|
In die vorige twee uitgawes van SA Horseman het ons begin om allerhande probleemgedrag wat perde openbaar, te bespreek. Ons het gesien dat gedragsprobleme of -afwykings daardie gedrag of gewoontes is wat ’n perd toon, wat onaanvaarbaar is vir mense, wat nadelig vir die perd kan wees, of somtyds selfs uiters gevaarlik vir beide perd en mens kan wees.
Die meeste van hierdie gedragsprobleme, indien vanuit die perd se oogpunt beskou, is maniere om hom te help om sy lot in die (somtyds baie ongelukkige en genadelose) lewe te hanteer – byna oorlewingsmeganismes.
Sover het ons gekyk na die tipe gedragsafwykings wat in die stalomgewing voorkom. Ons gaan nou kyk na gedragsafwykings wat onder saal en tydens werk voorkom. Baie hiervan kan 'n ruiter erg ontsenu en kan ook baie gevaarlik wees. Ongelukkig kan baie van hierdie gedrag, tensy dit 'n fisiologiese oorsaak het, toegeskryf word aan wrede, onsimpatieke, verkeerde en somtyds brutale inbreek- en afrigtingsmetodes.
Gedragsafwykings onder saal
Alhoewel daar vir die meeste probleme 'n oplossing is, is dit nie altyd die geval nie. Somtyds word iets van die perd verwag, waartoe hy eenvoudig nie fisies in staat is nie. Perde is indiwidue en dieselfde resepte lewer nie altyd dieselfde resultate nie, of dit mag wees dat 'n perd so erg mishandel was, dat niks hom meer kan red nie.
Nie alle probleemgedrag kan aan menslike hantering toegeskryf word nie. Soms het die perd eenvoudig 'n senuweeagtige, gespanne en hoogs plofbare geaardheid. In sulke gevalle, indien dit nie binne die ruiter se vermoë is om te hanteer nie (hetsy weens te min kennis of ondervinding, selfvertroue, of selfs net 'n persoonlikheidskonflik tussen perd en ruiter), is dit partykeer raadsaam om so 'n perd liefs te laat gaan na iemand wat toegerus, gewillig en in staat is om met so 'n perd te werk.
Maar die wagwoord wanneer enige gedragsprobleme aangespreek word, bly "geduld".
Natuurlike reaksies
Skrikkerigheid is 'n baie komplekse probleem en het sy ontstaan in die manier waarop die perd "gemaak" is. Wat ons as wangedrag beskou, is basies 'n natuurlike deel van perdegedrag en instink. Deur 'n bietjie meer te probeer verstaan oor die perd se fisiologie, kan dit makliker raak om te verstaan waarom dit gebeur en hoe om hierdie probleem aan te spreek. Aangesien dit so kompleks is en so baie aspekte het, gaan ons net hierdie verskynsel in hierdie uitgawe kan dek.
Vlug en kyk
Die eerste ding om te onthou is dat ’n perd van nature ’n vlugdier is. Wanneer hy met iets wat hy as ’n bedreiding ervaar – werklik of nie – gekonfronteer word, skop sy natuurlike instink van vlug-eers-en-kyk-dan in.
Net so sien ons hoe ’n perd wegdeins van ’n “gevaarobjek” om dan, wanneer hy voel hy is op ’n veilige afstand, om te draai en dit goed te bekyk: Sy ore is gespits in die rigting van die gevaarobjek om die geringste geluidjie op te tel, sy kop is omhoog gelig om te fokus, sy neusgate is wydgerek en hy mag selfs snork en blaas om die reuk waar te neem. Sy spiere is gespanne en mag selfs bewe, gereed om op die vlug te slaan indien hy oortuig is dat die gevaarobjek vir hom ’n bedreiging inhou. Ongelukkig kan hierdie gedrag ’n ruiter erg ontsenu, of selfs uit die saal gooi, maar vir die perd is dit absoluut normaal.
Sig en ander sintuie
Die tweede belangrike punt om te onthou is dat 'n perd se oë en die manier waarop hy sien, heeltemal anders werk as ons s'n. Die menslike oog kyk reguit vorentoe en kan duidelik op 'n enkele voorwerp fokus, met die visie aan die kant uit fokus. Ons fokus is outomaties en ons hoef nie ons kopposisie te verander om op iets te fokus nie.
Die perd, aan die ander kant, kan in 'n byna 360° boog reg rondom sy eie liggaam sien – daar is slegs 'n baie klein area direk agter hom waar hy nie kan sien nie. Deur egter sy kop net effens te draai, kan hy daardie area ook dek. Dit is belangrik as jy 'n vlugdier is, om so 'n wye veld van visie te hê. Die perd se probleem is egter om voorwerpe direk voor hom te sien, aangesien sy kantvisie die duidelikste is en die area reg voor hom uit fokus is.
Om voorwerpe reg voor hom te sien, moet hy sy kop oplig om te fokus, omdat sy oë nie outomaties fokus nie. Sy oë is baie meer sensitief vir beweging as die menslike oog en weens die ovaalvorm van die pupil, kan hy ook baie beter in die donker sien. Ongelukkig kan 'n perd nie altyd onmiddellik 'n vreesaanjaende voorwerp identifiseer nie en, saam met sig, gebruik hy sy reuksintuig en luister hy fyn vir enige geluide wat dit mag afgee – sy sintuie werk hand-aan-hand om hom te vertel of iets aanvaarbaar is al dan nie.
Aangesien die perd se gehoor- en reuksintuie baie beter ontwikkel is as dié van mense, mag 'n perd skrik vir iets wat een van sy sintuie opgetel het en waarvan die ruiter salig onbewus is.
Die perd se geaardheid, afrigting en voer, kan hierdie tipe gedrag beïnvloed. Fynbesnaarde en senuweeagtige perde se drang om hulleself te beskerm en van gevaar te ontsnap, is baie hoër ontwikkel as ander perde en selfs die geringste dingetjie kan hulle verskrik. Indien hy mishandel was, kan selfs die mees gemoedelike perd ook skrikkerig raak.
'n Perd op 'n te hoë proteïendieet vir die hoeveelheid oefening wat hy kry, kan ook skrikkerig raak en begin "spoke" sien. Dieselfde geld vir 'n perd wat lanklaas gewerk het. 'n Goeie werksessie kan dikwels so 'n perd weer rustig maak.
Moet nooit sommer net 'n perd straf omdat hy skrik nie. Dit is 'n natuurlike vlugreaksie. Indien mens die perd daarvoor sou straf, gaan dit eenvoudig sy vrese beaam. Om te hard te probeer om so 'n perd te kalmeer, is ook nie altyd goed nie, want die perd kan dit as prys ervaar wat sy gedrag kan versterk – naderhand mag hy selfs begin spook, net om aandag te kry.
Die beste manier om dit te hanteer, is om hom toe te laat om goed te kyk na dit wat hom skrik maak, hom sagkens aan te moedig, en dan stil te sit en te wag dat hy dit vir homself uitwerk. Wees ferm en hou hom van aangesig tot aangesig met die vreesobjek. Moenie dat hy omswaai nie, want dan mag hy probeer wegkom. Sodra hy kalmeer, prys hom.
Kyk uit vir spoke
Wees wakker wanneer jy 'n skrikkerige perd ry. Wees op die uitkyk vir dinge waarvoor hy mag skrik. Wys dit vir hom voordat hy dit sien en homself boeglam skrik. Indien jy 'n skrikkerige perd uitry op 'n draf of 'n galop, ry hom altyd positief vorentoe, in die kontak in. Dit stel die perd gerus sodat hy voel dat iemand in beheer is. Ry hom nog sterker vorentoe as hy begin skrikkerig raak.
Soms mag 'n perd ook spook omdat hy weerstand daarteen bied om vorentoe te gaan; hy mag ankers aanslaan en weier om by iets verby te gaan. Ry hom aktief vorentoe en moedig hom aan. Dit mag 'n goeie idee wees om 'n ander, rustiger perd te kry om voor hom uit te gaan.
Dit mag selfs raadsaam wees om af te klim en die perd verby te lei (haak net die teuels oor sy kop; dit gee beter beheer) en somtyds is die laaste uitweg om hom 'n raps met 'n peits te gee, maar moet hom nie foeter nie. As een raps dit nie doen nie, gaan meer ook nie en dit sal die perd net verder verskrik.
Stel jou perd bloot
Blootstelling is altyd 'n goeie idee. Indien 'n perd bang is vir verkeer, is dit 'n goeie idee om hom in 'n kamp langs 'n pad te sit waar hy voertuie gewoond kan raak. Wat fietse betref – ry met 'n fiets na sy kamp en voer hom lekkernye. En maak flappende seile of ander flappende goed aan die heining van sy kamp vas.
Maak seker dat hy ander, rustige perde saam met hom het wat hom sal help kalmeer. Plaas allerhande bangmaakgoed in die arena waar hy werk, laat hom daaraan ruik en dit gewoond raak. Maak 'n groot ophef van hom wanneer hy braaf is. Skuif die goed gereeld rond.
'n Aanhoudende geskrik en gespook op dieselfde plek of by dieselfde ding in 'n arena, vir geen klaarblyklike rede, kan nietemin baie irriterend wees. Die geheim hier is geduld. Die beste is om hom goed te laat kyk en ignoreer daarna sy gedrag, hoe irriterend dit ook al mag wees. Moet hom NIE straf nie – dit gaan hom 'n rede gee om te skrik. Probeer om op geen manier te reageer nie – nie eers jou vingers om die teuels verstyf nie – want enige reaksie (hoe subtiel ookal) van jou kant af sê vir hom: "Jy is reg, daar is 'n spook".
Sulke gedrag kan ook weens verveling wees. Slim perde raak gou verveeld met eindelose herhaling en probeer self om hulle werk meer "interessant" te maak deur te "spook". Probeer om arena-werk interessant te hou met baie figuurwerk en transisies, sywaartse bewegings en paalwerk. Wissel arena-werk af met uitritte, lonseer en werk vanaf die grond sodat die perd nie suur raak nie.
|