deur Hennie Basson
Die mistiek van Afrika het oor die afgelope drie of vier eeue ‘n groot aantal avontuursoekers, baanbrekers en legendariese persoonlikhede op verskeie terreine opge-lewer. Veral in die jare toe die Kaapkolonie, die Oranje-Vrystaat en die Zuid-Afrikaanse Republiek, Rhodesië en Duits-Suidwes-Afrika, nog deel van die daaglikse omgangstaal was.
Tydens die eerste Hoefslagfees wat onlangs op Geyerspan by Lichtenburg gehou is, is dan ook op gepaste wyse hulde gebring aan drie van hierdie groot geeste in die plaaslike perdewêreld.
Kommandant Peter Stark
Die 78-jarige kmdt Peter Stark het hom nie net as natuurbewaarder en onverskrokke grootwildjagter onderskei nie, maar was ‘n pionier op die gebied van die benutting van die perd vir ontspannings- en sportdoeleindes. Saam met ander bekendes soos Hans Wiese, word hy as ‘n baanbreker op die gebied van dressering aan die suidpunt van Afrika beskou.
Kmdt Stark het hom veral onderskei as hoofinstrukteur van die Weermag se destydse Berede Sentrum by Potchefstroom. By dié sentrum het hy ruiters vir 20 jaar lank opgelei in skouspring, dressering en drie-fasekompetisies. Talle bekende dresseer-eksponente het onder sy hande deurgeloop, soos Adriaan van Wyk wat die Dressage Derby in 1996 gewen het.
Kmdt Stark was self ‘n befaamde perderuiter. Vir 16 jaar het hy in die Etosha as natuurbewaarder vanaf die rug van ‘n perd uitgemunt. Sy wedervaringe met olifante en leeus lees soos ‘n avontuurroman. Dit was egter as bekamper van wilddiefstal, dat hy onvergeetlik geword het.
Ofskoon hy in die Etosha met plaasperde en Boesmanruiters gewerk het, was dit veral op die rug van sy deelsgeteelde Hannoverian, Alarich, dat hy naam gemaak het in kompetisies. In 1969 en 1971 het hy met Alarich die indiwiduele Suid-Afrikaanse dresseringskampioenskappe verower. Hierdie besondere perd, wat op Voigtland geteel is, is in 1971 as perd van die jaar aangewys. Hy woon tans op die plaas Vogelsang buite Ventersdorp.
Oom Hansie van Heerden
In die Noordwes-provinsie boer oom Hansie van Heerden steeds op 82-jarige ouderdom saam met sy seun, Gerrie, op die plaas Boesmanspan. Met wyle Hennie Delport, destyds ook van Migdol, het hy die Hackneyperd in hierdie provinsie en in die Noord-Kaap help vestig.
In sy jongdae het oom Hansie as ruiter deelgeneem aan perdewedrenne wat in die eerste helfte van die vorige eeu ‘n uiters gewilde sport op Lichtenburg, Vryburg, Kimberley en Bloemfontein was. Hy was egter nog nie eens 25 jaar oud nie toe hy sy regterarm in ‘n fratsongeluk verloor het. Hierdie terugslag het hom egter nie verhoed om sedert die begin sestigerjare ‘n skouvertoner by uitstek te word nie en hy het op talle skoue die kampioenskappe ingeryg.
Op die SA Hackney-kampioenskappe, wat destyds nog in Bloemfontein gehou is, het sy stoet vir drie agtereenvolgende jare (van 1984-1986) die sonderlinge prestasie behaal deur die grootkampioenskappe vir enkeltuig-, dubbeltuig-en tandemperde te verower. Tot onlangs nog het oom Hansie en Gerrie verskeie kampioenskappe op verskillende skoue van formaat ingepalm – veral sedert hulle die karperde Breda Wayne en Breda Model begin vertoon het.
Dr Lüdwig Redelinghuys
‘n Paar veeartse het oor die afgelope dekades ‘n groot rol ter handhawing van veral perdegesondheid en welsyn in beide Namibië en die sentrale dele van Suid-Afrika vervul het. Een van hulle is dr Lüdwig Redelinghuys. Menige perde-eienaar en stoetteler kan getuig van die passie waarmee hy hulle diere behandel en selfs met boererate aan die lewe gehou het. Ook hoe hy aan sy liefde vir die perd as
vertoner op talle perdeskoue gestalte gegee het.
Net soos kmdt Stark klop die Duitse bloed sterk in dr Redelinghuys se are. Hy is in 1934 op Wolseley gebore en is die tiende geslag Redelinghuys wat stam uit Petrus Johannes Redelinghuys wie hom in 1742 vanuit die Rheingebied in Duitsland as beroepsjagter aan die Kaap kom vestig het.
Dit was dan ook in Duits Suidwes-Afrika van destyds waar hy vir 13 jaar as veearts gepraktiseer het. Sy liefde vir perde kom van kleins af en vanjaar is hy reeds 67 jaar met perdry vertroud. In 1964 en 1965 is hy as Suidwes se topjokkie bekroon. Mettertyd het hy as ruiter op van ons land se voorste skoue uitgemunt. In 1985 en 1986 het hy kampioen gekraai by die nasionale Arabierperdkampioen-skap in Bloemfontein.
Dr Redelinghuys, wat die afgelope 15 jaar op Parys woonagtig is, is nog heel tuis op die rug van sy Walliese Ponie X Saalperdkruising, Lighty. SAH
|
 |
|
Só is oom Hansie van Heerden deur sy seun Gerrie en twee kleinkinders per perdekar aan die duisende mense op Geyerspan voorgestel
|
|
 |
|
Dr Lüdwig Redelinghuys
|
|
|
 |
|
Die talle wildtrofeë en die vel van ’n reuse leeumannetjie, getuig van kmdt Peter Stark se avontuurlustige jare in Namibië
|
|
|
|
|
|