Login / Register You are not logged in.

Featured ads

How can I feature my ad?

Wildkyk met 'n perdekar
deur Izak Hofmeyr

Nie almal sien kans om te perd tussen wild rond te ry nie, maar sou tog baie graag so iets wou ondervind. Wat Piet Uys van Carolina betref, is 'n perdekar die oplossing.

Piet en sy seun, Pierre, bied wildbesigtingsritte te perd in Mpumalanga aan, en sedertdien hulle ook voorsiening vir nie-ruiters op die perdekar maak, het hulle dié ondervinding vir 'n groot groep mense toeganklik gemaak.

Wat die tipe perd betref wat geskik is om vir wildkyk te gebruik, is Piet baie kieskeurig. Dit geld vir beide ryperde en karperde.

"Wat die ryperde betref, is die eerste vereiste temperament. Ek wil 'n perd hê wat op 'n los teuel loop en presies weet wat van hom verwag word. So 'n perd moet bereid wees om in enkelgelid te stap en nie die perd voor hom verby wil steek nie.

"As ander perde by hom verbygalop, moet hy steeds rustig bly stap. Betroubaarheid is die grootste prioriteit en dit beteken dat ons baie tyd spandeer om ons perde vir hierdie taak voor te berei." Piet noem homself 'n perdeman, nie 'n rasman nie. Maar toe ek hom pols, het hy wel 'n paar rasse genoem wat hom beïndruk:

"Ek het gevind dat die Nooitgedachter by uitstek geskik is vir ons doel. Dan gebruik ons ook SA Boerperd/Quarter Horse-kruisings en vir die ruiter met meer ondervinding, gebruik ek Kaapse Boerperd/Hackneykruisings wat ek self teel."

Balans is belangrik

"Ek hou baie van 'n goed-gebalanseerde Western saal, en spesifiek die reiner-tipe, omdat hy jou outomaties in 'n gebalanseerde posisie plaas en jou die minste vermoei, wat natuurlik vir ouens wat nie baie ry nie, belangrik is.

"Baie van my saals kom van Jaco Burger van Upington af. Ek reken die gehalte van sy saals is wêreldklas. 'n Ander saalmaker wat ek graag sal aanbeveel, is Leon Liversage van Belfast.

"Wat my karperde betref, hou ek van 'n rytuig waar ek hoog sit, sodat my leisels kan afhang na die perde toe. Vir hierdie tipe werk hou ek van 'n omnibus-tipe rytuig, met genoeg spasie vir al vier die passassiers. Ek vind dat vier 'n goeie getal passassiers is.

"Ek het ook die houtwiele afgehaal en met metaalwiele met rubber-ryvlakke vervang. Houtwiele is heeltemal te waardevol om so vir harde, algemene werk gebruik te word."

Die kleinste perd wat hy wil inspan, sê hy, is 15,2 hh. Behalwe dat 'n groter perd noodwendig 'n sterker perd is, is die visuele balans tussen die rytuig en die perde vir hom belangrik. Afhangende van die terrein, span hulle gewoonlik twee perde in, maar op gemakliker roetes word vier perde dikwels gebruik.

Piet leer al sy perde self, en wat hom betref moet hulle afrigting in beide die kar en onder saal kry. Een van die heel belangrikste dinge wat veral sy karperde moet leer, is om stil te staan. Omdat hy dikwels gehuur word om troukoetse te voorsien, en die omstandighede waaronder hierdie troues plaasvind baie kan wissel, is stilstaan uiters belangrik.

"Ek leer my perde om te staan deur van 'n sogenaamde sideline gebruik te maak. Dit is wanneer die voor- en agterpoot aan dieselfde kant gespan word. As 'n perd hieraan gewoond is, dan staan hy net waar hy is tot ek hom weer aansê om te beweeg.

"In die wildkyk-situasie is dit natuurlik baie handig, want nou kan ons stilhou, die piekniekmandjie uithaal, en rustig sit en kuier terwyl die perde staan en wag tot ons weer oppak."

Die gebruik om perde só te span, maak dit vir hom moontlik om spanne van vier perde alleen in te span, wat andersins heelwat meer hande sou vereis het.

'n Ander belangrike aspek, sê Piet, is om die karperde deeglik gewoond te maak aan die verskillende soorte wild: "Ek weet nie wat dit is nie, maar diere soos kameelperde, volstruise en zebras het 'n geweldige uitwerking op perde. So, voor ons so 'n wildkyk-safari aanpak, neem ons eers die perde onder saal op die roete wat ons gaan volg en wys hulle die verskillende soorte wild, sodat hulle gemaklik daarmee is."

Die rit

Mens moet altyd in gedagte hou, sê Piet, dat die mense wat gewoonlik saam met hom op die perdekar ry, nie perde ken nie en waarskynlik nog nooit so iets beleef het nie.

"As ons die groep ontmoet, stel ons hulle heel eerste aan die perde voor en vertel hulle so ietsie van elkeen. Dan verduidelik ons wat ons gaan doen en wat ons benadering is.

"Die ouens is maar gewoonlik erg op hulle senuwees met hierdie nuwe ervaring, veral as ons oor ongelyke terrein ry en die kar effens begin wieg. Van my kant af moet ek altyd in gedagte hou dat my kliënte se ervaring maklik bederf kan word as ek dinge doen wat hulle onnodig bang maak."

Dis vir hierdie rede, sê Piet, dat hy hulle deeglik voorberei op wat om te verwag as hulle by slegte plekke moet deur, soos byvoorbeeld om 'n rivier oor te steek. As hulle eers deur die eerste hindernis is, is die ys gewoonlik gebreek en word die gees op die kar baie ontspanne.

"Rofweg kan die perdekar enige plek gaan waar 'n vier-by-vier voertuig kan gaan. Die verskil is dat die perdekar teen styl plekke momentum moet opbou, so ek moet dikwels die perde in 'n galop sit om 'n bult uit te kom. Dit kan natuurlik tot groot benoudheid onder my kliënte lei as ek nog nie hulle vertroue gewen het nie."

So 'n tipiese rit duur so in die omgewing van twee tot twee-en-'n-half ure, met 'n stilhou en 'n piekniek by die omdraaipunt.

Piet bied baie van hierdie tipe ritte op die wildsplaas van Forever Resorts by Badplaas aan, maar het ook toegang tot 'n ander wildplaas nie ver daarvandaan nie. Vir meer inligting, gaan na www.hoofbeatsafaris.com.

Top of page

Copyright © 1998 - 2012, Horse Junction. All rights reserved.