|
So, jy het besluit om 'n skou te organiseer. Hier volg 'n kontrolelys om jou op die regte pad te hou. Die lys is aan ons gegee deur die bestuurder van Mooikloof Stalle in Pretoria, Alet Herbst. Alet organiseer talle suksesvolle skoue vir verskillende dissiplines by Mooikloof Stalle. Sy stel voor dat mens terugtel vanaf die skoudatum tot ongeveer twee maande voor die skou.
D-dag minus 60
Voorbereiding moet so twee maande voor die skoudatum begin.
- Beplan die formaat van die skou, insluitende watter dissiplines aangebied sal word
- Maak die datum vas. Indien moontlik, koördineer met ander ryskole in die omgewing sodat daar nie op dieselfde dag ander skoue ook plaasvind nie
- Formuleer die inskrywingsvorm. Die volgende moet daarop aangedui word:
- Waar die skou gehou word
- Die dissiplines wat aangebied sal word
- Die datum
- Inskrywingsfooie
- Sluitingsdatum ('n week voor die skou)
- Pryse (rosette en/of prysgeld en trofeë)
- Reëls (bv geen honde, vrywaring, kansellasie, kombinasie van klasse)
- Inskrywingsvorm wat deur deelnemers ingevul en teruggestuur word
- Stuur die inskrywingsvorm na al die kandidate wat die skou mag bywoon. Plaas kopieë by alle besighede en afsetpunte waar belangstellendes dit in die hande kan kry
- As jy pryse of prysgeld gaan aanbied, maak seker dat jy genoeg borge daarvoor het.
D-dag minus 50
- Reël al die beamptes en helpers betyds
- Maak seker dat jy genoeg beoordelaars het
- Reël vir genoeg toerusting
- Reël voldoende mediese personeel vir noodgevalle en ongelukke.
D-dag minus 30
- Stel die program saam. Dit bestaan uit die tyd waarop 'n deelnemer op sy perd aan 'n spesifieke item deelneem. Hierdie program word opgedateer soos die inskrywingsvorms inkom
- Reël die rosette en pryse vir aflewering op D-dag minus 7. Dis altyd moeilik om te skat hoeveel rosette jy nodig gaan hê, aangesien inskrywings nog tot 'n week voor die tyd kan inkom
- Reël die voorsiening van verversings
- Soek adverteerders op die skougronde.
D-dag minus 7
- Begin met die voorbereiding van die terrein
- Berei die toerusting voor
- Bevestig met al die beamptes en helpers
- Bevestig met die beoordelaars
- Bevestig met die mediese personeel
- Ontvang die rosette en pryse
- Werk uit hoeveel mense daar gaan wees deur die aantal ruiters met drie te vermenigvuldig
- Onthou om die beamptes, helpers en beoordelaars by te reken
- Bestel die bestanddele vir die eetgoed vir aflewering op D-dag minus 1
- Maak voorsiening vir aparte, toereikende motorparkering
- Maak voorsiening vir toereikende parkering vir die perde-sleepwaens
- Maak seker daar is genoeg waterpunte vir die perde
- Maak seker dat daar voldoende toiletgeriewe is, en dat 'n persoon aangewys is om die toilette deur die dag te diens ('n breë riglyn is een toilet vir elke 15 mense.)
D-dag minus 1
- Sorg dat al die papierwerk reg is (programme met die ruiters se tye en skedules)
- Pak al die rosette en pryse in aparte houers vir elke klas by die verskillende arenas
- Gaan haal die kosbestanddele
- Maak seker al die toerusting en apparaat is daar
- Gaan toerusting soos mikrofone, luidsprekers, tweerigtingradio's en klokkies na
- Bou die bane vir die eerste klasse
- Baken die plekke vir toeskouers, ruiters en perde af
- Maak seker dat daar genoeg asblikke oor die hele terrein versprei is.
D-dag
- Plaas al die aanwysingsbordjies op die regte plekke
- Merk die arenas duidelik
- Plak die program met rytye by die betrokke arenas op
- Sorg dat die houers met pryse by die regte arenas is
- Maak seker dat al die helpers en beamptes daar is en weet wat hulle take is
- Verwelkom die beoordelaars en stel hulle aan helpers en beamptes voor
- Maak deur die dag seker dat die beamptes en beoordelaars genoeg kos en drinkgoed kry
- Onthou om die skou amptelik te open en almal welkom te heet
- Bedank die borge gereeld vir hulle bydraes deur die loop van die dag
- Laat die borge soms pryse oorhandig
- Wees die hele tyd in kontak met al die beamptes om moontlike probleme betyds te ondervang
- Sluit die skou formeel af deur almal te bedank vir hulle teenwoordigheid, weer eens die borge te noem en almal 'n veilige terugrit toe te wens.
|