oormaat hitte ontslae te raak. Gaan oor na 'n stap aan die einde van 'n werksessie. Klim dan af en lei jou perd vir nog vyf minute of so op 'n stap. Dit help die bloedsomloop en help om hitte vanaf die spiere na die liggaamsoppervlakte te kanaliseer.

Tydens uithouritte help dit as jy spoed verminder as jy die einde van elke been nader. Moenie skielik met 'n warm-­gewerkte perd stop nie. Dit veroorsaak dat bloed in die groter spiergroepe opdam en die ­volume bloed in die res van die liggaam verminder. Dit vang nie net meer hitte in die spiere vas nie, maar laat dit ook lyk of die perd gedehidreer is.

Koue water skok nie
Verdamping is die belangrikste manier om van hitte ontslae te raak. Sweet speel hier 'n belangrike rol, maar dit beteken dat die perd vog uit sy liggaam verloor. Gebruik dus liewer koue water! Gebruik water veral oor die dele met die groter bloedvate (die kop, nek en bene).

Moenie nat handdoeke oor die perd se kop en nek hang nie. Dis teenproduktief, want soos die handdoek warm word, vorm dit 'n skerm tussen die warm liggaam en die koeler buitelug, en vang die hitte in die liggaam vas. Hou aan om koue water oor sy liggaam uit te giet of te spuit, want die voortdurende vloei van water help om die water wat al warm geword het, af te spoel.

Die storie dat koue water op die perd se lyf die liggaam sal "skok" en sal ­veroorsaak dat die bloedvate op die oppervlakte ­saamtrek en dan keer dat die liggaam van hitte ontslae kan raak, is lankal verkeerd bewys. Navorsing by die Olimpiese Spele in Atlanta in 1996, het getoon dat perde hulle liggaamstemperatuur die beste gehandhaaf het as hulle in ysbaddens gesit is!

Drinkwater en harttempo
Gee ook vir die perd koue water om te drink. As jy die perd hard gedruk het en hy meer anaerobies gewerk het, met 'n ­harttempo oor 170 slae per minuut, is dit beter om sy aanvanklike waterinname te beperk totdat hy bietjie afgekoel het.

Indien hy meer aerobies gewerk het, met 'n stadiger harttempo, kan hy maar drink, maar nooit meer as so vyf tot ses liter nie. Koue water in sy pens lei nie tot koliek nie – te veel water wel. Dis die volume, en nie die temperatuur nie, wat ongemak en pyn (koliek) veroorsaak.

Probeer in die koelte staan, want die son se hitte vertraag die proses van ­afkoeling. Maak seker dat daar goeie ventilasie in die area is. Moenie toelaat dat te veel mense om die perd saamdrom nie, want dit ­belemmer die vloei van lug en vertraag die uitskei van liggaamshitte.

Soek 'n plek waar daar 'n windjie waai. Dit waai die warm lug wat om die perd se lyf ­opbou weg, en bring koeler lug in. Gaan stap ook met die perd, want dit help die bloedsomloop en bring warm bloed na die oppervlak, en veroorsaak terselfdertyd ook lugvloei oor die perd wat help om die hitte weg te werk.

Wat nog?
Natuurlik bly kondisionering die belangrikste metode om oorverhitting te voorkom. Hoe meer doeltreffend die spiere kan werk, hoe minder hitte bou op. Oefening ­vermeerder ook die aantal klein ­bloedvaatjies wat ­bloedvloei in die spiere en na die vel verbeter. Dit bring meer suurstof en voeding in, en dra meer hitte uit.

Skeer die perd se lang hare af. Perde is van nature aangepas om in koue omgewings te oorleef, en hare dien as insulasie wat daarop gemik is om hitte binne te hou.

Voeding speel ook 'n rol. Elekroliet­aanvulling tydens uithouritte is ­noodsaaklik. Baie elektroliete gaan saam met sweet ­verlore, en tekorte kan onder andere lei tot 'n onderdrukte drinkrefleks, wat daartoe lei dat die perd nie genoeg drink nie. Dit lei tot verswakte bloedsomloop, wat die uitdra van hitte negatief beïnvloed.

Oorweeg die gebruik van "koel voere", wat minder hitte gedurende die verterings­proses produseer, omdat die graan wat tydens die vervaardiging gebruik word, meer verteerbaar gemaak word en omdat dit meer vet ­bevat. Meeste stysel en alle vet in hierdie voere word in die dunderm verteer, waar min tot geen hitte as byproduk van vertering gevorm word nie.

Ten slotte
In die natuur hardloop perde net as iets hulle bedreig. Uithouritte met 'n ruiter op die rug is nie natuurlik nie, en ons moet die perd help om die newe-effekte van intense oefening te verwerk. Afkoeling met koue water is een van die maniere waarop ons dit kan doen! DR

Hou aan om koue water oor die perd se liggaam uit te giet of te spuit. Die voortdurende vloei van water help om die water wat al warm geword het, af te spoel

Top of page

Copyright © 1998 - 2012, Horse Junction. All rights reserved.