|
Daar is min perde, indien enige, wat kan spog met haar rekord. Die Fauresmith 200 Nasionale Kampioenskappe het sy vier keer gewen, drie daarvan in opeenvolgende jare! 'n Vosmerrie wat menige ruiter begeer het om te kan ry; wat by menige ruiter verbygegly het; die eerste perd wat die Fauresmith 200 in 'n tyd onder agt ure kon klaarmaak; en steeds een van slegs drie wat dit kon regkry.
Wie was sy? 'n Anglo-Arabiermerrie geteel deur Albert Vorster van Modderrivier met Silmark Sha Rebenjah (Reibara Raktha's Perfection x Eibna Rebekka) as die vaer en 'n Engelse Volbloedmerrie as moer. Al-Borak Bianca is in 1986 deur Piet Hayward raakgesien as 'n atletiese merrie, met 'n fyn nek, diep skouer en hangboude. Haar reguit bene en groot hoewe het bygedra tot Piet se besluit om haar dadelik by Albert te koop, en hy het sonder huiwering die koopsom van R1 000 neergesit. 'n Besluit wat wonderlike vrugte sou afwerp!
Maar sonder probleme was dit nie. Bianca was nukkerig en het op die mense wat by haar in die kraal ingegaan het, afgestorm. Snags was sy onrustig en het voortdurend die stalmure geskop. Dit het vererger soos sy fikser geword het, asof sy wou sê: "Wat doen ek hier binne – ek wil gaan hol!" Altyd haastig onder die saal, het sy haar kop hoog opgetel as sy klaar water gedrink het om vinnig weer die pad te vat. Maar nie hard in die bek nie, en het geluister vir die ruiter op haar rug.
Oefenprogram vir 'n legende
Dit was ook Piet se werk om toe te sien dat die perd fiks gemaak en gehou word, iets wat hy met groot sukses gedoen het. Die ruiters (Ludie Fourie en Nico Hayward) was ver van die huis af, en het nie veel bygedra nie. In die oefenprogram is grootliks op ringwerk gekonsentreer, en is Bianca ter voorbereiding van 80 km ritte daagliks vir 45-60 minute in die ring met 'n 30-meter deursnit gelonseer.
Saterdae moes die ruiters hulle kant bring, en is 30-60 km gery. Die week voor 'n rit is net stapwerk gedoen, en met 80 km ritte was die mikpunt om 'n goeie tyd te ry, vinnig genoeg om die kortlys vir die Suid-Afrikaanse span te haal, maar nie vinniger nie. Daar is elke jaar net drie ritte gery om so vir Fauresmith te kwalifiseer sonder om haar te ooreis.
Met die oefenprogram vir Fauresmith is weer op lonseerwerk gekonsentreer, met 45 minute soggens en 'n uur in die middag. Saterdae is gebruik om padwerk te doen.
Al-Borak Bianca was vier keer op die kortlys vir die Suid-Afrikaanse span, en het al vier keer die span gehaal. In 1989, met Ludie Fourie as ruiter, wen sy haar eerste Fauresmith (standaardgewig en algeheel) in 'n tyd van 8:13:50, en word ook aangewys as bes voorbereide perd. Ludie ontvang ook die Ruiter van die Jaar-trofee. En dit was maar net die begin!
In 1991 neem Nico Hayward oor as ruiter, en hy en Bianca wen Fauresmith (standaardgewig en algeheel) in 'n tyd van 8:03:23. Nico verower ook die Ruiter van die Jaar-trofee. In 1992 maak die kombinasie weer so: Hulle wen in 8:11:33 en word as bes-voorbereide perd aangewys.
Die hoogtepunt kom in 1993, toe dieselfde kombinasie wéér wen (die enigste perd en ruiter wat dit nog ooit drie jaar na mekaar kon doen), dié keer in 'n tyd van 7:58:57 (die eerste keer dat 'n perd die rit voltooi in 'n tyd korter as agt ure), en weer eens is Bianca die bes-voorbereide perd. Bianca was sowaar een uit 'n duisend!
Aftrede
Na 1993 het Bianca afgetree as ryperd en begin met 'n loopbaan as teelmerrie. Drie vullens is uit haar gebore, twee merries en een reun. Die reun is na Dubai uitgevoer. Daarna het 'n pofadder Bianca aan die lip gepik. Sy het amper hiervan herstel, maar is toe aan koliek dood.
"Alle eer kom my pa, Piet Hayward toe," sê Nico. "Perde wat deur hom afgerig word, presteer. Die Fauresmith wenperd van 2008, Idaho Prins wat deur Hannelie Fourie gery is, was die agtste wenperd wat onder Piet se hande deurgeloop het."
Nico se raad aan nuwe ruiters: "Moenie elke rit ry so vinnig as wat jy kan nie! Ry vinnig by ritte waar dit saak maak, soos Fauresmith of die Drie-Nasies. Wees trots op die voorkoms van jou perd. Pas hom mooi op, en moet tog nie dat hy maer word nie! Moet nooit iets doen ten koste van jou perd nie, en hou altyd jou oë gerig na Bo!".
(Piet Hayward is bereid om perde vir ander ruiters ook af te rig. Kontak hom op 083 411 7741).
|