|
Om 'n perd in skou- of rasklasse te vertoon, hetsy onder saal of in hand, is 'n kuns. Slegs diegene wat die beginsels hieragter verstaan, sal as wenners na vore tree. Daar is so iets soos skou-etiket. Skouklasse is al vergelyk met 'n skoonheidskompetisie en hierdie vergelyking is nie heeltemal so vergesog as was mens mag dink nie.
In enige skouklasse is daar twee belangrike aspekte – die perd en die vertoner / ruiter. Aan 'n perd se bou en konformasie kan mens nie veel doen nie, maar jy kan dit beter laat vertoon.
Daar is niks so mooi soos 'n perd wat skougereed is nie. Sy pels is syglad en blink, sy maanhare netjies gevleg om sy nek ten beste te vertoon, en sy stert perfek gelyk gesny aan die onderpunt. Nie 'n haar is uit sy plek nie, sy buitelyne is kraakvars en rond, sy oë blink en hy hou sy kop trots omhoog. Al wat nou nodig is, is 'n groot rooi roset om die prentjie af te rond.
Die regte voeding
'n Goeie dieet sluit hoë-gehalte kragvoer en voldoende ruvoer in om 'n perd se kondisie in stand te hou. Indien 'n perd nie genoeg goeie kos kry nie, sal hy maer wees met 'n dowwe pels. Sy maanhare en stert sal grasserig en yl vertoon en sy hoewe sal gebreek wees en swak vertoon.
Om vas te stel of jou perd se kondisie goed of sleg is, kyk of enige ribbes, heupbene of rugwerwels sigbaar is – dit beteken die perd is onder kondisie. Kyk ook goed na sy buitelyn – indien enige hoeke sigbaar is, is die kondisie nie op standaard nie. 'n Perd behoort egalig met spier en vet bedek te wees.
Gesels met 'n voedingkundige of 'n perdeveearts oor die korrekte dieet vir jou perd, aangesien perde en hulle voedingsbehoeftes verskil. Ontwurm die perd gereeld (elke 3-4 maande). Die tipe en hoeveelheid werk wat 'n perd doen, speel ook 'n groot rol.
'n Blink pels
Om 'n perd se pels sag, blink en glad te hou, is dit nodig om hom daagliks te roskam en borsel. Roskam stimuleer oliekliertjies in die vel, wat natuurlike olies afskei om die vel gesond, glad en blink te hou. Oppas daarvoor om 'n perd te veel te bad of selfs te veel net af te spuit. Dit ontneem die vel van hierdie natuurlike olies en kan die pels droog en grasserig maak en selfs skilfers vorm.
In die winter, indien die perd se jas lank en lelik is, is dit raadsaam om perde vir skouklasse te skeer. Die verskil tussen ongeskeerde en geskeerde perde is baie duidelik en kan jou 'n wen kos.
Indien jou ras "skoon" bene het, skeer die vere en wolle van sy bene af. Die beoordelaar wil die onderliggende struktuur van die bene kan sien en dit is nie moontlik indien die bene onder wol weggesteek is nie. By sommige rasse, soos Friese, is vere aan die bene kenmerkend van die ras en moet dit nie afgeskeer word nie. Kam dit mooi uit.
Die ore moet binne-in ook mooi skoon geskeer word om die vorm en buitelyne van die ore sigbaar te maak. Lang hare onder die kakebeen en die snorbaarde om die mond en neus, moet liefs geknip word om die perd 'n skoon, gladde en netjiese voorkoms te gee.
Maak seker dat 'n hoefsmid die perd se hoewe voor die skou doen, sodat die perd se voete netjies vertoon en daar nie krake en stukke uitgebreek is, of skoene wat los is nie.
'n Lekker bad
Gebruik liefs 'n sjampoe wat spesifiek vir perde bedoel is. Daar is heelwat navorsing wat in die ontwikkeling van hierdie produkte ingegaan het, om die pH op die korrekte vlakke vir 'n perd se vel en hare te hou.
Was die maanhare en stert goed en skrop tot op die vel. Maak seker dat jy al die plekkies bykom – tussen die voorbene, onder die pens, die voete en die gesig – en onthou bo-op die ore (oppas net dat jy nie water in die perd se ore kry nie).
Dit is raadsaam om die gesig met 'n emmer en 'n spons te was, aangesien baie perde nie te inskiklik is daarvoor dat 'n tuinslang in hulle gesigte gedruk word nie. Maak seker dat al die seep goed uitgespoel is. Seep wat in die pels agterbly maak die hare dof en kan 'n irritasie veroorsaak. In die winter, as die weer sleg is, is dit beter om die perd in 'n skuur met warm water te bad. Sit 'n skoon kombers op, al is hy nog redelik nat en laat hom "stoomdroog".
Wit perde verg meer werk as enige ander perd. Dit mag nodig wees om 'n bietjie "blousel" vir die maanhare en stert te gebruik om dit daardie silwer glans te gee. Sommige mense gebruik selfs wasgoedseep wat hulle met die sjampoe meng om die pels skitterwit te kry. Daar is ook spesiale sjampoes te koop, spesifiek vir wit perde.
Grimering
Ja, lag maar – daar is regtig mense wat dit doen! Maar dit sluit darem ook die normale perde-mooimaakgoed in. Daar is baie middele op die mark om die hoewe swart te maak en te poleer. Daar is ook heelwat produkte wat op die pels gespuit kan word om dit te laat blink.
Sommige mense maak patrone op die agterkwart om dit groter te laat vertoon. Hiervoor kan mens 'n plastiekvel koop met die patrone op om op die boud te sit en dan die hare verkeerde kant toe te borsel om die patroon te los. Swart merke op wit perde kan met wit "tekkie-kleursel" toegesmeer word en merke op bruin of swart perde, kan met skoenpolitoer ingekleur word. 'n Bietjie Vaseline of babaolie kan om die oë, mond- en neusarea gesmeer word om dit te laat blink.
Vlegsels
Sommige rasse vereis dat maanhare los en vry hang. In ander is dit jou keuse of jy wil vleg of nie. Vleg het die voordeel dat dit afgerond lyk en die perd se nek ten beste vertoon. Met lang maanhare kan 'n hingsvlegsel gemaak word en met korter maanhare word bolletjievlegsels gemaak. Maak net seker dat indien jy wel vleg, jy weet wat jy doen en dat dit netjies vertoon.
Stertvlegsels moet nie aangepak word as die hare te kort is nie, dit kan baie gou onnet lyk en loskom. Indien jy nie mooi kan vleg nie, vra iemand wat kan. Daar is selfs mense wat jou perd se hare teen 'n bedrag sal vleg.
Skoumaniere
Net so belangrik soos hoe die perd lyk, is hoe hy hom gedra. Onder saal is dit heeltemal te verstane, maar selfs wanneer 'n perd in hand vertoon word, is dit belangrik dat hy homself gedra. Leer die perd of vul om rustig saam met die vertoner te stap en draf, en stil te staan wanneer dit vereis word.
Sommige mense glo dit is goed om perde totaal bevrees te maak om hulle te laat hardloop en jaag die perde met alles wat ritsel en raas. Al wat dit tot gevolg het, is perde wat senuagtig rondspring en alles probeer om weg te kom en te ontsnap en dit skep 'n baie swak indruk. Dit is dikwels die geval met vullens en toon duidelik aan die beoordelaar dat die eienaars nie die moeite gedoen het om die diere van jongs af te hanteer en af te rig nie.
As vertoner of ruiter, wees altyd vriendelik en moet NOOIT met die beoordelaar argumenteer nie!
Skouklerasie
Om 'n perd op 'n ou vuil touhalter te skou, is onaanvaarbaar. Tou- en nylonhalters is uit. Koop 'n spesiale skouhalter of skou die perd op 'n netjiese leerhalter. Ouer, rybare perde kan in 'n toom geskou word. Rubber stangbeskermers is uit, net soos lelike geroeste stange.
Wat jouself betref – maak nie saak of jy, jou kinders of jou werkers jou perde vertoon of ry nie, julle moet altyd netjies en skoon aangetrek wees.
Stof tot nadenke
Beoordelaars is mense met voorkeure en afkeure. Indien 'n beoordelaar voel dat 'n sekere perd nie in skoukondisie is nie, het hy die volste reg om die perd uit die klas te gooi. Indien hy voel dat die vertoner hom as beoordelaar minag deur met 'n vuil, verslonste perd, met vuil verslonste toerusting en in vuil verslonste klere in die klas op te daag, het hy weer eens die volste reg om die perd die hek uit te stuur.
Klein littekens wat nie die perd se beweging belemmer, of oorspronklik deur skewe en krom beweging veroorsaak is nie, is aanvaarbaar en 'n perd behoort nie daarvoor gepenaliseer te word nie. Onthou egter, indien jou perd en 'n ander perd sonder littekens gelyk loop en die beoordelaar moet 'n keuse maak, kan 'n litteken jou die eerste plek kos.
Brandsiek, oop, rou wonde, geswelde bene en enige vorm van mankheid of ooglopende siekte is heeltemal onaanvaarbaar vir die skouring.
|